Posted on 26 January 2012

Sirkel: Kalahari
Tak: Vryburg
Beriggewer: Nellie Viljoen
Datum:  24 Januarie 2012
Studierigting: Opvoeding

 

Leandri Pienaar spreek die tak toe oor ouerskapstyle en hoe dit kinders kan beïnvloed.

 

1. Outokratiese opvoedingstyl
Hierdie ouers neem alle besluite namens die kind wat alle reëls blindelings moet nakom. Die kind word nie toegelaat om negatiewe emosies te openbaar nie, dit word gekritiseer of gestraf. Dit laat kinders minderwaardig voel en lei dikwels tot rebellie in die tienerjare.

 

2. Permissiewe opvoedingstyl
Ouers glo dat reëls en struktuur die kind se persoonlikheidsontwikkeling kan skaad. Die kind word vryhede toegelaat sonder om verantwoordelikheid te aanvaar. Ouers gebruik onderhandeling of omkopery i.p.v. dissipline. Die kinders is gewoonlik selfsugtig en respekteer niks en niemand.

 

3. Emosionele mentorskap opvoedingstyl
Ouers bied kinders die geleentheid om keuses te maak en verantwoordelikheid te aanvaar. Duidelike grense vir toelaatbare gedrag en gevolge van ontoepaslike gedrag word aan die kind gestel. Die kinders het genoeg selfvertroue en ‘n sterk selfbeeld. Ouers moet reageer op die kind se vrae, sy privaatheid en menswaardigheid respekteer.
Probleme ontstaan gewoonlik a.g.v. die opvoedingstyl wat toegepas word.
Erken die foute en kry kundige raad. Pas dit toe met liefde en dissipline.

 

Leandri het haar opleiding in psigologiese opvoedkunde ontvang en bied remediërende klasse vir kinders aan.

 

Nellie Viljoen demonstreer verskillende tegnieke om papier te maak deur afvalpapier te herwin. Week papiersnippers oornag en verpulp. Uie-, tee- en roosblare, gras- en afrikanersade en materiaalrafels kan gebruik word om verskillende effekte te verkry. Vir tekstuur kan papier op skadunet, goiing of growwe materiaal gedroog word.

 

 

Hester Pretorius, koördineerder van die vergadering, en Leandri Pienaar.

 

 

Nellie Viljoen.



Posted on 17 November 2011

Beriggewer: Nellie Viljoen
Datum: 15 November 2011

 

Vryburg VLV het die jaar gesellig afgesluit by Klondike Lodge, net buite Vryburg. Dit was ook tyd vir die jaarlikse prysuitdeling en die Doris Linde-trofee is toegeken aan Marthie Grobler vir uitmuntende prestasie en diens aan die VLV.

 

Sy het tydens die Kaaplandse kongres ‘n eerste plek verower met haar blommering en lewer reeds vir drie dekades ‘n groot bydrae op die gebied van blommekuns deur haar kennis aan die jonger garde oor te dra. Retha Bouwer het die trofee vir blomme beginners ontvang en Nellie Viljoen was die wenner van kookkuns, handwerk en kunsvlyt.

 

 

Ora Jordaan, Rina Jacobs, Memory Scholtz en voor Daline Geere, Arine Bosch en Soekie le Roux.

 

 

Carien-Mari Brink, Hester Pretorius,  Retha Bouwer en voor Trudie Kok, Esta Twigge en Gezina Bruwer.

 

 

Annelize Marx, Nellie Viljoen, Rhodi te Baerts en voor Rika Swart, Magda van Rensburg en Annatjie Botha.

 

 

Annatjie Coetzee, Estelle Linde, Cecile Brink en voor Marthie Grobler, Manda Schoon en Trudie van Zyl.



Posted on 23 October 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Nellie Viljoen
Datum: 18 Oktober 2011

 

Produksies van die Aardklop kunstefees was onder bespreking tydens Vryburg VLV se vergadering. Hester Pretorius en Lorraine Bruwer het hul ervaringe met lede gedeel.

 

Die vertonings wat baie byval gevind het, was Marion Holm in holm@iafrica deur Chris Vorster met stories wat jou laat lag en laat dink en as jy mooi luister, is daar nog ‘n storie agter die storie.

 

Mooi Maria deur Pieter Fourie, die verhaal van ‘n meisie wat mooi was tot die noodlot toegeslaan het, met Isadora Verwey en Neels van Jaarsveld. Mooi Maria is diep ontroerend, maar tipies van Fourie se dramas wissel hy die dramatiese af met komiese oomblikke en getuig sy karakters van ‘n eg menslikheid.

 

Nag, Ma met Sandra Prinsloo en Antoinette Louw hanteer die konflik tussen ma en dogter. Beleef van die mees uitsonderlike ervarings in eietydse teater saam met Jessie, in ‘n verskerpte gemoed van selfmoordeuforie, en haar ma wat veg vir haar dogter se lewe.

 

Janneman met Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel en Hanna Borthwick was ‘n ernstige drama oor die swaar en lekker van die mens se lewe. Dié rolverdeling waarvan ‘n mens net kan droom, vat ons saam op reis deur die lewe van die drie geslagte vroue wat elk besig is om ‘n krisisjaar te trotseer.

 

‘n Aangrypende drama gegrond op die ware verhaal van Ellen Pakkies: ‘n oënskynlik doodgewone vrou van die arm woonbuurt Lavender Hill buite Kaapstad, wat haar seun Adam, ‘n tikverslaafde, vermoor het. Ellen Pakkies is vertolk deur Vinette Ebrahim met Maurice Paige as Adam.

 

Vaselientjie, die verhaal van haar kinderhuislewe met gomgatte, emosionele verwaarlosing, prostitusie, verkragting, dwelms en bendegeweld, is ook deurtrek van menslike humor, romanse en opregte liefde. Vaselinetjie is vertolk deur Andrea Streso, Theodore Jantjies  as die oupa, Ingrid Paulus was ouma.

 

Nataniël se Weeksaand Las Vegas was ‘n bewys van sy sangtalent maar was baie kru vir die meeste in die gehoor.

 

 

Daline Geere, Esta Twigge, Hester Pretorius en Liselet Jacobs was betrokke by die aanbieding van die vergadering.



Posted on 21 September 2011

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Nellie Viljoen
Datum: 20 September 2011

 

Met die oog op gehoorsorgmaand het Vryburg VLV besoek ontvang van Salomé Seyffert, oudioloog wat in Vryburg, Hartwater en Kuruman werksaam is. Gehoor is belangrik in die ontwikkeling van kommunikasie, daarom behoort babas se gehoor getoets te word. Gehoorverlies kan oorkom word met gehoorapparaat of kogulêre inplantings. Kinders met gehoorprobleme se skolastiese prestasies kan verbeter word met gehoorapparaat. Gehoorapparaat kan sekere frekwensies uitskakel, wat beter konsentrasie by kinders met aandagafleibare gebreke tot gevolg het. Volwassenes wat soms nie gesprekke in lawaaierige omgewings kan volg nie, behoort hul gehoor te laat toets.

 

Langdurige blootstelling aan hoë klanke kan die gehoor beskadig. Tinnitus of suising kan  geneties of deur oorontsteking, medikasie of vreemde voorwerpe in die oor veroorsaak word.

 

Tegnologie het sodanig verbeter dat gehoorapparaat geprogrameer kan word om by elke persoon se leefstyl te pas en nuwe apparaat is baie onopsigtelik.

 

Lorraine Bruwer het ‘n appelskiller demonstreer en Gezina Bruwer het die geheime van aartappelsuurdeeg met lede gedeel.

 

 

Lorraine Bruwer en Salomé Seyffert.

 

 

Eurika, Biffie, Lorraine en Gezina was verantwoordelik vir die vergadering.



Posted on 24 August 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Nellie Viljoen

Datum: 23 Augustus 2011

 

Magda Jacobs, ‘n leerspesialis,het Vryburg VLV besoek en elke lid het die geleentheid gekry om met behulp van ‘n vraelys haar persoonlikheid te ontleed. Hierdie kennis kan elkeen help om haarself, maar ook haar gesinslede en vriende beter te verstaan.

 

Die sanguiniese persoon het ‘n magnetiese persoonlikheid en hou daarvan om die middelpunt van belangstelling te wees, terwyl  die choleriese persoon soms impulsiewe besluite maak, maar vinnig en doeltreffend werk. Melankoliese persone werk volgens ‘n skedule en is netjies en perfek, daarteen is flegmatiese persone kalm en rustig en laat eerder ander toe om besluite te neem.

 

Onder leiding van Hester Pretorius het elke lid die geleentheid gekry om ‘n klein mosaïekartikel te maak om huis toe te neem.

 

 

Hester Pretorius (voorsitter) en Magda Jacobs (spreker).

 

 

Arine Bosch en Ora Jordaan aan die werk.

 

 

Cecile Brink en Memory Scholtz konsentreer op hul mosaïek.

 

 

Caroline Engelbrecht (nuwe lid) en Hannetjie Engelbrecht (besoeker van Tosca tak).



Posted on 19 July 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Nellie Viljoen
Datum:19 Julie 2011

  

Die tema van die vergadering was kruie en speserye. Eurika Byleveld demonstreer hoe om 'n topiary (vormboompie) te maak van verskillende soorte speserye. Sy het verskillende kruie en speserye met medisinale gebruike uitgestal, soos naeltjies vir tandpyn, kaneel wat 'n kalmerende invloed het, rissies wat die bloedsomloop verbeter. Aangesien speserye gou hul geur verloor, is dit beter om vars produkte soos koljander te skroei en te maal vir eie gebruik.

 

Inmaak van rissies: Verhit 2,5 kg suiker, 2,5 liter druiweasyn en 250 ml heuning stadig tot suiker oplos. Laat vinnig opkook en voeg bewerkte rissies by. Kook 5 min. en bottel in warm gesteriliseerde flesse. Gebruik altyd handskoene wanneer rissies bewerk word.

 

Soekie le Roux het die versiering van artikels met servette en modge podge demonstreer.

 

 

 

 

Eurika Byleveld (spreker).

 

 

 

Ena, Eurika, Elsa, Soekie, Ora, Memory en Annatjie was betrokke by die aanbieding van die vergadering.

 

 

 

 

 

Ora Jordaan en Hester Pretorius by van die blokke wat Sirkel Kalahari gebrei het vir Kansa.



Posted on 30 June 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Nellie Viljoen

 

Met die oog op al die take wat in die winter op die tuinier wag, het Vryburg VLV ‘n insiggewende demonstrasie oor die snoei van rose gehad.

 

Ricus Meintjes van ‘n plaaslike kwekery het sommer baie ander wenke vir die tuinier gehad oor korrekte voeding vir plante, bekamping van peste en plae en hoe om kompos op klein skaal te maak. Groot welslae kan met groente behaal word deur volgens die stand van die maan te plant.

 

Eurika Byleveld het demonstreer hoe om ‘n kombersie te maak van twee stukke poolvliesstof.

 

 

Ricus Meintjes en Rika Swart, koördineerder van die vergadering.



Posted on 30 May 2011

Tema: Welwillendheid

 

Vryburg VLV het op 24 Mei hul jaarlikse besoek aan Rusoord Ouetehuis gebring en die inwoners bederf met tuisgemaakte eetgoed.

 

Elke inwoner wat gedurende die maand verjaar, het 'n pakkie met koekies, beskuit en droë wors gekry.

 

Na die tee het almal gesellig saam gekuier en gesels oor die goeie ou dae.

 

Beriggewer: Nellie Viljoen

 

 

Daline Geere, Soekie le Roux, Nellie Viljoen en Esta Twigge was die lede wat saam gekuier het.

 

 

Nellie saam met Mevv. Ria Pelser, Wessie Erasmus en Katy Pieterse. Besse Hartley, Welma du Plessis en Oom Soon Steyn was ongelukkig nie beskikbaar vir die foto nie.



Posted on 20 May 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Nellie Viljoen

 

Vryburg VLV het indringend gesels oor die belangrikheid van finansiële beplanning vir die vrou. Nollie van Rensburg, ‘n finansiële beplanner, het beklemtoon dat vroue se lewensverwagting soveel langer is as dié van mans; daarom moet hul voorsiening daarvoor maak dat hulle vir hulself kan sorg as hulle ouer word. Tussen die ouderdomme 25-44 is die hoogste sterfsyfer as gevolg van ongelukke, siekte en misdaad. Ongeskiktheid maak dit onmoontlik om vir jouself te sorg en dikwels lei dit ook tot verbrokkeling van ‘n verhouding of huwelik.

 

Tydens dié vergadering het die tak ook ‘n publikasie ‘Wenke wat werk’  bekend gestel. Dit bevat meer as 450 wenke waarmee die huisvrou geld kan bespaar of probleme oplos.

 

 

Nollie van Rensburg en Marthie Grobler, aanbieder van die vergadering.

 

 

Nellie Viljoen, samesteller van die publikasie, en Carien-Mari Brink, visevoorsitter.



Posted on 20 April 2011

Portefeulje: Leefstyl

 

Vryburg VLV het met verskillende aspekte van leefstyl kennis gemaak tydens 'n vergadering.

Esta Twigge gee wenke vir die gebruik van filodeeg en demonstreer verskillende metodes om dit te vorm.

Cindy Shipman het die voor- en nadele van verskillende velbehandelings bespreek.

Trudie Kok demonstreer hoe was- of vetkryt met 'n warm strykyster omskep kan word om vir kaartjies of scrapbooking te gebruik.

 

Beriggewer: Nellie Viljoen

 

Esta Twigge, Cindy Shipman en Trudie Kok.

 

Categories