Posted on
18 February 2010
Elise Snyman het uit Orania laat weet, dat hulle tak aldaar met groot entoesiasme uitsien na die nuwe VLV-jaar.
Orania tak is op ‘n reënerige dag in Desember 2008 gestig en hul eerste bestuur is einde Januarie 2009 gekies. Twintig entoesiastiese dames het die vergadering in die ouditorium op Orania bygewoon en dit waarna so lank uitgesien is, het ‘n werklikheid geword - VLV tak Orania!
Die eerste Konferensie in Britstown op 11 & 12 Maart ’09 was ‘n vuurdoop wat Orania-lede met onderskeiding geslaag het. Alhoewel lede net 6 weke gehad het om voor te berei, is daar met groot belangstelling en ywer weggespring. Die tak ontvang die skild vir hoogste puntetal, asook die skild vir beste kwaliteit! Uit die 12 plekke wat lede verower het, was 6 eerste plekke. Ook met Kongres ontvang Orania 3 pryse.
Vergaderings is vol hoogtepunte en praktiese aanbiedinge. Lede het gesien hoe ‘n basiese skondeeg vir 6 verskillende geregte gebruik kan word. Daar is geleer hoe om met sjokolade te werk en Griekse geregte te maak. Selfs onkruid en insekdoders het onder die loep gekom, toe Efecto dames ingelig het oor hul uitgebreide reeks produkte. Daar word ook op ‘n maandelikse basis aan kompetisies deelgeneem, beoordeel deur Rika Kirsten.
Elke lid bring haar eie teekoppie na vergaderings en gasvroue sorg vir keurige tee en versnaperinge na afloop van elke samekoms. Elke lid kry ‘n beurt om tydens vergadering aan die res van die lede bekendgestel te word, want so leer ‘n mens mekaar ken. ‘n Leuse en wenk, maandeliks deur ‘n lid gegee, sorg vir goeie en verrykende raad. Tydens die laaste vergadering word pryse aan suksesvolle dames vir tak-, sirkel- en streekskompetisies uitgedeel.
Die tak het ‘n Tuissorg Projek en lede is fluks besig met kniekombersies en bedsokkies vir die dorp se Versorgingseenheid. Een lid het ook aan die VLVK/Vrouekeur Entrepreneurskompetisie deelgeneem.
Ledetal het vanaf stigting tot hede gegroei van 20 tot 27. Die eerste jaar is agter die blad en almal sien uit na nog meer idees, nuwe kennis en natuurlik ‘n groeiende ledetal, in die jare wat voorlê.
Almal wat teenwoordig was met die stigtingsvergadering.

Elise Snyman besig met 'n sjokolade demonstrasie.

Marinda le Grange en Sandra Nolte. (Marinda is die dame wat verlede jaar 'n 1ste plek op Kongres gekry het!!)
