Posted on
15 June 2011
Datum: 14 Junie 2011
Beriggewer: Jackie Barnardt
Die dames van Willowmore tak het vandag die rekenaar by die horings gepak en opleiding gekry. Die Baviaans Munisipaliteit se Departement van Gemeenskapsdienste bied deurlopend rekenaarklasse aan vir die gemeenskap. Dit vind plaas by die Hillview Biblioteek.
Die amptenare verantwoordelik vir die opleiding is Conan Maart en Nicky Barnard. Die Munisipaliteit het al die rekenaars gekoop vir die sentrum en as student het jy toegang tot die Internet.
“Wireless” Internet sal binnekort beskikbaar wees in die hele Baviaans-area. Dit is ‘n projek in samewerking met Cacadu Distrik Munisipaliteit. Die hoofdoel is dat almal toegang tot die Internet kan kry. Hieroor is almal baie opgewonde.
Annatjie du Preez het vir die eerste keer haar hande op ‘n rekenaar gelê. Volgens haar was dit ‘n ongelooflike ervaring, maar sy het behoorlik gesweet! Dit was wonderlik om van die dienste gebruik te kon maak en ons het beslis baie geleer.

Voor: Anneke Lötter, Annatjie du Preez, Susan Lennox
Agter: Conan Maart
Posted on
13 June 2011
Datum: 10 Junie 2011
Beriggewer: Jackie Barnardt
Vrydag 10 Junie 2011 is daar fees gevier in Willowmore met die verjaarsdag van Hester Scheepers. Sy is woonagtig in die Gert Greeff Ouetehuis en het 109 geword. Sy woon alreeds 14 jaar in die Ouetehuis.
Alhoewel sy nie meer kan loop nie, kan sy nog self eet en het ‘n skerp sin vir humor.
Die CMR het vir haar die partytjie gereël en die VLV is ook genooi. Ons het aan haar ‘n geskenk oorhandig. Sy was baie opgewonde oor al die aandag en geskenke. Sy het ook nie op haar laat wag nie en gesmul aan die soetgoed.
Dit was ‘n groot voorreg om die geleentheid te kon bywoon.
Voor in die rystoel: Hester Scheepers
Van links agter: Annatjie Du Preez, Jackie Barnardt, Andra Korff, Alma Fouche

Posted on
05 June 2011
Willowmore tak se dames en vele vriendinne het hulle tydens die tak se Vrouedag behoorlik verlustig in die aantreklike en joviale Herman Linde. Herman, of liewer ‘Boer Nommer 10’, was een van die boere wat vrou gesoek het tydens die eerste Boer soek ‘n Vrou werklikheidsreeks op KYKNET.
Die suiwel- en vrugteboer van Kliphoogte, Swellendam, het vertel van sy wedervaringe met die soeke na ‘n vrou, terwyl miljoene televisiekykers die soektog meemaak. Alhoewel dit ‘n ongelooflike ervaring was en hy dit vreeslik geniet het, is hy van mening dat die kans om ‘n suksesvolle verhouding in sulke omstandighede te bou, uiters skraal is.
Die veelsydige man is lief vir mense en reis, maar musiek is sy groot passie in die lewe. Hy het die dames met sy musiek bekoor, so tussen die vrou-soek vertellings deur. Boer soek ‘n Vrou is mos maar ‘n soeke na liefde en daarom het hy ‘n hele arsenaal liefdesliedjies saamgebring om die dames van Willowmore se harte te vermurwe.
Gepas vir die soeke na liefde, het Louretta Lötter ‘n demonstrasie van lap-, draad- en houtharte gedoen.
Optelgoed is glad nie waardeloos nie, of so het Susan Lennox gewys in haar demonstrasie van wat ‘n mens alles met van ‘n fietswiel tot ‘n waskom en optelgoed uit die natuur kan maak.
Die genoeglike oggend is afgesluit met ‘n middagete van hoenderkaaskoek.

Herman Linde.

Harte gemaak deur Louretta Lötter.
Posted on
20 May 2010
Ons besoek Ansie Greeff se Voëlboerdery - Beervlei Parrots, by die Beervleidam, 30 km vanaf Willowmore. Dit het begin as haar stokperdjie maar nou is dit 'n besigheid. Sy voer ook voëls uit. Daar is 'n ongelooflike verskeidenheid van soorte, kleure en grootte - .200 voëls en 15 spesies! Saam met haar man hanteer hulle die versorging van al die voëls self. Ansie het 'n absolute passie vir wat sy doen en na afloop van ons toer het sy die dames getoets deur 'n vasvra!
Daarna vertrek ons na Louretta Lötter se plaas, Doornpoort. Hulle is bekend vir hul Boerbokke. Haar man, Kobus, is 'n bekende as dit kom by Internasionale beoordeling van Boerbokke en ook die aanbied van Boerbok kursusse. Louretta laai ons (oud en jonk) op haar Land Cruiser en vaar met ons die berge in. Dit is nou 'n boervrou wat 'n grondpad kan ry!! Sy’t skoon vergeet van ons wat agterop die bak stof en wind moes trotseer! Louretta is in die Gastehuis bedryf en gaan wys ons haar gastehuise op Van Rooyenskraal. Wat 'n ongelooflike uitspanplek in die ongerepte Karoo, is dit nie.
Boy, Louretta se seun, neem die stuurwiel by haar oor en ry met ons klomp gillende, beangste, maar darem ook opgewonde passasiers SKOORSTEENBERG uit. Dit is 'n verskriklik pad, baie steil, klipperig en boonop langs 'n afgryslike afgrond. Dan is daar nog hekke ook teen die berg wat moet oop en toe. Maar wat 'n asemrowende gesig is dit nie toe ons bo-op die berg kom nie! Jy kan so vêr as Graaff-Reinet se berge sien. Met die tog af was ons nie meer so verbouereerd nie en kon ons die uitspansel voor ons geniet. Wat 'n voorreg om dit te kon aanskou. Wind in ons hare ten spyt en heelhuids ongeskonde, het ons vir 'n feesmaal gaan aansit met ons terugkoms op Doornpoort.
Ons dank aan Ansie en Louretta wat die dag onvergeetlik vir ons gemaak het.

By Ansie se Voëlplaas.

Het ons geklim of geval?

Louretta se gastehuis. Kyk hoe mooi het sy die tuin met klip uitgelê van klippe daar uit die berge!!

Bo-op Skoorsteenberg!
Posted on
16 November 2009
In die mooiste, mooiste maand van Oktober het die lede van Willowmore tak afsluiting gehou. Dit was 'n feestelike geleentheid! Dalk selfs meer so omdat die manne saam gekuier het en natuurlik ook omdat Middelland sirkelpresident, Lynette Martin, die eregas was.
Soos dit die gebruik van die tak is, word die manne elke 2de jaar genooi om die afsluiting by te woon. Ewe gedwee luister hulle dan ook na die jaar se relaas en kyk hoe daar geskenkies uitgedeel en toekennings ontvang word. Die mans is hartlik bedank vir hulle ondersteuning en geduld met die VLV-vroue in die huis, wat alewig op een of ander missie is. Sonder hulle ondersteuning kan 'n VLV-vrou tog nie met 'n lekker hart werk en alles insit nie. Sekretaresse, Louretta Lötter, se man Kobus, het uit die manlike oogpunt 'n paar woorde gesê wat natuurlik baie goed was vir die vroulike ego’s.
Lynette het van die bra's wat tydens Bras, Beads & Bags vertoon is, gebring om diegene wat nie by die geleentheid was nie, te wys wat hulle gemis het. Die manne het dit net so geniet om na die bra’s te kyk, maar hulle was net spyt dat daar nie 'n modelletjie of twee was om die bra’s te vertoon nie. Seker dié dat Kobus dit self probeer het!
Daar is ook 4 diensknopies uitgedeel en deur Lynette aangesteek. Elriza van Rensburg, Nicolene van Jaarsveld en Jackie Barnard het elk 'n 20jr-knopie gekry en Charmaine Malan (voorsitter) het 'n 10jr-knopie ontvang.
Willowmore begin die nuwe jaar met nuwe vuur op 26 Januarie.