Posted on 15 March 2010

Nadat 'n aantal leerders vanaf Skotland 'n uitruilbesoek aan Hofmeyr gebring het, het Vivian Labuschagne, sameroepster van Opvoeding die geleentheid aangegryp, en die VLV lede meer kom vertel oor Skotland. 

 

Sy vertel dat Skotland deel vorm van die Britse Eilande, en altesaam 186 eilande vorm Skotland en beslaan sowat 78 772 vk km.  Edinburg is die hoofstad, 'n groot industriële en hawestad.  Skotland is 'n baie bergagtige land en Ben Nevis is die hoogste piek teen 1343 m bo seevlak.  Talle mere (lochs) maak deel uit van die landskap, met Loch Ness as die bekendste.

 

Die bevolking kan hoofsaaklik in 2 groepe verdeel word - die Highlanders en die Lowlanders.  Sy bespreek ook die klimaat, plant en dierelewe en natuurlike hulpbronne.  Sterk "clans" wat meestal deur familiegroepe gevorm is, oftewel die Mac's, was vroeër algemeen. Die Church of Scotland is die offisiële kerk.  Daar is ook 'n sterk Roomse kerk en talle kleiner denominasies. 

 

Wat opvoeding in Skotland aanbetref vertel sy dat skole beheer word deur die Skotse Onderwys Departement.  Plaaslike Beheerrade lewer ook 'n groot bydrae.  Drie-vyfdes van die leerlinge is in Staatskole en twee-vyfdes in privaatskole.  Daar word goed voorsien in opleidingsentrums na skool waar opleiding in landbou, kuns, ekonomie en wetenskap onderrig word.  Daar is ook 8 groot Universiteite waarvan sommige dateer uit die 15de en 16de eeue.

 

Wat die kultuur aanbetref meld sy dat die Volkslied bekend staan as "Flower of Scotland" en speel dan ook 'n snit van die lied.  Die doedelsak is Skots van oorsprong en Skotse musiek word daardeur gekenmerk.  Skotse danse en die 'kilt' is algemene drag tydens tradisionele byeenkomste.  Elke 'clan' het sy eie persoonlike tartanpatroon, en mag slegs die spesifieke tartan dra. 

 

Die Skotte is bekend vir hul Whisky. Sy stal die Skotse vlag uit, talle boeke, poskaarte, prente en ook 'n kaart van die land.

 

Vivian Labuschagne, Sameroepster van Opvoeding, hier voor haar uitstalling van Skotland.

  

 

Comments are closed

Categories