Posted on 22 March 2010

 

 

Groepfoto

 

 

 

So is die tema uitgebeeld.

 

 

 

Reik na die sterre! Tydens die kenmekaar-ete het alle afgevaardigdes hul liggies laat flikker en saam gereik na die sterre.

 

 

 

Die eregaste en sirkelbestuur tydens die sirkelkonferensie.

 

Vanaf 16 tot 18 Maart is die 73ste Konferensie van Sirkel Namakwaland op Calvinia  deur die Hantam en Calvinia takke aangebied.  Dit verklaar natuurlik die ligte vibrasie wat daar verlede week op die dorp te voel was, want is dit nou vir jou 'n klomp begeesterde vroue daardie!  En as jy mooi geluister het na die klanke wat uit die Hantam Kerksaal gestroom het, besef jy gou dis 'n klomp begeesterde vroue daardie wat reik na die sterre.

 

 

Ds. Dokkie Lintvelt, al die pad ingevoer vanuit die Sandveld, het die amptelike verrigtinge geopen op Woensdag, 17 Maart.  Vanuit die bergprediking in Matt. 7 en 'n simboliese beeld van 'n houtblokkie, haal hy hierdie stukkie pitkos:  "Ons beoordeel mense so dikwels na die oppervlak, maar ons sien beslis nie alles raak nie, net soos een sy van 'n houtblokkie altyd weg wys van ons af, as ons daarna kyk."

 

 

Die vriendskapseremonie is behartig deur die eregaste:  me. Margaretha van Eeden, oud-visepresident van die Sirkel en erelid van Hantam VLV, me. Baby Nel, oud-stigtersvoorsitter en erelid van Hantam VLV en me. Riana van Niekerk, oud-president van die Sirkel.  Me. Claudie Lintvelt, oud-sirkelsekretaris het saam met me. Van Niekerk die vlagopstelling gedoen en ook die prysuitdelingseremonie behartig. 

 

 

In haar presidentsrede, het me. Karien van Schalkwyk, die konferensiegangers aangespoor om te reik na die sterre in ons lewe.  En dis nie nodig om mismoedig te word, omdat dit na 'n onbegonne taak klink nie.  Almal van ons weet immers hoe ver en wyd dit op pad is na die sterre, en die meeste van ons raak moedeloos nog voor ons dit bereik het.  Dit is eerder dikwels die klein, onbesonge dade wat van ons elkeen sterre maak, maar dit verg onmiskenbaar 'n mate van opoffering en isolasie.

 

 

Mense wat uitstyg, wat daarna streef om hul drome na te jaag, wat verantwoordelike en verantwoordbare keuses maak en wat hul strewe in God oorlaat, word ook sterre genoem. Wetenskaplikes beweer ons dra almal ster-stof in ons rond.  Ons is dus kinders van die groot heelal. Die heelal, die uitspansel, alles is skeppings van die groot Skepper.  Ons moet dus net na Hom reik, na Wie ons eendag weer gaan terugkeer, en voor ons ons kom kry, het ons die sterre bereik.

 

 

In aansluiting by die sterre-tema, het ds. Edward Archer as gasspreker by die Dinee, benadruk dat ons mekaar moet toelaat om te reik na die sterre... meer nog, ons moet mekaar ondersteun in ons strewe na die sterre.  Want as ons reik na die sterre, reik ons na iets baie groter as wat ons ooit kan dink of droom - ons reik na Hom wat dit gemaak het.

 

 

In die 6 verskillende sameroepersafdelings is hierdie interessante onderwerpe bespreek: 

 

Vir Openbare Sake, het mnr. Jansie Steenkamp, 'n ingeligte boer van Kliprand, hoop en raad gegee om 'n plaasaanval af te weer of te oorwin. 

 

Vir Opvoeding en Kultuur, het me. Rika van Zyl, 'n onderwyseres in die grondfase op Calvina, die belangrike samewerking tussen die ouers en die onderwyser beklemtoon, ten einde 'n goed opgevoede, selfstandige kind groot te maak. 

 

Me. Alida Vlok het in die Leefstyl portefeulje vertel van al die lekker nuwe kompetisies wat voorlê vir 2011 en almal aangespoor om daaraan deel te neem deur o.a. Thomas Edison se woorde aan te haal:  "Baie mense het misluk, omdat hulle opgehou het op 'n punt toe hulle nie besef het hoe naby aan die einde hulle al was nie."

 

Me. Elzabé Augustyn het ons teruggeneem na die ontstaan van die regte koppie boeretroos, en verduidelik waarom koffie, naas petrol, die grootste handelsartikel in die wêreld geword het.  Daar word glo gesê dat daar agter elke suksesvolle vrou, 'n aansienlike hoeveelheid koppies koffie is.

 

Die meeste van ons se algemene goeie gesondheid word deesdae bedreig deur 'n groot vyand genaamd stres.  Alhoewel ons liggame stres nodig het om optimaal te funksioneer, forseer ons gejaagde lewenstyle dat  te veel stres negatief begin inwerk op ons gesondheid.  Me. Arina van Lill gee 'n paar wenke om ons stres-barometers te toets en af te bring tot meer aanvaarde vlakke.

 

In 'n roerende huldeblyk aan George Weideman, stap me. Fesia Engelbrecht terug op sy lewenspaadjie, een waarin sy 'n groot rol gespeel het as Weideman se ousus.  Sy sing selfs vir ons 'n gedig van die bekende skrywer, wat sy self getoonset het.

 

Die kompetise-inskrywings was vanjaar weer van hoogstaande gehalte en die lede wat trofeë verower het, kan met reg trots wees op hul werk.  Die takke met die meeste punte was in die sesde plek Calvinia, Hantam was vyfde, Loeriesfontein vierde, Nieuwoudtville derde, Vredendal was tweede en Lutzville het die meeste punte verower. 

 

 

Die nuwe Sirkelbestuur vir 2011 is ook verkies.  Hulle is me. Karien van Schalkwyk as President, Ina Bosman is Visepresident en Kobie Basson is die Sekretaris/Tesourier.  Die sameroepers in die verskillende portefeuljes is mee. Heidi van Niekerk vir Kunste en Handvlyt, Elzabé Augustyn vir Landbou en Tuinbou, Alida Vlok vir Leefstyl, Sanet Ras vir Opvoeding en Kultuur, Arina van Lill vir Gesondheid en Gerda Theron vir Openbare Sake.

 

 

Mag ons elkeen eerder kyk na wat ons alreeds bereik het, i.p.v. om net te fokus op wat ons nog nie bereik het nie in ons strewe om te reik na die sterre.

 

JCB

  

Comments are closed

Categories