Posted on
01 June 2010
Rina Coreejes skryf:
Die De Aar tak van die VLV het ‘n in diepte oorsig van heuning en heuningboerdery gehad. Annelise Willems van Stellenberg in die Wes-Kaap, was die spreker.
Sy het vanaf 25 miljoen jaar gelede gedek; deur die Romeine wat drie maal per dag heuning geëet het en die Grieke wat heuning as betaalmiddel prakties gevind het, tot waar Suid-Afrika tans 6 000 by spesies het waarvan slegs 6 spesies heuning maak.
Die mees algemene spesie van heuningby in die Wes-Kaap is die Capensis. Die Scuttellata word in die Noord-Kaap aangetref. ‘n Swerm heuningbye bestaan uit 10 000 tot 60 000 bye. Van hulle onderskei ons die koningin, hommels en werkerbye. Die werkerbye is vanaf dag 1 selskoonmakers wat ook larwes voer. Dit verander van dag 6 tot 13 wanneer hulle die koningin en babas voer asook hulle eerste vlugte as jong bye maak. Daarna dra hulle die rommel uit die nes vanaf dag 12 tot 20, pak stuifmeel, waai heuning ryp en bou was en propolis. Dis eers vanaf dag 18 tot 28 dat ons werkers sien stuifmeel, water en nektar versamel. ‘n Besondere loopbaan vir die vroue van die bye.
Wanneer Annelise oor heuningboerdery praat onderskei sy tussen boer met heuning, stuifmeel of swerms.
Duidelike riglyne vir heuningboerdery is aangestip
1. Jou broeikas moet 10 rame hê en n “super” wat ook 10 rame het
2. Jy moet staanplekke kies wat gereeld gekontak kan word met ‘n motor
of bakkie
3. Kry ‘n swerm
4. Beskermende klere is nodig
5. Jy kan nie sonder ‘n roker goed werk nie
6. Onthou potjies om die heuning in te hou
7. Woon kursusse by
Sy het ook vlugtig aan ons verduidelik hoe om ‘n swerm te verskuif na ‘n nuwe broeikas.
Ter afsluiting is die proses van hoe om heuning uit te swaai en te bottel, verduidelik. Veral die feit dat heuning nie meer as 37 grade celsius verhit moet word nie, is goed om te weet. By hoër grade verander die heuning se smaak.
Die kersie op die koek was ‘n video van ‘n werklike heuning uithaal proses. Al die voorbeelde is toegelig met telefoonnommers en organisasies waar ‘n byeboer prakties hulp kan kry. Pitkos vir VLV vroue.