Posted on 29 August 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou/Gesondheid
Beriggewer: Salome Louw


Om 420km te ry – uit en tuis - net vir die pret en om blomme te sien is seker nie vir  stadsvrouens denkbaar nie. MAAR hier in die Karoo doen ons dit met opgewondenheid. Donderdagoggend, 25 Augustus, 8.00,  vertrek daar 26 geselsende  VLV dames met 5 voertuie uit Williston op ‘n daguitstappie. Eerste teestop is Calvinia se Blomme/kunsmark waar ons ’n wyle vertoef – net om die droë kele te laaf. Daarna ry ons verder Nieuwoudtville toe, na die plaas Matjiesfontein so 20km buite die dorp.

 

EN wat ’n pragtige gesig wag daar op ons: plate en plate blommetjies – so baie soorte en kleure, want daar is Namakwalandse blomme sowel as die bolplantjies wat al in blom staan. Dis geel, pers, wit, oranje, rooi, amper-bloupers kleure en al die skakerings tussenin! Terug in Nieuwoudtville eet ons heerlike gevulde pannekoekies by hul kerksaal waarna ons die Rooibostee- aanleg besoek. Daar word ons stap vir stap deur die proses geneem van wat met die tee gebeur vandat die boere dit daar aflaai tot dit in die sak verpak word, reg vir die uitvoermark. Nog is het einde niet... die dames besoek ook die bolplantkwekery en die pragtige waterval ’n entjie buite die dorp. Almal is dit eens – dit was ’n heerlike dag!

 

Die blomtoertjie het die dames net lus gemaak vir nog kuier en Vrydag, 26 Augustus, het ons vergadering gehou. Dit was die Gesondheid studierigting se beurt en Suster Slopie Le Roux, plaaslike verpleegkundige, het vir ons komiese herinneringe uit haar beroepsjare vertel. Haar “skatkis” is vol gepak met humor en hartseer oor die afgelope amper 40 jaar. As jy nie kan lag nie, kan jy nie lewe nie! Van verwarring tussen mediese terme soos angina en vagina tot papwiel insidente op die swak plaaspaaie in die dae toe die kliniekbussie nog plaasbesoeke gedoen het, is met ons gedeel. Ons moet die humor en die liefde uitdeel elke dag. Daarna gesels ’n grimeerdeskundige van P.E. oor wat sy doen. Sy is betrokke by die “Look good, feel better” aksie wat met dames wat kanker het, werk. Sy leer hulle om uiterlik goed te lyk en sodoende maak dit hul ook innerlik sterker. Ons moet “vatliefde” beoefen – raak mense aan.  

 

 

 

 



Posted on 21 June 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Salome Louw
Datum: Junie 2011
 
 
Williston tak se saamroeper van Opvoeding en Kultuur, mev. Fransie Hoon, vertel hoe belangrik dit is dat kinders aan boeke en lees blootgestel moet word. Oumas en oupas is die ideale storievertellers en rympie leerders, omdat hulle miskien meer tyd het as die mammas. Gebruik die kuiertyd om peuters en kleuters meer oor die natuur, ens. te leer terwyl julle buite rondloop.
 

Mev. Kotie Hugo vertel meer oor die werksaamhede van die ATKV en elke lid ontvang ook ’n ATKV-sak. Die oorsprong van die ATKV gaan terug tot so ver as 1931 toe 2 lede besluit het om dit te stig. Intussen het hulle gegroei tot ’n ledetal van meer as 220 000 lede! Lapa Uitgewers behoort ook aan die ATKV.
 

Ons kry ’n kykie in die lewe van die kinderverhaalskryfster, Rona Rupert. En wie beter as haar dogter, Marianne van der Merwe om oor haar te kom gesels! Deur Rona se eie woorde te lees in verskeie van haar kinderboeke, kry ons ’n idee van wie sy werklik was. Deur haar werk kan ons aflei wat haar passies in die lewe was.

 

Eintlik was “die lewe” self haar grootste passie en sy het na aan die kinders, boeke, musiek en haar Hantamwêreld geleef! In Rona se eie woorde: “Stories is die nodige brood vir die lewe van ’n kind”.

 

Stories leer jou lesse van die lewe, maar dit kan ook troos. Sy het musiek studeer en musieklesse gegee vir kinders en so is baie stories gebore. Haar herinneringe uit die Hantam het sy ook dikwels gebruik om stories te skryf. Haar liefde vir die geskrewe woord kom van haar pa – by hom het sy geleer dat boeke gerusstelling en warmte kan gee. Haar ouma, Cato, by wie sy gebly het toe sy moes skoolgaan het ook saans vir haar uit die Bybel gelees. ’n Mens wat met woorde wil werk, moet eers lees het sy gesê en sy skryf omdat sy moet, gedwing is en nie anders kan nie. Musiek en woorde was onlosmaaklik deel van haar.   
 

Twee nuwe  jong lede sluit aan: Mev. Sarah  Louw en Inemari Visagie.



Posted on 20 May 2011

Portefeulje: Kuns en Handvlyt

Beriggewer: Salome Louw

 

Tydens mev. Hantie Louw,  se vergadering wys Sanet Dove, ’n plaaslike kunstenaar, ons hoe mosaïekwerk gedoen word. ‘n Spieëlraam met mosaïekwerk is mos een van die kompetisies vir 2012. 

 

 

Daarna vertel mev. Illinois Smit, wat self ook al ’n hele paar trourokke gemaak het, ons meer omtrent die trourokke wat uitgestal is. Die oudste dateer uit die jare vyftig en die nuutste is skaars 2 maande oud. Mev. Smit,  wat al die jare op die plaas omtrent 60 kilometer uit die dorp, gewoon het, vertel hoe die dames na haar gery het vir passings. Haar werkkamer was te klein as sy trourokke gemaak het en gevolglik is die sitkamer vir die doel gebruik. Dikwels moes sy dan die klere bedek met ’n laken as sy kuiermense ontvang het!  

 

 

Ons was ook bevoorreg om “’n gas uit Gauteng” te ontvang! Sy was “mev. Koegelenberg, sirkelpresident van Gauteng VLU” – wat natuurlik baie modern geklee was in ’n harembroek en met ‘n baie moderne haarstyl! Sy is ontvang en ‘n bietjie meer van ons doen en late hier op die platteland vertel deur die redelik vergeetagtige mev. Hansie (of is dit nou Hantie?) Louw. In hierdie “toneel” is vertel van die ontstaan van Williston tak se VLV en wie die huidige bestuurslede en hul portefeuljes is. Dit was egter maar moeilik (en skreeusnaaks vir die gehoor!), want “mev. Louw” se gedagtes het haar telkemale in die steek gelaat!   

 



Posted on 14 February 2011

Vrydag, 28  Januarie, het Williston se VLV die jaar afgeskop met die Openbare Sake Program o.l.v. Adrene Verdoes.


Nadat die nuwe Voorsitter, Cecilia Louw, almal welkom geheet het, gee mnr. Pieter Snyman van SKA aan ons inligting deur, omtrent die SKA Projek.

Die doel van die SKA is om ‘n Wêreldklas Radioteleskoop te bou. Die basiese infrastruktuur is reeds klaar, die kraglyne is in werking en die optiese kabel tot in die Kaap is voltooi. Alhoewel die besluit aan watter land die bod toegeken word eers 2012 geneem word deur die Internasionale SKA Wetenskap en Ingenieurskomitee, word die MeerKAT skottels in elk geval opgerig wat inligting versamel. Radioseine kan waargeneem word tot sover terug as die “oerknal”. Die seine trek tot 300 000km per sekonde.


Daar is verskeie voordele verbonde aan die projek soos bv. Die stimulering van die ekonomie, toerisme moontlikhede en werkgeleenthede, asook die opgradering van die infrastruktuur en moontlike migrasie terug platteland toe. Beurse word ook toegeken aan skoliere wat verder wil gaan studier in die wetenskap, ingenieurswese of astronomie. Noord-Kaap leerders kry voorkeur,  maar 60% slaagsyfer en matriek vir Wiskunde HG en Natuur- en Skeikunde is ‘n voorvereiste. Aansoeke sluit September. Alhoewel kommunikasiemiddele vir die boere in die omgewing ‘n probleem is, verseker hulle dat daar alternatiewe kommunikasiestelsels in plek gestel sal word vir persone wat geraak sal word deur SKA. “Marnetradio’s  sal nie verdwyn nie”, belowe Mnr Pieter Snyman.

 

Die ewige soeke van die mens na meer wetenskaplike kennis of “terug kyk” in die verlede sal dus blykbaar deur hierdie SKA Projek bevredig word! Of dit vir ons Karoogemeenskap werklik voordeel inhou, sal die tyd maar moet leer – Gelukkig kan ons nog nie in die toekoms ook “kyk” nie!   - 

 

Beriggewer: S. Louw

 

 

Nuwe Bestuur VLV Williston:
VLNR(voor): Adrene Verdoes, Hantie Louw, Cecilia Louw (voorsitter), Fransie Hoon
VLNR(agter): Bettie Langner, Elize Esterhuyse, Annelize Louw, Salome Louw, Louise Symington




Posted on 09 November 2010

Met Kersfees as tema, sluit ons die jaar af tussen ‘n menigte engeltjies en pragtige rangskikkings. Annelize Louw open deur die vriendskapskers aan te steek en gesels oor die inhoud van die internasionale gebed en ons besef net weer watter diepte dit regtig het.
 

Sandra van Niekerk vertel meer oor haar engelversameling en wys en vertel vir ons van ‘n paar wat elkeen ‘n besondere storie het.

 

Die voorsitter lewer haar jaarverslag en sluit af met die gedagte dat ons, ons vriendinne moet koester, want “Vriendskappe is soos beleggings.  Jy kry terug wat jy daarin belê en dit neem tyd om te groei, maar dit lewer dividende met ewigheidswaarde!” 

 

Gebruik die bekers en trofeë wat verower word om rangskikkings mee te doen  - soos onder op die foto's gesien kan word, in bv. die kombuis. Dit werk ook goed vir tafelversiering. Interessante kersboompies word ook uitgestal.

 

Mev. Sandra van Niekerk ontvang die trofee vir die meeste kompetisiepunte (Foto onder). Sy is ook die Leefstylsaamroeper en haar program het ook die prys behaal vir die beste program. 

  

Almal verkeer gesellig saam met 'n lekker koppie tee en heerlike eetgoed.

  

 

 

 

 

 

 



Posted on 09 November 2010

Tydens Williston se leefstyl vergadering is interessante uitstallings gehou. Eerstens moes ons 8 verskillende kruiesoorte identifiseer en daarna was  dit kopkrap, want daar is 18 verskillende soorte borduurwerk uitgestal en die lede moes raai watter soort pas by watter nommer. Ons erelid, mev. Martie Van Zyl – self op haar dag ‘n “borduurster” van formaat! –was die enigste wat slegs 1 soort nie kon uitken nie. 

 

Sewe reëls vir gesonde hare word gegee, nl.
-gebruik regte sjampoe vir jou spesifieke haartipe;
-gebruik haartange van goeie gehalte –  met ‘n keramiekafwerking;
-gebruik produkte om hare teen hitte te beskerm;
-moet nooit krultange op nat hare gebruik nie;
-nasorg soos opknappers veral vir gekleurde hare is baie belangrik;
-laat gereeld hare se punte sny;
-maak nat hare eers handdoek droog alvorens dit gekam word.

 

Mev. Bettie Langner en haar skoondogter  wys ons hoe ‘n mens ‘n skets kan maak, dit dan inskandeer op die rekenaar en dan met behulp van die nodige rekenaarprogram aan jou borduurmasjien koppel. Daarna borduur die masjien die ontwerp op jou kledingstuk of materiaal.

 

Die Leefstylsaamroeper, mev. Sandra van Niekerk, bespreek die kompetisie artikels en gee wenke en beveel ook sekere boeke en webwerwe aan. Teesakkie vouwerk is ‘n kunsvorm  wat in Holland ontstaan het toe die vrouens besluit het om nie die mooi papiersakkies waarin die teesakkies verpak word, weg te gooi nie. Hulle het dit begin vou en groetekaartjies daarmee versier.

 

Laslapwerk vir die “lui” persoon word ook gewys – die materiaal het klaar die motiewe wat lyk soos laslapwerk, jy werk net die voering en watteersel by en versier die prent met interessante borduursteke en tooisels.

 

Wat maak jul met al daardie doilies wat uit ouma se huis kom? Allerhande nuwe idees word gegee om dit deel van jou interieur te maak.

 

Beriggewer: Salome Louw

 

 

 

 

 

 

 

 

 



Posted on 04 October 2010

Williston het ’n lekker Landbouvergadering gehad op De Kruis, net so 10km buite die dorp. Met die opening word uit Genesis gelees en ons besef dat Landbou vanaf die Skepping reeds deel is van ons lewensbestaan.

 

Elize Esterhuyse pak ’n denkbeeldige mandjie padkos vir Jesus met produkte eie aan Palestina: olywe, droë vye, rosyne, granate, dadels, amandels en heuning. Olyfbome is gebruik vir skadu, die olywe vir eet, maar ook om seep te maak, brandstof vir lampe en as basis vir parfuum.

 

Mev. Steph van Schalkwyk  vertel van die minder bekende speserye en kruie waarvan ons in die Bybel lees. Baie is vir wierook gebruik, bv. naeltjies, mirre en galbanum. Mirre is ook vir parfuum en as medisyne gebruik. Aalwyn is ’n bekende purgeermiddel en nardus is ook vir parfuum en as balsemmiddel gebruik. 

 

Ockie Louw gesels oor ’n ongewone troeteldier, wat hy as kind op die plaas gehad het, naamlik ’n ratel. Hy vertel staaltjies en gee ook interessante feite omtrent die ratel.  Daar word gewis nie verniet gesê iemand is “so taai soos ’n ratel” nie! Met skerp naels en sterk, kort, gespierde bene asook ’n kop vol spiere is hy gepantser en uiters taai om aanslae die hoof te bied. Ratels is omnivore en dit is bekend dat hulle skape ook vang. Wanneer hy skrik of seergemaak word, gee hy ’n baie onwelriekende reuk af.  As hy gebyt word deur ’n giftige slang (want hulle is lief om slange te eet), gaan lê hy doodstil en na so ’n uur of twee staan hy op en gaan rustig sy gang – hy beskik skynbaar oor ’n ingeboude teengif!

 

Beriggewer:  Salome Louw

 



Posted on 25 November 2009

Monica Swart was die VLV doyenne van Williston tak, sowel as Sirkel Suid-Karoo.

 

Monica Smit aanskou haar eerste lewenslig op 16 Augustus 1923 in Kenhardt. Sy ontvang opleiding by WOK en begin haar onderwysloopbaan te Williston. Reeds in 1945, as jong onderwyseres, sluit sy by die plaaslike VLV tak aan. In 1947 trou sy met Melt van der Spuy, ‘n boer van die distrik en 5 kinders word uit die huwelik gebore. Sy oorleef Melt en trou jare na sy afsterwe met John Swart. Beide haar eggenotes was geesdriftige VLV ondersteuners en nou betrokke by haar VLV bedrywighede.

 

Sy was 64 jaar lank lid van die VLV en voorsitter vir ‘n tydperk van 21 jaar. Benewens die amp van sekretaresse, was sy ook sameroepster van verskeie portefeuljes en gekwalifiseerde beoordelaar van Gebak I Gebottel I Blommerangskikking. Voor haar afsterwe was sy die langslewende lid van Williston tak.

 


• 1974: Verkies tot Sirkel President van Sirkel Suid-Karoo,  beklee die pos vir 16 jaar
• 1978 -1985: Twee VLVK Kongresse word onder haar leiding aangebied
• 1989: Neem by mev. Glen Uys oor as argivaris vir die jaar
• 1998: Erelidmaatskap van Williston tak
• 2000: Erepresident van Sirkel Suid-Karoo
• Sirkel se 50 ste verjaardag vind plaas onder haar leiding
• Lid van die WBPV
• Intekenaar op Country Women lektuur wat uitgegee word deur WBPV
• Woon twee WBPV kongresse by te Hamburg en lerland

 

Ons eer haar nagedagtenis as 'n merkwaardige en formidabele VLV vrou, wat diep spore in haar geliefde vereniging getrap het. 

Categories