Christel Viljoen vertel van die verjaarsdagvieringe in die Overberg. . .
Op 'n pragtige lenteoggend, het die dames van VLV takke Jongensklip en Caledon saam die VLVK se 80ste verjaarsdag gevier. Die gasvrouens het elkeen tafels in hulle eie unieke en besonderse styl gedek in die NG Wes kerksaal te Caledon.
Die oggend is afgeskop deur Retha Skein, Voorsitter van Caledon tak, wat almal hartlik welkom geheet het by so 'n besonderse geleentheid. Sy het ook die opening behartig deur 'n gedeelte te lees oor hoe ons as vrouens God se vingerafdrukke op ander moet agterlaat deur die loop van ons dag tot dag verpligtinge. Daarna is die spreker van die oggend aan ons voorgestel.
JP Rust is 'n ongelooflike, spesiale jong man wat sy lewensverhaal met ons kom deel het. Wat hom so besonders maak, is die feit dat hy as doodgewone, gesonde seuntjie gebore is en groot geword het, maar op 11 jarige ouderdom met aplastiese anemie gediagnoseer is. Sy jonger boetie was 'n geskikte skenker en sodoende kon hy stamselle van sy boetie ontvang om hom gesond te kon maak. Na vele chemoterapie en bestralingsessies, kon hy as gesonde seuntjie weer met sy lewe voortgaan.
Na skool, gaan studeer hy landbou op Wellington en geniet sy lewe as student voluit, tot die aand van 11 Maart 2005, toe hy en 'n vriend in 'n motorkaping betrokke was in Stellenbosch. Deur die Here se genade, het hulle by 'n robot uitgespring en het met geringe beserings die voorval oorleef.
Na sy studiejare op Wellington, gaan werk hy op die plaas Watervlei in die Wellington-omgewing, en hy leef sy passie vir boerdery uit. Tot op die oggend van 16 Mei 2007, toe hy gedurende saaityd, sy linkerarm verloor toe die trekker se "PTO" sy arm by sy skouer afruk. Die medici kon op geen manier die arm red nie, en moes sy linkerarm amputeer.
Wat hierdie jong man so uniek maak, is dat hy deur al hierdie beproewinge, nog steeds op kyk en vorentoe gaan. Hy glo dat geloof in jou nekwerwel sit; jy kan of OP kyk en aangaan met die lewe, of jy kan AF kyk en op 'n bondel gaan sit en vergaan. 'n Absolute aansporing vir ieder en elk!!!
Deur al die beproewinge, het sy ma as vrou, altyd vir hom as anker en kragbron uitgestaan en sy is vir hom 'n regte rolmodel!
Hy het deur sy lewe geleer, soos daar in 2 Kor 4:7 staan dat ons lewens soos kleipotte is. Syne het soms gekraak en het al selfs gebreek, maar God het elke keer die stukke opgetel en dit weer geheg!
Na sy roerende praatjie, het hy vir ons vertel en gewys hoe sy prostese werk, wat so ongeveer R600 000 kos!!! Merkwaardig wat die wetenskap en medici vandag kan vermag!
Hetsie van Schalkwyk het daarna 'n pragtige gedeelte uit die stuk "As it is in Heaven" gesing en menige harte geroer. Daarna het Madeleine du Toit, voorsitter van Jongensklip, die bedankings gedoen en die gaste uitgenooi om meermale by die VLV te kom "kuier"!
En soos dit natuurlike ENIGE VLV geleentheid betaam, het 'n heerlike spyskaart op ons gewag:
'n Heerlike muesli, joghurt en vars vrugtekelkie met vars vrugtesap
Pannekoeke gevul met spinasie en fetakaas, en ook met fyn hoender en 'n Griekse slaai
Roompoffertjies, Brandewyntertjies en Koeksisters
En natuurlik het die sjampanje nie agtergebly nie!!!
'n Heerlike oggend is gevier met lede, vriende en kennisse om 'n merkwaardige mylpaal in die VLV geskiedenis te vier!
Mag die volgende 80 jaar met netso veel styl, toegewydheid en sukses uitgeleef word.
VLVK, ons salueer jou!!!!!!
Retha Skein, JP Rust en Madeleine du Toit

JP verduidelik die werking van die prostese

Verjaarsdag-kolwyntjie-toring

Wentafel van Christel Viljoen

Madeleine du Toit se tafel

Caledon tak se tafel

Smaaklike ete!

Jongensklip se "jongste lid" - net 6 weke oud
