Posted on
19 March 2010
Die dames van Olifantshoek tak het met hul aanbieding van Konferensie 2010 verseker na die sterre gereik en 'n uitsonderlike dag aangebied.
Ds. Corrie Strydom het die verrigtinge geopen met 'n boodskap oor naasteliefde uit die bekende 1 Korintiërs 13. Strydom het veral klem gelê op die rol wat liefde speel om mekaar tot groot hoogtes aan te spoor en om met die uitgangspunt van reik na die sterre die beste moontlike VLV-lid na vore te laat kom.
Gaste het vasgenael gesit en luister na die openingsrede, mev. Ansie Fourie van Ficksburg, wat haar verhaal van teëspoed, val en opstaan, met haar oë deurentyd op die sterre gerig, humoristies oorgedra het. Fourie is mede eienaar van 'n "blik besigheid" wat sy saam met haar vennoot, mev. Sandra Netherlands, bedryf. Albei die dames is gekwalifiseerde maatskaplikewerkers. Fourie se woorde, "'n koei wat gaan lê vrek", het dames deurgaans laat skaterlag. Sy het haar lewe as voorbeeld gebruik van iemand wat na die sterre reik al lê sy in die modder. Haar verhaal gee hoop aan ander vroue, veral omdat sy 'n suksesvolle lewe kon herbou deur aan haar geloof vas te hou en net nooit moed op te gee nie.
Mev. Melana Möller, sirkelpresident, het tydens haar Presidentsrede VLV lede motiveer om hul lewens op te ruim en te herorganiseer. Sy het aan die hand van Nehemia voorbeelde gegee en veral gefokus op die individu se gejaagde lewe in die huidige lewensomstandighede. Möller het dames aangemoedig om voorraadopname van hul lewens te neem en aan die hand daarvan hul lewens te vereenvoudig. Sy het veral klem gelê op die ondersteuningsnetwerk wat lede mekaar bied en beklemtoon dat elke lid haar einddoel kan bereik deur voortdurend na die sterre te reik.
Die verslae van die onderskeie studierigtings is interessant aangebied en daar was waardevolle wenke vir een en almal. Kommunikasie met ons kinders, 'n tong in die kies praatjie oor wat styl is en wenke, fotografie en voorbeelde van foto's met ooglopende foute en hoe dit voorkom kan word, die ontstaan van sterre, hoe die internet ook vir VLV handig te pas kan kom en 'n praatjie met wenke oor die beplanning van 'n tuin.
Die sterlid vir Griekwaland-Wes sirkel is mev. Marie Jacobs. Hierdie merkwaardige dame is nie net 'n onmisbare lid van die Olifantshoek tak nie, maar ook 'n steunpilaar in die gemeenskap. Jacobs is nou betrokke by vele liefdadigheidsprojekte, staan haar plek in hul besigheid langs haar man vol en is 'n kreatiewe VLV vrou wat al vele kere op kongresvlak presteer het met haar talentvolle handwerk.
Olifantshoek het ook die meeste punte in die kompetisies ingesamel. Hierdie tak het konferensie 2010 in 'n onvergeetlike ervaring omskep.