Posted on 19 February 2010

Leona Pienaar, gasspreker tydens Murraysburg se eerste vergadering van die jaar , het verskeie soorte kameras gewys. Alhoewel die digitale kameras fotografie vir die leek baie vergemaklik het, word die beste professionele foto’s nog steeds geneem met kameras wat film gebruik. Dit is natuurlik tensy ‘n mens die heel nuutste en duurste digitale kameras kan bekostig.  Die voordele van die digitale kamera is legio.  Wanneer dit op outomaties gestel is, hoef jy jou oor niks te bekommer nie. Vir die neem van kunsfoto’s behoort ‘n mens egter van die kamera se verskillende hulpfunksies gebruik te maak.


 
Sy het ‘n paar praktiese wenke vir die amateur fotograaf gegee.  Die horison behoort óf in die boonste derde van die foto te wees, indien die voorgrond dit regverdig, óf in die onderste derde van die foto, as daar ‘n besondere agtergrond is. Die fokuspunt moet nooit in die middel van die foto wees nie. Die foto sal meer treffend vertoon indien dit na die kant geskuif word.   Dit is goed om af te buk tot op dieselfde hoogte as dié van die objek,  bv. ‘n kind, aangesien die kind se kop andersins in verhouding met sy lyf té groot sal wees. Dit is beter om so na as moontlik aan jou objek te kom, eerder as om van die zoom-funksie gebruik te maak. Die beste tyd vir die neem van foto’s is vroegoggend of in die laat namiddag. Groepfoto’s behoort nooit met ‘n wit muur as agtergrond geneem te word nie. Dit is beter om jou foto’s eerder in natuurlike sonlig te neem as om van die flits gebruik te maak.


 
Leona het met behulp van haar skootrekenaar en die program Photoshop vir die lede gewys hoe foto’s na willekeur gemanipuleer kan word.  Selfs die diepste plooie kan met ‘n bietjie geduld weggetoor kan word.  Die vetrolletjies is egter moeiliker om te laat verdwyn!  Sy het verskeie dames geïnspireer om met Photoshop te eksperimenteer. Na dese behoort Murraysburg se dames uitstekende fotograwe te wees.


 
Wilna Pienaar, sameroepster van Kuns & Handvlyt, het prakties bewys dat ‘n mens met ‘n bietjie  moeite en baie kreatiwiteit die oulikste geskenke vir Valentynsdag kan maak. Dit is glad nie nodig om baie geld uit te gee om duur geskenke te koop nie. Minder is beslis meer, aldus Mette Kromhout, wat die bydrae uit Murraysburg gestuur het.

 

 Wilma Pienaar

Comments are closed

Categories