Posted on
19 June 2010
Saterdag, 5 Junie, het die jaarlikse Openbare vergadering van Victoria-Wes VLV by de Oude Pastorie gastehuis plaasgevind. Met 'n kaggel wat die nodige hitte verskaf, kon daar lekker saamgekuier en gesels word.
Daar is die oggend na toerisme gekyk. Die voorsitter het daarop gewys dat verskeie aspekte soos geskiedenis, literatuur en natuurlik sport, gebruik kan word om toeriste na 'n dorp/land te lok. Sy het 'n paar van Victoria-Wes se besienswaardighede uitgewys. 'n Leerder, Belinda Barnard, het kans gekry om haar inskrywing voor te lees oor hoe sy Victoria-Wes aan besoekers sou bekendstel. Sy was die wenner van die kompetisie wat vir gr. 6 en 7 leerders aangebied is.
Daarna is gefokus op die sokker wêreldbeker wat vanjaar in ons land aangebied word. Meer is vertel oor die gelukbringertjie, Zakumi, wat deur 'n mnr. Odendal ontwerp is. Die amptelike embleem en die betekenis is ook uitgelig. In die lig van toerisme (en gesondheid) is 'n voorstel aanvaar om met die plaaslike munisipaliteit in gesprek te tree oor die oprigting van openbare toilette.
Me. Leatitia Duminy het foto's gewys wat sy geneem het van interessante geboue toe sy in Engeland bejaardes opgepas het. Die dames het dit baie interessant gevind.
'n Lid, me. Sinclair, het terugvoer gegee oor die Schreiner-aand wat in Mei aangebied is. Sy't ook genoem van die literêre roete wat die spreker by die geleentheid, dr. David, beplan. Hy is ook tans besig met 'n koffietafelboek oor plattelandse kerke.

Belinda Barnard ontvang haar prys van me. Perrin.