Posted on 17 November 2011

Datum: 17 November 2011
Beriggewer: Carien Pretorius

 

Johan Engelbrecht, predikant van die Baptiste gemeente,  het vir die lede van Vredendal tak met die afsluitingsvergadering vertel hoe Kersfees in Bosnië gevier word, aangesien hy daar gewerk het as sendeling.

 

Die inwoners is Serwiërs, Kroate en Moslems. Die Serwiërs is moeilike mense om mee te werk. Hul behoort hoofsaaklik aan die Ortodokse Christelike kerk. Die Serwiërs is lief vir kosmaak en lekker eet. Varkvleis en sterk gegeurde bokmelk kaas is die hoofdis. Hul is ook veral baie lief vir soet kos en koek. Daarmee drink hul ook raka, ‘n soort witblits,  wat regte medisyne is vir ‘n warm lyf en vrolikheid in die feestyd. Hoewel baie gedrink word sien jy geen dronk mens nie.

 

Die dagtemperature is minus 20 grade. Kersfees is tradisieryke gesinsfees. Brood word voor die tyd gebak met gelukbringers soos ‘n muntstuk, ‘n stukkie takkie  of ‘n stukkie varkbeen daarin. Die kersboom is ‘n droë boom waarvandaan dan takkies afgebreek en brand gesteek word. Geskenke word ook vir mekaar gegee as simbool van Christus se groot geskenk. Familiebande is baie sterk. Net die grootmense gaan gereeld kerk toe. Die jongmense gaan met geleenthede soos troues, doop of Kersfees kerk toe. Daarna het ons saam met Johan kersliedere gesing.

 

Mev Beatrice van Zyl het die vriendskapskers aangesteek en ook aan vier lede kentekens oorhandig nl. Martie van Zyl – 55 jaar, Kotie Lintveldt – 35 jaar, Anneline Beelders en Carien Nieuwoudt – 15 jaar.

 

Die oggend is afgesluit met Mariaan Burnett en kindertjies van Kinderland met “hier kom die bokke”.

 

Gesegde: geen reis is te lank in goeie geselskap nie.



Posted on 01 August 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Carien Nieuwoudt
Datum: 2 Augustus 2011

 

Lita Cole van Kamieskroon het met Vredendal tak oor die kweek en versorging van veldplante kom praat.

 

Plante kan met steggies of saad gekweek word, maar steggies is die betroubaarste want jy kan die plant kies. Saad moet geoes word so ryp as moontlik van gesonde plante en in die kleur wat verlang word. Daar is verskillende manier om saad te ontkiem. Sade met harde doppe word geskuur of in kookwater gedompel. Sade wat in die mis van diere voorkom ontkiem maklik omdat hulle reeds “verwerk” is.

 

Grond is ook belangrik waar ingeplant word. Die grond onder die rivier doringboom en in miershope is komposryke grond. Grond waarin saad of steggies geplant moet word,moet altyd klam wees.

 

Om peste en plae by plante te bestry gebruik Lita altyd ‘n chemiese middel, Sunlight Liquid. Kanker groeisels word weer met ‘n pasta van Insekdoder en Sunlight Liquid behandel. Vir plante wat se wortels afgekap word behandel sy die wonde met Blom van Swael. Om dassies van haar plante af weg te hou bespuit sy die plante met ‘n mengsel van brandrissie en Sunlight Liquid.

 

Lita maak baie gebruik van weggooi plastiekhouers en bottels om kwekelinge te beskerm en te laat groei. Vir haar etikette gebruik sy ‘n harde oppervlakte waarop die naam van die plant met ‘n skerp voorwerp (bv. Spyker) gekrap word.

 

Wanneer mens na Lita luister word jy oorweldig bewus van haar sagte spoor op ons planeet.



Posted on 15 June 2011

Portefeulje: Leefstyl
Datum: 19 Mei 2011
Beriggewer: Carien Nieuwoudt

 

Mevrou Malinda Gardiner van Vaalkrans, Lutzville het die lede van Vredendal tak geleer van bokmelkkase en hoe om dit te maak. Alles word organies gedoen. Hulle het 14 bokke wat in die oggende en aande deur hulself gemelk word. Die Saanen Switserse bok is jou beste melkbok, waarvan tot 8 liter melk per dag verkry kan word. In die somermaande is die melkproduksie die hoogste. Hulle maak self die bokmelkkase op die plaas en sy verduidelik watter toerusting jy benodig, watter bestanddele benodig word, asook stap vir stap hoe om die kaas te maak. Hul vervaardig op klein skaal kaas en daarom kan persoonlike aandag aan die bokke gegee word en ook met die maak van die kaas.

 

Geen preserveermiddels of kleurmiddels word bygevoeg nie. Bokmelkkase het ‘n laer vetinhoud as kaas van koeimelk. Die kaas bevat meer kalsium, proteïene en vitamiene B as koeimelk en is ook meer verteerbaar.

 

Die wei bly gewoonlik oor nadat die kaas gemaak word en kan gebruik word om pasta in te kook of boontjies daarin te week. Dit is ook ‘n goeie voeding vir varke en hoenders. Die lede kon na afloop van die vergadering proe aan die tuisgemaakte kaas, fetakaas en maaskaas.

 

PITKOS: Die mier is ‘n bobaas prediker, tog praat hy nie ‘n enkele woord nie.



Posted on 15 April 2011

Portefeulje: Kuns & Handvlyt
Datum: 14 April 2011
Beriggewer: Carien Nieuwoudt

 

Vredendal tak het gaan kers opsteek oor leer by Mnr Frik van Jaarsveld, woonagtig op Vanrhynsdorp. Hy vervaardig handgemaakte leerartikels en bied ook kursusse aan. Sy besigheid se naam is Leather Classics.

 

Leer word op twee maniere gelooi. Bas-gelooide leer: die proses is lank en die leer het altyd ‘n ligte kleur. Die leer is rekbaar, kan gemoduleer en gebosseer word en die mooiste artikels word daarvan gemaak. Chroom-gelooide leer: die proses is baie gouer, die leer is meer stabiel.

 

By handgemaakte leerartikels word altyd twee naalde en spesiale gare gebruik om saalsteek te werk. Die gereedskap wat die beste werk dateer uit die 17de eeu. Meneer van Jaarsveld het ook al self gereedskap ontwerp wat die maak van leerartikels vergemaklik.

 

Leer moet kan asemhaal en daarom bevel hy “neat feed oil” aan vir die versorging van leerartikels. Dit is beskikbaar by Frik of troeteldier winkels. Om jou leerbank skoon te maak is daar “saddle soap” wat met ‘n katoenlappie aangewend word in een rigting. Neoprien is die enigste gom wat op leer gebruik word.

 

Van die lede moes ook help met die sny en vaswerk van ‘n leerartikel. Die lede kon ook aan verskillende soorte leer voel en ook kyk na die gereedskap wat hy gebruik om die artikels te maak.

 

Mnr van Jaarsveld bied ook ‘n tien dae kurses aan in die maak van leerartikels.

 

PITKOS:  Lewe vir vandag, droom oor môre en leer van gister.



Posted on 17 March 2011

Tydens Vredendal tak se algemene vergadering het Sanet Ras, voorsitter, die tak gelukgewens met die mooi prestasie tydens die konferensie te Klawer. Vredendal het die tweede meeste punte gekry en het ook ses trofeë ontvang. Sy is baie trots op haar lede. Was dit nie vir hul getroue deelname aan kompetisies nie, het ons dit nie gehaal nie.

 

Kom lede bou daarop voort dat ons kyk of dit nie volgende jaar nog beter kan gaan nie.

 

Dan het sy ook van die geleentheid gebruik gemaak om dankie te sê aan die lede wat reg gestaan het met die Vrydag se middagete. Weereens was jul ‘n wenspan.

 

Beriggewer: Carien Nieuwoudt

 

 

 

 

 

 

 



Posted on 17 March 2011

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

 

Vredendal tak  - Sophie Malan het ‘n 5 minute tydgleuf tydens vergadering geneem om te praat oor die belangrikheid van biodiversiteit.

 

Die mens veroorsaak dat biodiversiteit aanhoudend verminder. Dit lei tot allerhande probleme vir die mens en dier. Biodiversiteit is uiters belangrik vir die landbou. ‘n Biodiverse omgewing bewaar die produktiewe gene.

 

Ons kan ‘n klein bydrae maak om biodiversiteit te bevorder deur ‘n verskeidenheid plante in ons tuine te plant, nie gifstowwe te gebruik nie, ons eie kompos te maak en vrede te maak met die goggatjies en geitjies in ons tuine. En as paddas hulleself in jou tuin tuis maak mag jy ekstra trots voel: dit beteken dat jou tuin ekologies gesond is.

 

Die volgende boeke is uitgestal: A Sense of Space – Jan Blok, The Global Casno – Nick Middleton en Flora Mira-Bills – National Geographic.

 

 

 



Posted on 17 March 2011

Portefeulje: Gesondheid

 

Mev Tina Strauss ‘n skoonheidsterapeut van Vredendal het die lede kom bewus maak van hoe belangrik velsorg is. Sy het die program begin deur ‘n buisie handeroom tussen die lede deur te stuur. Haar opdrag was dat elke lid die persoon aan haar regterkant se hande met ‘n bietjie room masseer. Emosioneel voel jy beter en lyk jy beter as jou vel versorg is.

 

Om te weet watter tipe vel jy het, is ‘n velanalise by ‘n skoonheidsterapeut belangrik. Keuse van ‘n velsorgproduk – koop iets wat jou sak sal pas, eerder as niks. Daaglikse versorging van jou vel is belangrik. SONSKERM is baie belangrik vir die vel. Vitamienaanvullings soos Omega 3&6, Vit A, C, E, F en K kan geneem word.

 

Versorg jou vel, jy het net een vel, spandeer tyd aan jou vel.

 

Beriggewer: Pat de Waal

 

 

 



Posted on 05 March 2011

Datum:  !7 Februarie 2011
Beriggewer: Carien Nieuwoudt

 

Op Donderdag 17 Februarie 2011 het Mev. Marlize Roux van MMR Dienste kom praat oor Finansiële Beplanning vir die Huisvrou en Huishulpe.

 

Elke vrou van vandag het die verantwoordelikheid om ‘n ondersteunende rol met finansies te vertolk:
1. Die ROL in die familie NOU.
2. Die ROL vir jouself in die TOEKOMS
3. Die ROL as werkgewer met jou HUISHULP

 

Sy het dit op die hart gedruk dat die dae toe Finansiële Beplanning net aan die man oorgelaat is, verby is.

 

Wat kan ons as vrouens doen om te verseker daar sal genoeg geld wees vir die aftreedag? Sorg dat jou man nie te vroeg ophou met werk nie. Moedig hom aan om solank as moontlik te werk. Die lewensverwagting van mans en vrouens het met 10 jaar toegeneem.

 

Hoe kan ons, ons huishulpe help met beplanning vir die dag wat hulle nie meer kan werk nie? Daar is verskeie opsies soos om ‘n bekostigbare pensioenfonds en begrafnispolis vir hul uit te neem. Om haar te leer om eers te spaar voor sy iets wil koop.

 

Marlize sluit af deur te vra of jy gesien kan word as ‘n PROVERB 31 WOMAN?

 

Gedagtes deur Marlize wat elke vrou moet weet oor haar finansies uit die boekie “365 dinge wat elke vrou moet weet”:
• Vergelyk pryse wanneer jy koop.
• Onthou goedkoop koop is dikwels duurkoop.
• Grootmaat koop is gewoonlik goedkoper as om bietjie-bietjie by ‘n kafee te koop.
• Die tyd om jou oor geld te bekommer is voor jy dit begin uitgee.
• Beplan deeglik vir die toekoms, anders hou jy dalk langer as jou geld.
• Die geheim van finansiële vryheid lê nie in hoeveel jy verdien, maar eerder hoe min jy uitgee.
• Sorg dat jou inkomste bepaal hoeveel jy koop en nie jou begeertes nie.
• Verdien wat jy kan, spaar wat jy kan, gee wat jy kan.

 


‘n Interessante uitstalling van  opvoedkundige speelgoed deur Anneline Beelders het groot aandag geniet. Die speelgoed was beskikbaar gestel deur remediërende terapeute Sandra Fouche en Karin Gouws.


 

Voorsitter Sanet Ras oorhandig aan Mev. Sibs Vorster haar 55jaar kenteken. Mev. Vorster het baie beoordeling gedoen en is vandag nog ‘n ou staatmaker vir ons VLV.

 

 

 

Sanet Ras, Imelda Wessels en Marlize Roux.

 

 

 



Posted on 02 February 2011

Die eerste VLV van Vredendal is begin met ‘n heerlike Vrugtefees in die tuin van Carien Nieuwoudt.

 

Sanet Ras open die vergadering deur uit die LIG “die laaste sê” deur Jeanne Els te lees. Vriendskap. ‘n Vriend kyk nie weg van foute nie, maar hy veroordeel jou ook nie wanneer jy ‘n verkeerde tree gee nie.

 

Vir die program van die oggend moes elke bestuurslid ‘n 5 minute pitkos lewer.


Pat de Waal van Gesondheid: Ons liggame bestaan uit ongeveer 50-70% water. Watter kossoorte bevat die meeste water? BLAARSLAAI bevat die meeste, 95% water. Ons voorneme vir 2011 – drink baie meer WATER.

 

Carien Nieuwoudt, Openbare Sake: Mev Veldsman praat oor herwinning. Hergebruik huishoudelike en nywerheidsafval soos plastiek en papierprodukte. Dit is belangrik om ons kinders te leer om groen ambassadeurs te wees. In Vredendal kan Mnr Christo Veldsman by 0832089345 gekontak word en hulle is bereid om enige herwinbare produkte te kom optel.

 

Anneline Beelders, Opvoeding en Kultuur: Anneline het ‘n wye verskeidenheid boeke uitgestal en ook van ‘n interessante webwerf vir ons vertel oor waar jy pitkos kan kry nl. www.pitkos.co.za

 

Dirkie de Jongh, Leefstyl:  Die vrou moet altyd stylvol wees in haar voorkoms, optrede, wat sy sê en uitstraal. Sy moet op hoogte wees met alles wat die nuutste tegnologie vir die vrou in die samelewing, vir naaldwerk, tuisteskepping en voedsel bied.

 

Nonnie van Wyk, Kunste en Handvlyt: Sy vertel vir ons meer van die teesakkie-vou, ‘n Hollandse papiervoukuns. Gebruik skakerings van papier met verskillende ontwerpe. Dit kan op kaartjies gebruik word en selfs lampskerms kan daarvan gemaak word.

 

Mev Rita Burger stel ook die leeskring van die dorp aan die VLV bekend. Elke eerste Woensdag van die maand is daar ‘n samekoms in die middag. Sy sal ‘n program saambring na die volgende vergadering en nooi almal uit om dit te kom bywoon.

 

Ter afsluiting die volgende: “Diens aan God beteken dat ons gewillig is om die kleinste klein dingetjies vir Hom te doen, of die groot dinge. Dit maak geen verskil nie. Deel jou opinies met ander. Dit is goed om jouself te hoor praat.

 

Beriggewer: Carien Nieuwoudt

 

 

 

 

 

 

 

INLAS: Sophie Malan - Landbou en Tuinbou.

AGTER: Elmarie Fouche - Sekretaresse, Pat de Waal - Gesondheid, Dirkie de Jongh - Leefstyl.

VOOR: Aletta Nel - Tesourier, Anneline Beelders - Opvoeding en Kultuur, Nonnie van Wyk - Kunste en Handvlyf, Sanet Ras - Voorsitter, Carien Nieuwoudt - Openbare Sake

 



Posted on 19 December 2010

Op Donderdag 18 November 2010 het Vredendal hul tak se tagtigste verjaarsdag gevier. 

 

Die Lyndans groepie onder leiding van Mev. Eileen van Dyk was ‘n fees om na te kyk. Dit het soms gevoel of ons ook kan opspring en saam dans en nie net tone te sit en tik op die maat van musiek nie. 

 

Mev. Sanet Ras voorsitter van die tak het ook by die geleentheid kentekens aan die volgende lede oorhandig:  10 jaar:  Dirkie de Jongh, Vilene de Kock en ons sekretaresse Elmarie Fouche    20 jaar:  Lettie Botha en dan was dit ook die voorreg van ons voorsitter Sanet Ras om aan haar moeder Mev. Suzaan de Wet wat al 89 jaar is en nog gereeld aan kompetisies deelneem, haar kenteken te oorhandig. 

 

Daarna het Mariana Pretorius eers vir ons twee pragtig liedere gesing sodat die emosies onder beheer kon kom.  25 jaar:  Ook vir ons sekretaresse Elmarie Fouche  was dit ‘n groot voorreg om ook aan haar moeder Mev. Johanna de Beer haar kenteken te oorhandig. Pat de Waal en Mariaan Stoumann het ook hul kentekens ontvang.  35 jaar:  Kotie Lintveldt en Sophia van Schalkwyk   55 jaar:  Dr. Anna Louw een van ons erelede.  Haar leuse is dat sy nog nooit ‘n vergadering bygewoon het waar sy nie iets uit geleer het nie. 

 

Mev. Rita Eitner het vir ons afgesluit met ‘n humoristiese voorlesing “So is ons – of hoe”.  Daarna het Elmarie Fouche net al die bedankings gedoen en het Mev. Sanet Ras ‘n tafelgebed gedoen.  Na die verrigtinge van die dag kom ons ‘n heerlike laat ontbyt geniet wat deur die bestuur en lede voorberei is en is daar heerlik saam gekuier.

 

Dankie aan elke lid wat van Vredendal VLV ‘n sukses maak. Wat dit ook al is dit is voorwaar ‘n wenresep.

 

Beriggewer: Carien Nieuwoudt

 

 

 

 

 

 

 

Categories