Posted on
19 September 2011
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Elsabe Schlechter
Met Welgemoed tak se laaste vergadering op 13 September het al die dames flink gewerk om "items" te maak vir die Konferensie in 2012, wanneer Welgemoed die gasvrou-tak is.
Die vergadering is gewy aan wyle Ema Strydom. Ema het voor haar afsterwe alles in detail gereël vir die vergadering, tot die toebroodjietafel waar die dames heel oggend kon smul terwyl hulle gewerk het.




Posted on
16 August 2011
Ema Strydom
20-06-1939 – 09-08-2011
Ons is baie hartseer om totsiens te se aan een van ons lede Ema Strydom. Sy is oorlede op Vrouedag 9 Augustus. Ema was vir die afgelope 8 jaar lid by Welgemoed waar sy gedien het as die Sirkel Sameroepster en Tak Sameroepster vir Openbare Sake.
Sy was in die proses om Bloemfontein toe te verhuis en het teruggekom om 'n operasie te ondergaan.
Alles wat Ema aangepak het, het sy met oorgawe gedoen en sy was bekend vir die feit dat sy feesmaaltye kon voorsit. Sy was ook die voorsitster van die Senior Groep van die NG Kerk Welgemoed.
Ons sal haar onthou as 'n hardwerkende, ywerige en baie liefdevolle omgee-persoon.

Posted on
02 August 2011
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Elsabe Schlechter
By Welgemoed is ons vanoggend besoek deur Dr Carl Albrecht, Hoof van Navorsing by KANSA. Sy navorsing is gedrewe om kanker te voorkom. Hy het ons vertel hoe ons deur middel van lewensstyl, keuse van kosvoorbereidingsmetodes en deur so ver moontlik weg te beweeg van items wat chemiese stowwe afgee, kanker kan voorkom.
Verder het Karien van Rensburg (Rabe) ons vertel van die drie moenies en drie moets in ons dieet om so die verouderingsproses van ons liggame te vertraag.
Die dames het almal heerlike saam gekuier en ons is dankbaar vir die gaste wat ons besoek het.


Posted on
07 July 2011
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Elsabe Schlechter
Wanda Cronjé het gesels oor "Umami" by Welgemoed tak se vergadering op 14 Junie 2011.
Wanda is 'n chef wat al vir bekendes soos Patrick Swayze en Marius Weyers kos voorberei het en het op 'n baie interessante manier vertel hoe jy besluit watter wyn om voor te sit by watter dis.
Daar is geen “magic” daarin om kos en wyn bymekaar te laat pas nie. Al wat nodig is, is om die basiese beginsels te ken en dan te besluit watter geure is dié wat jy wil beklemtoon. Dis belangrik om te weet van die 5 - ja 5! smaaksensasies; soet, sout, suur, bitter en umami (soet-sout) en hierdie dan op te weeg teen die volgende:
- Gewig: gevoel van die kos/wyn in jou mond, met ander woorde hoe swaar lê dit op my tong.
- Intensiteit van geur: hoe sterk is die geure in die kos/wyn. Jy moet gelykes bymekaar sit, die arme ligte Sauvignon Blanc gaan nie staande bly teen die geurige spaghetti bolognaise wat vir 4 ure gekook het nie.
- Suur: amper soos intensiteit, wanneer die suur hoog is in die wyn, gebruik sagter, effens soeter geure in jou kos en andersom.
- Soet: besluit of jy die soet wil komplimenteer of dit minder wil maak. Om te komplimenteer, soos bv. ‘n malvapoeding, drink ‘n soete, soos ‘n tawny port. Indien jy die kontras wil beklemtoon, bv. goeie donker sjokolade, dan is ‘n ligter rooi, bv. Pinotage, die regte keuse.
- Bitter: pasop hier vir die rooies, onthou daar’s tannien! Hou liewer by die wit wyne, veral by die sagte wit kase met die wit kantjies, hierdie vra vir goeie wit wyn met baie vrug, soos gehoute Chenin blanc,Viognier of selfs Semillon.
- Tekstuur: weer is die tannien die doring in die vlees, want dit verander veral vleisdisse wat tamatie bevat se tekstuur, hou liewer by die vrugtige rooi, bv. Shiraz, of ‘n oue as daar een in die kas is.
- Tannien: eintlik klaar oor die enetjie gepraat, maar hou in gedagte dat die jonger wyne gewoonlik baie tannien bevat en dus saam met iets geëet moet word wat effense rokerige geure het, bv. braaivleis…ons is mos darem trots Suid-Afrikaans,so haal maar die Pinotage uit.



Posted on
16 May 2011
Portefeulje: Kuns & Handvlyt
Die bekroonde skrywer, André le Roux, het op 10 Mei met Welgemoed tak se lede gesels oor die liefde en sy nuutste boek.
André le Roux is geruime tyd al lid van die vrouetydskrif Sarie se redaksie. Hy is tans eindredakteur. André is ’n gereelde rubriekskrywer, met sy gewilde rubriek Op die vrou af (2003) wat al gebundel is. Sy vorige rubrieke wat in Beeld en Sarie verskyn het, is ook gebundel onder die titels Nou ja toe (2001) en Op die man af (2000).
Op die vrou af, sy rubriek in die Sarie, word in 2004 ’n volwaardige opvoering met Sarah Theron en Pedro Kruger en Hennie van Greunen as regisseur.
Hy is in 2006 aangewys as Media24 se Beste Rubriekskrywer, Media24 se Joernalis van die Jaar en die streekwenner van Vodacom se Joernalis van die Jaar.
Die tema van die oggend was die vier seisoene. Heerlike warm sop is bedien vir die Winter, quiche om Herfs te gedenk, pragtige koekies vir die Lente en vrugtestokkies gedagtig aan die Somer. Dit was 'n heerlike gesellige oggend en almal het dit terdeë geniet. Nuwe Sirkelpresident, Caro Ekermans, het ook die geleentheid meegemaak.




Posted on
12 April 2011
Welgemoed tak het vir Barry Blomkamp en sy gidshond, Vixen, as spreker gehad. Barry het vertel van die lewe van 'n blinde en hoe gidshonde opgelei word.

Die lede het lekker gesmul aan 'n verskeidenheid versnaperings en tee. Ons tema vir die jaar is Vroue met harte en verskeie handgemaakte artikels is aangebied by die marktafel.
Beriggewer: Elsabé Schlechter



Posted on
11 March 2011
Welgemoed tak se projek vir die jaar is vroue met harte en lede het verskeie artikels gemaak en by die marktafel verkoop.
Skilder, Johan Coetzee, het 'n baie interessante praatjie gelewer oor kuns - die waardes, hoe om te besluit wat om te koop, kunsmediums en 'n aantal skilderye ten toon ge stel.
Die dames het oor heerlik gesmul aan gevulde pannekoeke.



Posted on
25 February 2011
Welgemoed se eerste vergadering van die jaar was op 8 Februarie.
Ons projek vir die jaar is "Vroue met Harte".
Die lede het heerlik saam gekuier en daarna het Dirk van Schalkwyk, Taalkundige, ons laat skaterlag met sy vertellinge.
Beriggewer: Elsabe Schlechter




Posted on
04 November 2010
Posted on
31 October 2010
Klerasie is bymekaar gemaak en geskenk aan die Alta du Toit Sentrum, 'n sentrum vir geestelik gestremdes.
Die inwoners, wie se ouderdomme wissel van jong volwassenes tot bejaardes, en ook die nie-inwoners doen ‘n verskeidenheid van werke by die Sentrum. Daar word houtwerk, handwerk, weefwerk en verpakking van
verskeie produkte soos kryte, wasgoedpennetjies, verf ens. gedoen.
Daar is 'n voortdurende behoefte vir klerasie, toiletware en lekkergoed vir die mense wat daar versorg word.
Die dames wat die klerasie in ontvangs geneem het is Marina van der Meulen en Elsa Uys.
Beriggewer: Elsabé Schlechter


