Posted on 18 May 2010

Tydens die Openbare Sake vergadering van 12 Mei het Maretta Theron verskeie aktuele sake wat onder die portefeulje ressorteer aangeraak.  Die lede het hulle so vêr moontlik met uitrustings, wat hulle ondersteuning van die sokkerskouspel weerspieël, uitgedos ten einde eenheid en nasiebou in ons land te bevorder.


 
Adrie Conradie, die hoofspreekster, het uit eie ondervinding hulle gesin se emosies en ervaringe rakende ‘n kind wat oorsee woon en werk met die gehoor gedeel.  Nadat hy met ‘n Franse meisie getroud is, het hulle seun Jaco uit eie keuse besluit om in Frankryk te gaan werk soek.  Aangesien die beheersing van die taal ‘n voorvereiste was om ‘n goeie,  permanente betrekking te kon bekom, moes hy noodgedwonge eers allerhande los werkies doen terwyl hy taalkursusse gevolg het.  Omdat hy doelgerig was, het hy vinnig gevorder en ‘n werk as ingenieur in die bootbou-industrie bekom.  Hy het gou gevind dat die wêreld in Europa vir die gewillige en toegewyde werker oop is.
 

Die harde werklikheid het eers tot Adrie en Flippie  deurgedring toe hulle besef het dat dit nie slegs ‘n tydelike skeiding is nie.  Hulle was bly oor die geleenthede en uitdagings wat hulle seun gekry het. Juis daarom poog hulle om vir Jaco so vêr moontlik te ondersteun.  Hulle praat dikwels met mekaar en het geleer om baie sensitief vir hulle kind se gemoedstoestand te wees.  Hy word aangemoedig om oor sy lewe, vreugdes en probleme in Frankryk te praat. Wedersydse gereelde besoeke help hulle ook om deel van mekaar se lewens te bly.
 

Gelukkig het Jaco gou ‘n goeie vriendekring, wat baie aangename en interessante dinge saam doen, opgebou .  Die lewe en werk in Frankryk is vol uitdagings, maar hy is gelukkig in sy werk, al bly die gemis aan die familie en eie godsdiens en tradisies nie agterweë nie.  Adrie en Flippie probeer hom altyd positief en met die nodige humor motiveer en hulle sê so dikwels moontlik vir mekaar hoeveel hulle vir mekaar omgee en mekaar waardeer.  Al is dit vir ouers bitter moeilik wanneer hulle kinders so ver elders woon en werk, maak ‘n ouer daarmee vrede solank dit tot die kind se voordeel strek.
 

Margaret Booyse, wat op Kareebosch woon en werk, is lid van die forum wat hom vir plaasveiligheid beveilig en sy het die vergadering kortliks oor hulle aktiwiteite ingelig en kon hulle meedeel dat die forum en sy lede danksy hulle waaksaamheid en oplettendheid beslis ‘n verskil, in die omgewing waar hulle aktief is, maak
 

Nadat Mette Kromhout uit eie ondervinding vertel het hoe tevrede sy met die Bio-wasbal is, nie net weens die koste-effektiwiteit nie, maar veral omdat dit ook omgewingsvriendelik is, het die lede aan ‘n vasvra oor verkeersreëls deelgeneem en besef hoeveel leemtes daar in hulle kennis is, ten spyte van jare se bestuur. Daarmee het nog ‘n leersame en interessante vergadering ten einde gekom.
 
Beriggewer: Mette Kromhout
 

Comments are closed

Categories