Posted on 19 January 2014

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Victoria-Wes
Beriggewer: Elize Perrin
Datum: 18 Januarie 2014


Alhoewel Madiba na ons as ‘n reënboognasie verwys het, is daar tydens opening na SA verwys as ‘n Potpourri nasie. Potpourri is nie net kleurvol nie, maar het ook ‘n aangename geur  en dit is die opdrag van 2 Kor.2:14. Ons moet ‘n aangename geur versprei: in ons land en in die dorp waar ons woon.


Na opening het Patrick Botha, ‘n loodgieter, waterbesparingswenke met die dames gedeel. Eenvoudige dingetjies soos om jou vistenkwater op plante te gebruik, of om ‘n kraan styf toe te draai, kan ‘n groot verskil in waterverbruik maak. Indien jy wil uitvind of jou toilet lek, gooi koekkleursel in die bak. As dit deurloop sonder dat die toilet getrek is, is daar ‘n lek.


Maggie Hugo het vir die dames gewys hoe om ‘n tweeliter koeldrankbottel in ‘n toiletpapierhouer te omskep. ‘n Melkkannetjie is ook met bietjie knipwerk verander in ‘n skoppie. Laastens is ook gewys hoe ‘n stortkeppie gebruik kan word om skoene te verpak wanneer jy gaan reis.


Bogenoemde is opgevolg deur Thabeko Gqagqa en Hazel Arens wat die dames meer vertel het oor die AmaXhosa se tradisies. ‘n Bok speel ‘n baie belangrike rol in hulle kulturele tradisies. Die geslag en ouderdom van die bok moet aanpas by die geslag en ouderdom van die persoon vir wie die ritueel gehou word. ‘n Kraal is ook vir hulle baie belangrik, want dit is daar waar hulle met die voorvaders kommunikeer.


Joan Human het gesels oor die streng vereistes/wetgewing wat gevolg moet word wanneer jagters op ‘n plaas ontvang word. Dit is onder andere belangrik dat die jagters vuurwapen- en jaglisensies het. Die plase moet ook aan die regte omheiningsvereistes voldoen; die wild op die plaas bepaal hoe hoog en watter soort omheining gebruik moet word.


Voor teetyd het Ande Olivier ‘n demonstrasie gehou oor hoe om ‘n skulpie muurbehangsel te maak. Na tee is sekere sake bespreek en die maandelikse verrassingsmandjie is deur Rina Gravett gewen.

 

 

Die persone wat by Vic-Wes se Potpourri vergadering opgetree het: LNR Hazel Arens, Maggie Hugo, Patrick Botha, Ande Olivier, Thabeko Gqagqa en Joan Human.

 

 



Posted on 17 January 2014

Sirkel: Middelland
Tak: Alexandria
Protefeule: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Dina Erasmus
Datum: 16/01/14

 

Wat `n klomp bedrywige vrouens op een plek saam! Ons was amper voltallig en boonop vereer met `n paar besoekers vir die oggend.

 

Die deelname is prettig en indrukwekkend. Die takkompetisie was skons & fotografie. Die huiswerk afdeling bewys dat niemand op hulle louere rus nie. Die breiblokke vir KANSa vorder goed. Konferensie-artikels, naamlik mosaïek en die engelfiguur word ook ingeskryf.

 

 

 

Ons is hard besig om voor te berei vir die Konferensie te Port Alfred vroeg in Maart 2014.

 

Linda, sameroeper van die Landbou en Tuinbou studierigting, lig ons in oor die boom van die jaar, naamlik die Laventelboom. Dit is halfbladwisselend tot immergroen in `n rypvrye area. Die boom groei tot 14m, is gewild as `n straat- of kleintuin boom. Dit kom voor vanaf Zimbabwe tot KwaZulu-Natal, maar behoort goed aan te pas in die Oos-Kaap, mits dit teen die wind beskerm word.

 

Teetyd is gewoonlik baie aangenaam, met `n koppie tee of koffie en iets te eet, en dan nog te gesels met `n VLV-vriendin is mos net baie lekker.

 

Ons besoek Chicory SA te Alexandria, waar ons baie insiggewende inligting ontvang.

 

 

Sigorei, wat `n wortelgewas is, is familie van die sonneblom. Dit is voordelig vir die spysverteringstelsel. Dit word gebruik in koffie, dierekos en ontbytkosse. Na die droging- en roosterproses bestaan dit hoofsaaklik uit fruktose, proteïen en natuurlike vessel. Dit is `n hulpmiddel om die liggaam te reinig van oksidante. Die voordeel is dat dit geen kafeїen of perserveermiddels bevat nie.

 

Wat `n proses om die gewas te verwerk voordat dit bruikbaar is!  Ons plant ook tersefdertyd die Laventelboom op hul terrein.

 



Posted on 14 January 2014

Sirkel: Weskus

Tak: Langebaan

Beriggewers: Hilary Nepgen en Charlotta van Eeden

Datum: 14 Januarie 2014

 

Ons almal by Langebaan tak is in groot skok oor die skielike heengaan van ons voorsitter, Dienie Rust, op 12 Januarie 2014.

 

 

Dienie het in Februarie 1984 by Vredenburg tak aangesluit. Sy was 8 jaar sameroeper van Huisvlyt, daarna sekretaresse, asook sekretaresse van Sirkel Weskus. In 1997 het sy voorsitter geword. 'n Amp wat sy vir 6 jaar beklee het. Vanaf 2009 is sy 'n lid van Langebaan tak en dien vanaf 2010 op die bestuur. Sy was vir 3 jaar sameroeper van Leefstyl 2 en vanaf September 2013 takvoorsitter.


Sy was met Jan Rust getroud en het twee dogters en 'n seun, twee skoonseuns en vier kleinkinders. Behalwe wat sy vir haar familie beteken het, was sy 'n dierbare vriendin by wie ons almal so baie kon leer en iemand wat baie lief was vir VLV. Haar hande het vir bitter min stil gestaan. Sy het die mooiste naaldwerk gedoen en pragtig gebrei.



Posted on 23 December 2013

Sirkel: Kalahari
Tak: Mimosa
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Erika Linde
Datum: 22 Desember 2013
 
Nonnie Scheepers, 'n bekende in koskringe in Vryburg, het 'n wonderlike demonstrasie oor die maak van roomys op Louwna by Mimosa kom doen. Sy het die dames verras met die heerlikste Semifreddo, 'n baie ryk sagte roomys. Dit was gegeur met fyngesnipperde kruisement wat 'n heerlike verfrissende smaak daaraan verleen het.


Haar eie huisroomys het groot byval gevind by die dames. Dis basiese, eenvoudige bestanddele wat sonder 'n deftige roomysmaker berei word en verg nie veel vaardigheid.


Die baklava-roomys was nog iets nuut wat sy berei het. Dit bestaan basies uit dieselfde neut, kaneelsuiker en stroop wat kenmerkend van baklava is. Sy gebruik 8 velle filo, die grootte van 'n broodpannetjie gesny, liggies met botter geverf en die suikerstrooisel bo-oor gestrooi. Dit word so bo-op mekaar gebak. Hierna word gekoopte roomys afwisselend met twee lae filovelle in 'n broodpannetjie geskep en weer gevries. Dit kan lank voor dit benodig word in die vrieskas gehou word, net gereed vir daardie onverwagte gaste! Dit was 'n treffer nagereg!

 

 

Hier is Nonnie besig om die baklava-roomys voor te sit.


Die gebakte Alaska het sy ook gedeeltelik tuis berei en net die meringue tydens die demonstrasie geklits en op die roomys wat oor 'n gebakte sponskoek geskep en gevries is geskep. 'n Baie goeie wenk met die klits van meringue is om die bak wat gebruik gaan word met suurlemoensap uit te vee sodat geen vetterigheid die resultaat van die meringue kan beïnvloed nie. Die geheim van die gebakte Alaska is dat die meringue die roomys volkome moet bedek voor dit in 'n warm oond gebak word tot goudbruin. Nonnie het 'n blaasvlam gebruik wat dieselfde resultaat as die oond lewer om die meringue mooi bruin en bros te maak.


Sy het ook genoem dat mens met 'n gewone bak gekoopte roomys ook die heerlikste nagereg kan optower. Die roomys word net effens ontdooi tot sag en hanteerbaar en dan word enige byvoegsel ingevou en weer gevries. Grondboonkraaklekkers saam met grondboonbotter gee 'n heerlike smaak. Sjokoladeflokkies, -splinters, -koekies kan ook baie suksesvol gebruik word. Enige neute, klapper, heuning, nougat en enige gunsteling versnapering kan daarin vermeng word.


Soutroomys is nou 'n nuwe tendens wat deesdae baie suksesvol saam met vleis- en visgeregte bedien word. So is mosterdroomys baie gewild saam met filet. Salm- en kerrieroomys word ook saam met geregte bedien, hoewel dit vir ons baie vreemd geklink het.


Die jong lede was baie opgewonde oor al die nuwe idees en ons tak het een jong lid bygekry wat dadelik aangesluit het.

 

 

Dames van Mimosa tydens die demonstrasie.



Posted on 21 December 2013

Sirkel: Middelland
Tak: Steytlerville
Beriggewer: Lucia Dorfling
Datum: 20 Desember 2013

 

Steytlerville VLV het voor Kersfees `n opvolgbesoek aan die 21 KANSA pasiënte & terminaal siekes in die gemeenskap gebring wat vroeër ‘blessing blankets’ en blokkombersies ontvang het. Hierdie keer was dit `n bemoedigingsboodskap, Kerskaartjies en gebede saam met tuisgebakte koekies. Elke VLV-lid maak 'n verskil in ons gemeenskap, deur haar bydrae tot ons projek. Ons bou bruê oor taal- en kleurgrense heen wanneer iemand gekoester voel deur so 'n klein gebaar en ander word bewus van VLV en wat ons lede in die gemeenskap doen.

 

Wilna Nelson het ook 2 plaaskinders en 2 van haar kleinkinders saamgeneem – hulle het Kersliedjies vir die pasiënte gesing om hul op te beur. Jy word gevul met dankbaarheid vir wat jy het (jou eie gesondheid en omstandighede) en empatie vir ander wanneer jy hierdie mense besoek. Jy gee `n stukkie van jouself, offer `n klein bietjie van jou tyd op en word oorvloedig geseën in die proses. Jy voel nuttig wanneer jy besef jy maak `n verskil in iemand anders se lewe. Wat `n voorreg om nog so `n geleentheid te kon beleef!

 

Omgee liefde is: 'n glimlag; 'n skouer; 'n boodskap; 'n stille gebed. Dis 'n mooi mens wat spontaan help dra op daardie dae wat die son bietjie inlê en nie wil opkom in iemand anders se hart!

  

 

VLV-Lid Lizzy Snoek by pasient Joyce Skei met Wilna Nelson (takvoorsitter) en die “kinderkoor”: Catelyne, Taylor, Desmonique, Debra-Ann.

 

 

Wilna Nelson, Nancy (Johanna) Lukas & Lizzy Snoek.

 

  

Lizzy Snoek by Martiens Witbooi.

 

 

Van die pakkies koekies wat saam met 'n handgemaakte kaartjie & kersboodskap oorhandig is.



Posted on 13 December 2013

Sirkel: Paarl
Tak: Paarl Aand
Beriggewer: Una Engelbrecht
Datum: 12 Desember 2013

 

Lede van Paarl Aandtak met hulle geselle het die jaar feestelik afgesluit op die plaas van lid Annemarie Stanton en haar man, Vincent. Hier is gaste oorlaai met gasvryheid, lekker kos, aangename geselskap en is die jaar in oënskou geneem en vriendskapsbande verstewig.

 

 

Marinda Rall, ondervoorsitter van die tak en president van Sirkel Paarl saam met Hetta van Deventer, voorsitter.

 

 

LNR Daleen de Jager, gasvrou Annemarie Stanton, Lennie Henderson, Petro Boshoff.

 

 

LNR Martell Swart, Amanda Kapp en Tersia Pretorius en geselle, en Charlotte le Grange regs.

 

 

Links sit Margie du Plessis en regs Annemarie Stanton, plus van die manlike gaste



Posted on 12 December 2013

Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 11 Desember 2013

 

Elke Acqua-samekoms die afgelope jaar was ‘n hoogtepunt. Elke weersiens ‘n okkasie. Ongekompliseerde vriendskap en samesyn het harte warm gemaak en elke lid is met nuwe kennis en ervaring beklee. Ons is nou méér as wat ons was, want VLV-Acqua het ons bemagtig om meer knap, meer kundig, meer ingelig en méér vrou te wees. So aan die einde van ‘n jaar loop die gemoed oor van belewenisse, hoogtepunte, herinneringe, trotse oomblikke, deernis, liefde en empatie ontvang en betoon. Elke keer wat die Acqua-vriendinne mekaar raakleef, is ‘n kosbare kleinood om in die hart te bêre.

 

 

Acqua se laaste samekoms van die jaar, was letterlik en figuurlik, musiek in die ore. En daar was GROOT gegaan (huis toe gaan die Acqua’s beslis nié!). Dis mos nou darem al tradisie dat die jaar met ‘n Kersfees Kabaret afgesluit word en hierdie jaar was die meer as 100 gaste in vir ‘n gróót bederf met gróót klank. PE se grootste musiek produksiemaatskappy met internasionale optredes op hul kerfstok, Two Tone Music (www.twotonemusic.co.za), het met die Tuxedo Club gesorg dat die jaar op ‘n vrolike ‘big band way’ afgesluit word.

 

 

Francis & Brynley - Tuxedo Club

 

Dit was ‘n feestelike aand van goeie geselskap, ‘n smullekker 3-gang ete, kraampies met mooigoed en lekkernye, die kontemporêre, klassieke én jazz klanke van Two Tone Music en Chocolat se Belgiese sjokoladetruffels en geurige koffie om die aand af te sluit.

 

 

En nou moet die vriendinne vasbyt, want Acqua-weersiens lê vêr in die verskiet. Teen Woensdag,12 Februarie 2014, sal daar soos perde wat stal geruik het, met gesperde neusvleuels en kappende hoewe op PEGC toesak word vir die 1ste samekoms van die nuwe jaar. Dis ‘n weersiens wat nie ligtelik opgeneem moet word nie, want daar gaan baie wees om te vertel, te bepraat en te beplan. Lékker mannnnnnnnnnn............


Mag hierdie Kersgety vir almal groot vrede en rustigheid bring in die wete dat ons ‘n Almagtige en Wonderbare Heerser dien. Ons gebed in hierdie seisoen van oormaat, is vir ‘n oormaat verdraagsaamheid, vergifnis, geduld en respek – nie net teenoor almal wat ons omring nie, maar ook teenoor onsself.



Posted on 08 December 2013

Sirkel: Worcester.
Tak: Robertson.
Beriggewer: Dianne Coetzee
Darum: 7 Desember 2013


By Robertson VLV het daar vanjaar 'n nuwe gesig of twee op ons bestuur bygekom. Ons wens hule sterkte toe vir 2014.

 


LNR Tiena van Schalkwyk (uittredende voorsitter), Charmaine Lecroix (nuwe voorsitter 2014), Maryna Bothma (uittredende tesourier), Sunette de Villiers, Sirkelpresident en hulp-saameroepster van Leefstyl vir Sirkel Worcester, Maydene de Villiers (tesourier 2014).

 



Posted on 04 December 2013

Sirkel:  Weskus
Tak:  Citrusdal
Beriggewer:  Jolien Mouton
Datum:  4 Desember 2013

 

 

Citrusdal tak het vir 220 Graad 10-leerlinge en hul ouers van Bishops Diocesan College ontbyt gegee.  Hulle was oppad terug huis toe vanaf hul Bishops Epic wat 16 dae geduur het.  Die Bishops Epic word in die Sederberge gehou, waar die leerlinge 'n reeks aktiwiteite doen, soos bv. fietsry, ski op die Clanwilliam Dam en leer van die omgewing se geskiedenis en mense.

 

 

Astrid Basson het hul namens die tak welkom geheet.

  

 

 



Posted on 28 November 2013

Sirkel: Weskus
Tak:  Langebaan
Beriggewer: Charlotta van Eeden
Datum: 28 November 2013

 

Langebaan tak het 'n feestelike afsluiting gevier by GinjaBeans in Langebaan.

 

 

Dienie Rust (voorsitter) en Janeen Potgieter (visevoorsitter).

 

 

Alice van Tubbergh, Ninkie Goussard, Elize Kleynhans en Susan Hickman.

 

 

Suzette Hougaard, Estelle du Plessis, Magda Smit en Cornie van Wyk.

 

 

Isabel Basson, Hettie Hauptfleisch en Lorna Niehaus.

Categories