Gedink dis sommer aanstellerig as 'n verfynde dame haar pinkie in die lug gooi terwyl sy tee drink? Nog maar altyd geglo dis net die koninklikes in vervloë dae wat werklik High Tea-partytjies gehou het? Dink weer. Want alhoewel die High Tea soos ons dit vandag ken wél in die Victoriaanse era ontstaan het, het die werkersklas, eerder as die adel van dié tyd, gestalte gegee aan hierdie eietydse, daaglikse noodsaaklikheid. En as ons vandag nog die korrekte tee-etiket reëls wil nakom, sal ons pinkies ook maar na bowe moet vlieg.
Op 15 Januarie het me. Margot Steenkamp 'n volledige, tradisioneel korrekte High Tea aan die Hantam VLV-dames bedien in die tuin van me. Marieta Strauss, Leefstyl saamroeper, op Kleinplasie in Calvinia. Lank reeds voordat die Hertogin van Bedford in 1840 ontdek het dat 'n toebroodjie, bedien saam met haar vieruur-teetjie smiddags, die lae bloedsuikervlakke herstel, het die mynwerkers húl namiddag teebreek met 'n ligte ete verwyl. Daar was nie veel tyd vir leeglê nie, en hierdie versnapering is dikwels sommer staande of by hoë kroegstoeltjies met tee of bier afgesluk. Die amptelike benaming van hierdie laatmiddag maal as High Tea het, voorspelbaar genoeg, in Engeland ontstaan.
Daarteenoor is die Afternoon Tea as 'n ligte, elegante tee vir spesiale geleenthede bedien, meestal met swierige koeke en botterbroodjies. Dit was egter ook Low Tea genoem, omdat dit by lae tafeltjies bedien is, en in die middag van 15:00 tot 17:00 wanneer die liggaamsritme op sy laagste was.
Maar of dit nou High Tea, Low Tea of Afternoon Tea is, deesdae behoort die bywoning van só 'n geleentheid 'n hoogtepunt op enigeen se sosiale kalender te wees. Solank jy net hou by die etiketreëls: moenie praat met kos in jou mond nie; moenie jou elmboë op die tafel rus nie; moenie slurp nie; moenie jou vinger in die koppie se oor haak nie - knyp dit eerder tussen jou duim-, wys- en middelvinger vas (en sien hoe jou pinkie outomaties opvlieg!); moenie hard kou nie; moenie jou botterbroodjie in die tee doop nie; moenie jou teekoppie rondswaai terwyl jy praat nie; moenie jou teelepel in die koppie los nie; moenie die tee gebruik om jou mond mee uit te spoel nie, en moet asseblief tog nie die teekoppie omkeer om te kyk waar dit vervaardig is nie!
Genadiglik het tye verander, en daarmee saam die streng voorskrifte van ons neus-in-die-lug voorsate. Of jy nou 'n High Tea met toebroodjies, pasteitjies en botterbroodjies bedien soos dit veronderstel is om te wees, met tee, koffie of koeldrank, is dit belangriker om te onthou dat dit geniet moet word.
Want wat is dan nou lekkerder as 'n lekker koppie tee saam met vriende?
JCB