Posted on 20 May 2010

Ons besoek Ansie Greeff se Voëlboerdery - Beervlei Parrots, by die Beervleidam, 30 km vanaf Willowmore. Dit het begin as haar stokperdjie maar nou is dit 'n besigheid. Sy voer ook voëls uit. Daar is 'n ongelooflike verskeidenheid van soorte, kleure en grootte - .200 voëls en 15 spesies! Saam met haar man hanteer hulle die versorging van al die voëls self. Ansie het 'n absolute passie vir wat sy doen en na afloop van ons toer het sy die dames getoets deur 'n vasvra!


 
Daarna vertrek ons na Louretta Lötter se plaas, Doornpoort. Hulle is bekend vir hul Boerbokke. Haar man, Kobus, is 'n bekende as dit kom by Internasionale beoordeling van Boerbokke en ook die aanbied van Boerbok kursusse. Louretta laai ons (oud en jonk) op haar Land Cruiser en vaar met ons die berge in. Dit is nou 'n boervrou wat 'n grondpad kan ry!! Sy’t skoon vergeet van ons wat agterop die bak stof en wind moes trotseer! Louretta is in die Gastehuis bedryf en gaan wys ons haar gastehuise op Van Rooyenskraal. Wat 'n ongelooflike uitspanplek in die ongerepte Karoo, is dit nie.


 
Boy, Louretta se seun, neem die stuurwiel by haar oor en ry met ons klomp gillende, beangste, maar darem ook opgewonde passasiers SKOORSTEENBERG uit. Dit is 'n verskriklik pad, baie steil, klipperig en boonop langs 'n afgryslike afgrond. Dan is daar nog hekke ook teen die berg wat moet oop en toe. Maar wat 'n asemrowende gesig is dit nie toe ons bo-op die berg kom nie! Jy kan so vêr as Graaff-Reinet se berge sien. Met die tog af was ons nie meer so verbouereerd nie en kon ons die uitspansel voor ons geniet. Wat 'n voorreg om dit te kon aanskou. Wind in ons hare ten spyt en heelhuids ongeskonde,  het ons vir 'n feesmaal gaan aansit met ons terugkoms op Doornpoort.


 
Ons dank aan Ansie en Louretta wat die dag onvergeetlik vir ons gemaak het.

 

 

 

By Ansie se Voëlplaas.

 

 

 

 

Het ons geklim of geval?

 

 

 

Louretta se gastehuis. Kyk hoe mooi het sy die tuin met klip uitgelê van klippe daar uit die berge!!

 

 

 

Bo-op Skoorsteenberg!

Comments are closed

Categories