Posted on 19 October 2009

Suzanne Wessels berig uit Velddrif.

 

Die oggend so half 10 het die ontbyt begin nadat almal eers ‘n bietjie gelag het oor van die kostuums van sommige van die dames. Die vergadering is gehou by die Foks'il in die Riviera Hotel, Velddrif. Hulle het ook die heerlike ontbyt verskaf. Ons het begin met joghurt en ‘n croissant wat jy kon vul met kouevleis of sommer net lekker konfyt en kaas. Daarna was daar ‘n gekookte eier, spek en ‘n quiche met sampioen en eier. Heel laaste het ons appeltertjies, koffie en tee geniet.

 

Die ontbyt is begin met die tradisionele VLV opening en gebed. Toe het Sinnie, Malinda en Jackie vir ons vertel van die geskiedenis van die VLV.

 

So tussen deur die etery het ons modeparade gehou met modes uit al die dekades. Eerste aan die beurt was Lynette Visser (Kunste en Handvlyt). Haar groep het 1920 tot 1930 gedoen. Hulle het die mooiste gatsby-era rokkies aangehad en een van die dames het selfs ‘n paar danspassies gedoen uit daardie era. Toe was dit Hanneke du Toit (Opvoeding en Kultuur) se beurt met die 1940’s. Hulle het baie deftig gelyk in hulle snyerspakkies en hoede. Estelle de Koker (Gesondheid) se groepie was maar klein, maar het baie mooi die 1950’s  verteenwoordig met die eerste Yves Saint Laurent sakrok.Toe begin die rebelse jare. Vera Winterbach (Landbou en Tuinbou) en haar groep het gewys wat het in die 1960 aangegaan met n bietjie "sex, drugs, rock and roll". Leticia Ellis en Gina Smit het ook lekker gebob”. Cornelia Marais (Leefstyl) was onherkenbaar met haar pruik as die ma van die Rosenkowich-sesling van 1970. Michael Jackson, Alf en Gene Simmons van KISS het ‘n draai uit die tagtigs kom maak. Hulle was deel van Louise Jacobs (Openbare Sake) se groep. Die bestuur het besluit hulle sal 1990 doen en Sinnie Koeglenberg (voorsitter) was skitterend as Moeder Teresa.

 

So om en by half 11 het ons almal ons glasies gelig en vir die VLV ‘n gelukkige verjaarsdag toegewens. Ons is toe na buite en het ballonne in die lug laat opvlieg. Die ballonne het op die grond rondgewaai en dit moes sekerlik baie snaaks gewees het vir enige persoon wat gesien het hoe ‘n klomp vrouens met vreemde uitrustings agter die ballonne aanhardloop.

 

Deona Huysamen het die lekkerste verjaardagkoek gebak en ons het nog daaraan gesmul terwyl van die gaste begin huistoe gaan het. Dit was ‘n heerlike oggend en almal het dit terdeë geniet.Ons sien uit na die volgende groot verjaarsdag!

 

 

Louise Jacobs (Michael Jackson)

 

 Die Gatsby Girls

 

 Suzanne Wessels (Gene Simmons), Louise, Sinnie Koeglenberg (Moeder Teresa)

  en Jackie (prinses Di)

 

 Verjaarsdagkoek deur Deona Huysamen

 

  

 

Moeder Teresa

 

  

 Daar gaan die balonne. . .

 

 Brêkfis

Comments are closed

Categories