Posted on 19 November 2011

Beriggewer: Petro Greeff


Met baie fyn beplanning was ons tak se afsluiting ‘n ware fees vir die oog, hart en verstand. Elke portefeuljeleidster het haar eie tafel se versiering gedoen; daar was kersfeesballe, boompies van vere gemaak, engele wat net-net wou wegvlieg (ek is seker hulle wou nie regtig vlieg nie, hulle wou ons geselskap geniet), klein kersboompies en so baie ander wonderlike mooi en blink versierings. Die verversingstafel het die smaaklikste eetgoed gehad wat elke fynproewer se smaak bevredig het.

 

Sharon Wilson was ons gasspreker, sy is ‘n krale-entoesias, eintlik moet ek sê ‘n krale-verslaafde! Sy het vir ons krale se geskiedenis vertel;  krale is sekerlik van die oudste versierings wat die mens begin maak het.  Die Engelse woord bead kom van die Ou Engelse bede  wat gebed beteken. Gebedskrale word al eeue lank in verskeie godsdienstradisies gebruik. Die vroegste krale is van tande of bene van diere gemaak en as hangertjies gebruik. In die tyd van slawehandel, is slawe soms vir ‘n sakkie krale verruil!  Om krale se geskiedenis hier kortliks op te som, is onmoontlik, dit is ‘n lang en kleurryke geskiedenis. 

 

Marina Hancke het vir ons vertel van haar parfuum, voorwaar ‘n lekkerruik-besigheid waarvan ons vroue nooit genoeg kan kry nie. Sy sê ons moet nooit parfuum op ons klere spuit nie, saam met ons liggaamsreuke en sweet vorm dit nie ‘n goeie kombinasie nie. Parfuum op die nek is ook taboe veral vir ouer vroue, dit kan vlekke veroorsaak. 

 

Juanita Qunot-Loubser het haar baie entoesiasties vertel van haar Tupperware wat sy verkoop. Sy is een van ons jong en nuwe lede wat vol energie is en ook bydraes lewer tot ons marktafel. 

 

So ampertjies vergeet ek van die kleine kindertjies wat vir ons kom sing het! Stroopsoet het hulle op die verhoog gestaan terwyl ds. Nortier met skriflesing en gebed geopen het en daarna met die mooiste, sagste engelstemme vir ons Kersfeesliedjies gesing. Die blink van die versierings het in ons oë weerkaats, want ai, watter vrou kan dan nou onaangeraak bly met soveel mooi om haar?

 

 

Anna Cillie, Ansie Louw en Alta van der Westhuisen het diensknopies ontvang.

 

 

Marina Hancke, Juanita Loubser en Sharon Wilson.



Posted on 05 November 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt

Beriggewer: Petro Greeff

 

Wellington se VLV dames het 'n besonderse Oktobervergadering gehad met ‘n uitstappie na La Motte in Franschhoek.

 

Ons het met ons privaat limousines vrolik en geselsend deur die pragtige omgewing na die wonderlike mooi dorpie gery en amper te gou was ons daar. Toe ons eers daar aankom, wou ons rooi lippe net oophang van verwondering. Die tuine is tot in die fynste besonderheid versorg, selfs die blare wat val weet presies waar om te gaan lê!  Die geboue word so skoon en netjies gehou, dis iets om van te droom.

 

Ingrid het ons meer vertel van Dr Anton Rupert en sy vrou se werk om ons Suid-Afrikaanse skilder Pierneef se skilderye te bewaar. Daar is ook 'n baie interessante storie soos dit met baie kunstenaars se lewe maar is. Pierneef het net een dogter Marita en sy het na Engeland ge-emigreer tot haar pa se groot hartseer. Sy het net een seun wat 'n wêreld swerfling is en glad nie belangstel in sy oupa se kunswerke nie. Tot Marita se groot vreugde het die Ruperts besluit om dit aan te koop en te bewaar vir ons land.  Voorwaar 'n uitstekende gedagte gewees, ons eie kuns op ons eie grond!

 

Daar is 43 kunswerke van Pierneef (1856 - 1957) in die galery. Sommige sketse wat hy vir sy dogter gemaak het, ander weer wat tot die hart van elke ander mens spreek. Daar is net 4 werke wat oorsee gemaak is tussen al die ander wat plaaslik gedoen is. Pierneef se oorspronklike esel en 'n pot met sy verfkwaste is deel van die uitstalling.

 

Toe vir die groot lekkerte, ons gaan eet in die Pierneef  à La Motte Restaurant. Ja, heerlike kunswerk-kos op 'n stoep met reuse vensters wat vir ons die illusie gee dat ons buite in die tuin sit.  Die kelners loop op sagte skoene, verskyn soos vlinders met tee- en koffiepotte EN heerlike warm melk vir die wat dit verkies. Saggies word ons 'n keuse gebied vir nagereg, ons kan kies tussen gebakte kaaskoek en appeltert met neute.  Ai, hoekom kan ek net èèn kry? Voor die nagereg kry ons elkeen ons eie quiche met 'n klein bakkie vars slaai. Natuurlik lyk dit soos 'n stukkie kunswerk. Ek wonder net wat my ma sou gesê het van die plankie waarop dit bedien word, maar ek is seker sy sou dit met styl aanvaar het net soos ons het, so asof ons elke dag op 'n plank by die huis eet!!

 

En hoe anders kan ons die dag afsluit as met 'n besoek aan die winkeltjie net langs die restaurant? Daar is outydse geskenkkaartjies, resepteboeke, voorskote, brode, koekies en nog 'n duisternis ander produkte wat roep om gekoop te word. Toe moes ons, ons losskeur van die mooi plek om weer huiswaarts te keer. Vol
magies en vol mooi goed in ons gedagtes waarop ons nog lank sal teer.



Posted on 29 September 2011

Portefeulje : Opvoeding
Beriggewer: Petro Greeff


Dier lede van Wellington tak het die besondere voorreg gehad om dr. Adrie as gas te kon ontvang. Nee, niemand was siek nie, sy het ons ook nie ondersoek nie, maar  ons het almal die spesiale dokter se volle aandag vir nagenoeg 40 minute gehad sonder om eens ‘n knoop los te maak. Sy is nie ‘n gewone dokter nie, maar ‘n hart- en kopdokter vir die Huisgenoot se pyn- en vraerubriek. Sy het ons eers aan die giggel gekry, later het ons behoorlik geskater, maar teen die einde het ons so stilweg ons trane weggevee. 

 

Dr. Adrie behartig die rubriek al die afgelope tien jaar en kry weekliks 100 tot 120 briewe. Sy lees elke liewe brief en daarna word dit verbrand. Die tydskrif stuur die briewe in drie of vier groot koeverte vir haar en dis nét sy wat toegang daartoe het. Sy antwoord 4 briewe per eksemplaar en geniet dit om met ‘n tikkie sarkasme en soms sardoniese manier die antwoorde te gee, sy maak geen persoonlike kontak met die skrywers nie en het al selfs al ‘n paar huweliksaansoeke gekry. Sy probeer ook om menslike en praktiese atwoorde te gee omdat sy groot empatie vir die mens en sy probleme het.

 

In die tien jaar sedert sy die rubriek behartig, het sy nog net twee briewe gekry wat die gek geskeer het, maar wat sy sommer gou uitgeruik het. Nie alle briewe se vrae handel oor hartseer en ellende nie, daar kom ook baie mooi stories by haar uit. Wat ons egter deeglik besef het, sy duld nie dat daar met vroue gemors word nie, dit laat haar bloed behoorlik kook! Sy het afgesluit met vertelling van ‘n brief wat deur ‘n bejaarde geskryf is. Hy het vir die dame van sy hart ‘n mooi briefie geskryf en ‘n bossie blomme gevat, maar tot sy groot hartseer en so ook ons s’n, wou sy niks weet van hom nie. Wie sou nou nie ‘n traantjie of twee afgevee het nie?  

 

 

Dr. Adrie van die Huisgenoot, Louise Mouton, sameroepster en Hedwig Moore, skakelbeampte van die Christelike Lektuur Fonds.



Posted on 29 August 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Petro Greeff

 

Ons tak was besonder bevoorreg om deur ‘n fyn blonde meermin besoek te word. Sy het van Gansbaai gereis en het ‘n mensnaam, Adelle Hattingh. Sy werk vir Roman Bay Sea Farm in Gansbaai wanneer sy haar meerminstert afgehaal het. 

 

Sy het vir ons hul geheime in verband met die teel van perlemoen en van hul besorgdheid oor die see kom fluister. Om perlemoen te teel, is nie ‘n werk wat binne ‘n paar maande afgehandel word nie, dit neem ten minste vier jaar om ‘n ordentlike perlemoen groot te maak. Die water wat teruggepomp word in die see, word behandel om nie enige neweprodukte of afvalstowwe daarin te laat nie. Die tenke waarin die perlemoen gehou word, word weekliks skoongemaak en hul word ook daagliks gevoed. 
Na vier jaar is die perlemoen gereed vir die mark en dis ongelukkig nie vir ons land se mense nie, maar dit word lewend na Japan, Hong Kong, Taiwan en Singapoer uitgevoer. Die perlemoen word deeglik skoongemaak voor hul vertrek na diè lande en kan 38 uur buite die seewater oorleef. 

 

Sal ‘n meermin ons weer besoek? Dalk, as ons gelukkig is, kan ons so ‘n perlemoentjie of twee uit haar hand ontvang!! Ons bly altyd hoopvol.

 

 

Adelle Hattingh, spreker by die vergadering en Monica Geldenhuys, sameroepster.

 


 

Petro Greeff, wenner van kaartjies met teesakkievou en Louise Mouton, 2e plek met fotografie.



Posted on 17 July 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Petro Greeff


Ons Openbare Sake vergadering het almal lus gemaak om aan die werk te spring om ons dorp te help mooi maak en ook te bewaar en te beskerm. Me Eugenie Wiggins en Marita van Tonder is twee ywerige lede van Wellington se Verfraaiingskomitee. Eugenie het ons vertel van al die bome wat al in die dorp geplant is en dis nie net sommer enige boom wat geplant is nie, nee, dis o.a. Koorsbome, palm- en doringbome. Hulle het ook ‘n park gevestig waar net blommende bome geplant gaan word en dit behoort prentjiemooi te wees as die bome met hul veelkleurige blom vol in bloei staan.

 


In Wellington is ook die oudste Hugenote Monument, nege jaar ouer as Franschhoek s’n en ons kan met reg trots wees op W. A. Joubert wat die grond in 1885 aan die dorp geskenk het. Die parkie is pragtig opgeknap en so mooi netjies gemaak. Die steen met bewoording vertel die storie verder.

 


Marita het ons ook laat regop sit toe sy vertel het hoe die bome en plante oornag verdwyn.  In sekere woonbuurte word die mense aangemoedig om sakke met vullis na ‘n sekere aflaaipunt te bring waarop hulle dan vergoed sal word met ‘n hamburger. 

 


‘n Dorp waarop ons trots wil wees, want as jy een keer van sy water gedrink het, het dit jou hart vasgevat om nie maklik te laat los nie.

 

 

 

 

LNR: Eugenie Wiggins (spreker), Sara Goosen (sameroepster) en Marita van Tonder (spreker).

 

 

 

Joubertpark in Wellington met die oudste Hugenote Monument.



Posted on 14 July 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Petro Greeff

 

Op ‘n heerlike koue, maar vars, oggend het tien van ons VLV lede ons dorp verken en op die wonderlikste mense en plekke afgekom. Ons het die plaas slaghuis van Anna Cillie besoek en self gesien hoe word die varkvleis bewerk. Die slagter, Robbie Coetzer,is die man aan stuur van sake daar en het ‘n span mense wat baie bekwaam en gewillig is om aan enige versoek te voldoen. ‘n Varknek is ontbeen en ‘n ribbetjie is ook voorberei, net reg vir die sousie om gebraai te word. Ons het maar lippe gelek, maar nie vir lank nie, want Anna kom toe met ‘n bord vol gebraaide varkwors en Russiese wors om ons kwylmonde en grommende mae te red. 

 

By Dalene Buckle se gastehuis en konferensiesentrum het ons heerlike pannekoek geëet, koffie en tee gedrink en die uitsig bewonder. Daar kan klein onthale gehou word, ideaal vir mense wat plek soek vir ‘n intieme geleentheid. Nege dubbelkamers maak voorsiening vir 18 gaste, elk met sy eie buitedeur en parkeerplek. Voorwaar ‘n gastehuis waar elkeen spesiaal sal voel en altyd sal wil terugkom. 

 

Ons volgende stilhou plek was Boland Drukpers, maar ook net daar het die stilte opgehou. Oom Boetie Theron, soos hy in Wellington bekend staan, het die drukpers so amper 50 jaar gelede begin met R3000 wat hy geleen het. Vandag is die drukpers ‘n besigheid waarmee ander drukkers moet rekening hou. Daar is van die nuutste masjiene en rekenaars - ons monde het behoorlik oopgehang in verwondering vir dit wat daar gedoen word.  Etikette, blikkieskos se omhulsels, CD en DVD se omslae, om maar net ‘n paar te noem, word daar gedruk. 

 

Mrs Ball’s blatjang se etiket sal nooit weer vir my sommer net nog ‘n etiket wees nie, dit verteenwoordig my dorp se nommer een besigheid!!

 

 

 

 

Johnny die slagter, Magdeleen die regterhand van almal, Anna Cillie en Robbie Coetzer in Vrugbaar se slaghuis.

 

 

 

Oom Boetie Theron van Boland Drukpers saam met 'n paar VLV lede. Regs van hom sit Hettie, ons toergids by die drukkers.



Posted on 28 June 2011

Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Petro Greeff

 

Dit was ‘n vergadering wat om meer as een rede baie lank onthou sal word. Die saal het pragtig gelyk met tafeltjies wat in verskillende style versier is vir teetyd. Buiten klein “cup cakes” en ander soetgoed, was daar die heerlikste klein hamburgers, gebraaide varkwors  en nog ander smaaklik voorbereide eetgoed, gemaak met varkvleis

 

Ons spreker, Anna Cillie, hier van Wellington, het op haar gemaklike manier vir ons meer vertel van hul varkboerdery.

 

Die volgende punte i.v.m. varke is vir ons uitgelig:


1.  Varke is baie intelligent en sensitief vir die omgewing en wat met hul gebeur. 
2.  As dit slagdag is, word die varke baie vroeg opgelaai en met so min stres as moontlik hanteer.
3.  Baie gou nadat die vark geslag is, moet die bloed uit die liggaam gelaat word om die temperatuur te verlaag. 
4.  Om te bepaal of ‘n vark ‘n stresgeen in hom het, word hare op sy nek getrek en die DNA getoets. Indien die vark wel stresgene het, word dit so gou moontlik uit die kudde gehaal.
5.  Daar is twee verpleegsters wat in die kraamsaal werk. Sodra ‘n varkie gebore word, word dit dadelik van die sog weggeneem om stres en dood te voorkom.
6.  Varkvleis is ‘n gesonde vleis om te eet, want dit bevat: 
a) proteïene wat die belangrike aminosure bevat om die verteringstelsel te help. 
b) al die B vitamines, nl. Thiamin (vit B1) en Niasien (vit B3). Laasgenoemde is veral belangrik vir diabetes. 
c)  Yster, Sink, Magnesium, Kalsium, Potassium, Fosfor en Sodium.

 

Na die vergadering kyk ons almal met ander oë na ‘n vark en dit wat ons met die vleis kan doen. Anna het vir ons ‘n ontbeende varknek met droëvrugte gestop en gaar gemaak, ‘n koningdis voorwaar. Bobotie wat met varkmaalvleis gemaak word is sekerlik  die lekkerste en dit is baie gereeld op my tafel!   

 

Anna Cillie demonstreer hoe om 'n ontbeende varknek met droëvrugte te stop.

 

  



Posted on 14 April 2011

Diè tyd van die jaar, Paasfees, is ons baie bewus van die gebeure rondom die kruisiging van ons Verlosser en wie kan dit dan nou beter vir ons voorstel, as die wêreldbekende rangskikker Pieter Coetzee van die Paarl.

 

Hy het begin by die laaste Avondmaal en geëindig by die hemelvaart van Jesus. Met elke stadium van die laaste paar dae van Jesus is ‘n paar gepaste teksverse gelees en dan het die mooiste musiek gevolg wat ons gemoedere in die regte stemming  gebring het, terwyl Pieter met die blomme en loof doenig was. Hy het na elke rangskikking vir ons verduidelik wat hy beoog het en ook die verskillende soorte blomme en loof  uitgewys. By die laaste Avondmaal was die rangskikking, met pottebakkerswerk en vrugte, ‘n pragtige stillewe. Die opstanding se rangskikking het die somberheid van diè een van die kruisiging, vervang met uitbundige kleure, sowel as ‘n vrolike rangskikking met paaseiertjies wat spesiaal vir kinders was. Die hemelvaart se blomme en loof was op ‘n baie hoë staander en ‘n bitterlike dun glasvaas, so mooi, so treffend dat ons almal stil was terwyl hy besig was. 

 

Vir ons wat teenwoordig was sal Paasfees voortaan nog ‘n dimensie hê, want ons sal met ‘n ander oog kyk na blomme en wat dit vir ons kan voorstel. Ons ogies was maar nat gewees, ons harte geroer en die knoppe in die kele kon met heerlike tee afgesluk word.  

 

 

 

Die kruisiging.

 

 

Voorstelling van die oop graf na die opstanding van Jesus.



Posted on 04 April 2011

Wellington se VLV lede het tydens hulle Maartvergadering meer geleer oor kuns.

 

Dalene Buckle is 'n vaardige spreker sowel as 'n uitstekende kunstenaar. Sy skilder in verskeie mediums en is ook baie bedrewe as kunsonderwyser. Baie inwoners van Wellington kry by haar skilderklas en almal praat met lof van haar liefdevolle geaardheid.

 

Sy het ons vertel dat kuns nie net 'n stokperdjie is nie, maar dit het ook 'n wonderlike terapeutiese waarde vir diegene wat dit beoefen. Dit doen vir die brein wat 'n gimnasium vir die liggaam doen. Kuns ontwikkel die brein se vermoë om te dink, om fyner te kyk na detail en ontwikkel ook die hand en oog ko-ordinasie.  

 

Daar was etlike skilderye van Dalene sowel as van haar leerders; dit was 'n lus vir die oog en het ons behoorlik lus gemaak om na die kwas en verf te gryp.

 

Beriggewer: Petro Greeff

 

 

 



Posted on 21 November 2010

Aan ‘n dame se ouderdom word nie gepeuter nie en dit is ook nie iets wat hardop gefluister word nie, maar as sy ‘n fleurige 80 jaar jonk word, is dit tyd om fees te vier.

 

‘n Groot dag wat met groot vreugde en finesse beplan is, het eindelik aangebreek.  In netjiese en modieuse uitrustings het die gaste opgedaag om ‘n glasie te klink en by ‘n tafel aan te sit met heerlike outydse geregte. Nou nie dat ons kan onthou wat in die ou dae geëet is nie - ons het natuurlik gaan Google daaroor en toe wyser geword.

 

Die saal was pragtig versier met die rooiste rose en groen loof, soos net ons voorsitter Monica Geldenhuys dit kan doen.  Die tafels is gedek in wit en room met groen Ivyblare. Silwer kandelare met wit kerse het die feestelikheid onderstreep.

 

Ons was getrakteer op sang deur Rida Crous en oee, sy het soos ‘n engel gelyk en ook net so geklink, dierbaar verby!  Gelukkige nommers het gesorg dat ‘n hele paar gaste geskenkies gekry het. Die groot lekkerte was ‘n vrugtekoek wat in Francina Marais se sak geland het.   SCB Smit het met deernis, liefde, humor en ek-onthou-nog-dit-en-kan julle-dat-onthou? van die wel en weë van Wellington se VLV vertel.  Marinda Rall, ons sirkelpresidente het ‘n groeteboodskap oorgedra en die tafelgebed gedoen. 

 

Gaste kon smul aan gevulde ontbeende hoender, lamvleispastei, rys, soet patats, groenboontjies en ‘n verskeidenheid slaaie. Nagereg was melktert, sjokoladekoek, konfyttertjies en koeksisters.

 

‘n Dag wat ons nog lank sal onthou is verby en nou lê die Kerstyd voor met heerlike vooruitsigte van familie wat kom kuier en gesellige etes. 

 

Beriggewer: Petro Greeff

 

 

 

Die rangskikking deur Monica Geldenhuys.

 

 

 

 

Oud-voorsitters en huidige voorsitter.   LNR: SCB Smit,  Dalena Malan, June Smit, Marine van der Merwe, Francina Marais en Moninca Geldenhuys.

 

 

 

Eugenie Wiggins : voordrag gelewer,  Irène de Waal : opening gedoen, Marinda Rall : sirkelpresident, Steffie Brink : voormalige sirkelpresident en Monica Geldenhuys : voorsitter

Categories