Nee, dis nie 'n spelfout nie, die Hollanders spel hul weergawe van die liefde met 'n "v". En as 'n mens hierdie eeue-oue wonder-woordjie 'n bietjie gaan ontleed, besef jy gou dis met goeie rede dat hulle dit só spel.
Magda Kotze is 'n Naturopaat van Wellington, wat spesialiseer in 'n holistiese benadering tot gesondheidsorg, meer spesifiek in energieke medisyne. Sy het vir die Hantam VLV-dames kom verduidelik tydens die Gesondheid-vergadering o.l.v. Louise Brynard, hoe hierdie spesialisveld aangewend word om siektes te genees. Dit is vir Magda 'n voorreg om met mense te kan werk, terwyl sy probeer om hulle gesond te maak. Sy glo egter dat God die enigste werklike Geneesheer is, en dat ons slegs menslike hulpmiddels gebruik om ons liggame te help om self weer gesond te word.
Die meeste van ons is gewoonlik fyn genoeg ingestem om agter te kom wanneer daar fout is met ons liggame, en meestal kan ons self uitwerk wát die fout is. Die probleem kom egter in dat ons nie weet hóé om die fout self weer reg te kry nie. Dit is hier waar Magda met haar QXCI-masjien en -rekenaarprogram inkom. 'n Elektrode-bandjie word om jou kop en arms vasgemaak, waarna ligte elektriese golwe deur jou liggaam gestuur word, sodat dit volgens 'n wiskundige tabel op 'n hardeskyf gekalibreer kan word. Die program spoor blokkasies in jou liggaam op wat gevorm word deur negatiewe dinge soos trauma waardeur jy al moontlik in jou lewe moes gaan. Ons liggame krop hierdie negatiewe energie op, en 'n blokkasie vorm wat ons fisies en geestelik baie siek kan maak, omdat die essensiële voedingstowwe nie na hul werkplekke kan beweeg nie. Wanneer 'n blokkasie opgespoor word, word hulpmiddels soos o.a. gebed, akupunktuur, homeopatie, frikwensies en klankgolwe ingespan om die pasiënt te behandel.
Daar is egter ook heelparty dinge wat 'n mens self ook moet doen, om die behandeling effektief te maak: Drink genoeg water en oefen elke dag om jou liggaam skoon te hou. Bou jou immuniteit op, veral voor die winter, deur o.a. geel groentes te eet wat ryk is aan Vit. A. Neem die regte aanvullings in korrekte dosisse. Eet reg en gesond volgens jou bloedgroep. Moenie jouself alles ontsê waarvan jy hou of voor lus het nie - handhaaf egter altyd 'n balans. Spandeer daagliks ten minste 20 sonskermlose minute in die oggend- of namiddagson, sodat jou liggaam sy Vit. D, Potassium en Kalsium kan gebruik vir volgehoue energie. Moenie rook nie, en gebruik alkohol matig. Beskerm jou vel teen die son en wind. Hou jouself besig met 'n stokperdjie en spandeer genoeg tyd aan jou geliefdes. Lag baie en bid nog meer - dit is die beste energieke medisyne ooit. Huil sommer gereeld en treur wanneer dit nodig is; sit dit egter agter jou wannneer jy klaar getreur het en beweeg vorentoe. Omring jou met liefde, die natuur en alles wat jou hart vasvang, want onthou, dis ENERGIE, en dit maak jou heel. Hê vrede in jou lewe, en gaan leef dit uit, dan kan jy alles hanteer wat op jou pad kom.
En dis op hierdie puntjie wat die Hollandse woordjie LIEVDE betekenis kry:
LEEF! Baie van ons is al dood terwyl ons nog asemhaal;
Wees 'n INNIGE, opregte mens;
Ons vorm 'n EENHEID en kan nie alleen deur die lewe gaan nie;
Lewe met VREDE,
DANKBAARHEID en
vir die EWIGHEID.
JCB