Posted on 30 March 2010

Konferensie 2010 te Redelinghuys
 


'n Ywerige aantal lede(13) het vroegoggend, so 5 uur opgestaan om betyds te wees vir die vertrek met die bussie na die Konferensie.  Maar o weë, Eskom het 'n bietjie afgevat en........ die dames moes toe almal in die donker hare kam en grimeer!  Gelukkig het party al die vorige aand so tussen die kragonderbrekings hulle "tabbertjies" gestryk.   Toe die son sy gesig wys, het hulle lekker gelag vir mekaar se grimering!  Gou-gou is die spieëltjies uitgepluk en is die grimering en hare reggetrek!  Dit het blykbaar gegons in die bussie, die land is reggeruk, die skole, die paaie ens. het almal "make overs" gekry!  Natuurlik sou van die VLV dames darem oulike kabinetslede in die Presidensie gewees het.


 
Almal is dit eens dat dit 'n heerlike konferensie was, met goeie sprekers, heerlike eetgoedjies met teetyd en wonderlike kos etenstyd.  Selfs yskoue vrugte soos turksvyskyfies is bedien.  Redelinghuys het hulself oortref!  Baie geluk!


 
Die prysuitdeling was 'n groot hoogtepunt.  Ons lede het onder die bekwame leiding en aansporing van Suzette Hougaard ons hoofbeoordelaar, pragtige kompetisie artikels voltooi en is beslis daarvoor beloon.
 

Langebaan tak ontvang die volgende trofeë:
 
Breiwerk - P. Andrag & seuns trofee
Wisselafdeling - Rae Smith trofee
Meeste punte in Handvlyt - Lambertsbaai trofee
 

Die hoogtepunt vir ons tak was toe ons aangewys is as die 10 uit 10 tak van die Sirkel - René Louw trofee.  Elke lid van Langebaan verdien hiermee 'n ster voor die kop, want ons het almal as 'n span saamgewerk om hierdie prestasie te bereik.  Ons is almal trots om lid van VLV - Langebaan te wees.  Een van ons lede was so bly, sy't sommer op haar stoel gespring van blydskap! (Sal nie sê wie nie!)
 

Oppad terug het die busbestuurder, wat die hele dag tyd gehad het om Redelinghuys te verken, die lede eers op 'n "begeleide toer" deur die dorp geneem.  Nou weet almal ook waar oom so en so gebly het.  Dankie Melt!
 

Vir almal wat nog nie 'n konferensie bygewoon het nie, jy mis baie!!!!  Miskien moet ons volgende jaar 2 bussies vol dagbesoekers maak!!!

 

 

 

Estelle du Plessis ontvang die 10/10 trofee van die Sirkelpresident - Louwna Hoving

 

 

 

 Dienie Rust se mooi gebreide pop

 

 

 

Die twee afgevaardigdes konsentreer!  Hennah Greeff en Hilary Nepgen

 

 

 

 

14 Langebaan dagbesoekers by Konferensie

Comments are closed

Categories