Verslag van 58ste Konferensie van Sirkel Paarl gehou op 18 Maart 2010 te Riebeek Valley Hotel, Riebeek-Wes.
26 Afgevaardigdes en verskeie waarnemers het die konferensie, met ‘fiksheid in beweging’ as tema bygewoon.
Ds. Duvenhage van Riebeek-Wes open met die lees van 1 Kor. 4:7 en vra “Wie maak jou so belangrik?”. Ons vergeet dat die lewe ’n gawe is en als wat ons het, het ons gekry. ’n Gawe uit God se hand het net betekenis as dit in verhouding met Hom gebruik en gedeel word. By die VLV kry ons in mekaar se teenwoordigheid betekenis, want hier deel ons ons kennis en gawes met mekaar. Hy sluit af met ’n gebed.
Mev. Steffi Brink (Sirkelpresident) heet almal welkom, en so ook mev. Debora Thiart, namens die gasvroutak.
Mev Brink lewer haar laaste jaarverslag na ’n baie besige VLV jaar met o.a. die aanbied van Kongres. Toe ons klein was, het ons gesing ‘twinkle, twinkle little star...’ en vandag reik ons na die sterre; die eerste saadjie is toe gesaai. Vandag is ’n belangrike plek op pad na môre. Elkeen moet sy beplanning reg hê op pad na sy mikpunte, want anders kan jy baie energie en entoesiasme verkwis en tog niks bereik nie. Sy hak aan by die bekende ‘as jy misluk in jou beplanning, beplan jy om te misluk’. Jou mikpunt moet groot genoeg wees om as uitdaging te dien. Dit moet jou inspireer om dit aan te pak wat op die oomblik as ver bokant jou vermoëns lyk. Onthou altyd – niks is beter as die wind van agter, die son van voor en jou vriende langs jou nie. Sy bedank die sirkel ‘from the bottom of my heart, I thank you. You raised me up to be more than I could be’.
Die ontbinding van Riebeek Kasteel as VLV tak laat ‘n groot leemte in die sirkel. Sy moedig hulle aan om nie weg te bly nie, want die VLV het hulle nodig!
Mev. Francina Marais, visepresident, bedank haar omdat sy altyd die son sien skyn aan die einde van die wapad.
Finansiële verslag word deur Mev. Jean Rosenstein, tesourier, gelewer. Sy moedig die lede weer aan om aansoek te doen vir die rentevrye studielenings van Sirkel Paarl.
Uitslae van kompetisies
Borduurbeker: Suider-Paarl
Hekelbeker: Riebeek-Wes
Naaldwerkbeker: Riebeek-Wes
Kuns en Handvlytbeker: Malmesbury
Breibeker: Slot van die Paarl
Blombeker: Riebeek-Wes
Kookkunsbeker:Slot van die Paarl
Meeste punte gebak: Suider Paarl
Fattis & Monis beker vir algeheel die beste: Riebeek-Wes
Mees uitstaande inskrywing: Cobie Malan, Riebeek-Wes
Tip Top-tak: Suider Paarl
Die saamroepers het aanbiedings gedoen:
Naaldwerk - Wat is dit wat die Franse vrou altyd stylvol laat lyk? Onder andere ’n mooi serpie, ’n stylvolle handsak, luukse parfuum, ’n klassieke wit hemp of jassie en goeie onderklere.
Openbare Sake - Demonstrasie hoe om die VLV se inligting op die internet te bekom.
Kuns en Kultuur - Hoekom onthou ons stories makliker? Wat’s die storie agter die storie?
Gesondheid - Vergiftiging van oordosis aluminium. Dit kan deur die buisies van tandepasta, anti-persperante, geprosesseerde kaas, bruismeel, bakpoeier, koeldrankblikkie, foelie en poeier in die liggaam kom. Lees die etikette op produkte. Aluminium gee nie Altzheimers nie, maar navorsing toon dat die brein van Altzheimer-pasiënte tot ’n derde meer aluminium bevat as gesonde mense s’n. Gebruik liefs koperpotte of vlekvrye staal potte met ’n koperbasis.
Leefstyl – Die volgende konferensie se kompetisies word bespreek asook binneversiering van jou huis en hoe dit ’n huis verkoop.
Landbou – VLV bring hulde aan elke boervrou. Takke word aangemoedig om meer aandag te gee aan die minder bekende.
Opvoeding – Die verslag afdelings word behandel en takke word aangemoedig om gebruik te maak van hul dorp se fasiliteite.
Mev. Elsabé du Plessis, gasspreker, praat onderhoudend oor hulle ‘vrugteslaai’-boedery op die plaas.
-olywe: pluk die vrugte van April tot einde Julie en laat die boom rus tydens Augustus. ’n Mens kry nie groen en swart olywe nie. ’n Olyf raak ryp van bo na onder in die boom. Die swart olywe sit dus bo in die boom. Olyfbome is immergroen, blom in November, dra net op lang slap takke en moet liefs in die binnekant bietjie gesnoei word sodat son oral kan inkom. Hulle vervaardig ook olyfolie, waarvan die heel beste produk, ekstra edel, gebruik word vir slaaie, mayonnaise en roomys. Moet ook nooit olyfolie in die yskas bêre nie. Goeie olyfolie kan 18 maande oud word voor dit verval.
-boegoe: boegoesalf is bietjie duur, maar uitstekend vir gebruik deur kankerpasiënte. Selfgemaakte boegoe-tee is ook baie goed vir opgeblase gevoel en maagpyn. Boegoe in die badwater en ’n glasie boegoe-brandewyn is net die regte ding na ’n stresvolle dag!
-stokkiebedryf: Weet u waarvandaan kom die uitdrukking: iemand draai stokkies?
-Pinotage konfyt: Sy verskaf konfyt aan heelwat winkels en padstalle. Dit word in 30kg potte gekook.
Item
Sangduet deur Denver en Donald van die DD Band en Dansgroep van Riebeek Wes.
Organisasie
**Mev. Marinda Rall word verkies as nuwe sirkelpresident en Mevv. Emmie Malan (Gesondheid), Monica Geldenhuys (Landbou) en Aletta Keyser (Leefstyl) word ook verkies.
**Mev. Steffi Brink tree uit as Sirkelpresident van Sirkel Paarl.
**Afgerolde stukke is aan elke voorsitter uitgedeel oor sake uit hoofkantoor.
**Na publieke teenkanting asook ’n brief van Mev Erika Lubbe, VLVK President, aan MultiChoice oor beoogde pornografiese kanaal, het hulle laat weet dat hulle die kanaal laat vaar.
Mev. Bokka Wagenaar nooi lede uit na Sirkelkonferensie 2011 by Slot van die Paarl op 17 Maart 2011.
Ingestuur deur: Mev Annalise Loubser (Sirkelsekretaris)