Posted on 15 September 2010

Dinsdag, 7 September 2010, kom ‘n opgewonde groepie VLV-dames by die NG Kerksaal in Bredasdorp bymekaar vir hul jaarlikse uitstappie. Vanjaar is daar besluit om besoek te bring aan al die besienswaardighede wat in Napier en omstreke te sien is.  Ons as Bredasdorpers jaag net altyd vinnig deur Napier, óf op pad Kaap toe, óf weer terug huis toe en weet nie altyd wat alles in ons ou buurdorpie aan die gebeur is nie.


Ons eerste besoekpunt was die Dragonfly Farm van Brenda Shelley and Jacqueline Weilenmann.  Brenda was a mode-, reis- en kunsfotograaf wat baie jare in Amerika deurgebring het terwyl Jacqueline, ‘n maatskaplike werkster van beroep, verlief geraak het op Suid-Afrika toe sy hier kom vakansie hou het nadat sy in Switserland op ‘n bokplaas gewerk het. Hierdie twee dames is sommer baie trots toe hulle in 2009 gekroon is as Vroueboer van die Jaar. Hulle verkoop ook ‘n verskeidenheid heerlike tuisgemaakte bokmelkkase en is ook trots op hulle kruietuin.


Volgende stop was die kwiltskool van Annatjie Andrews.  Hier kon die dames hulle verlustig in al die mooi lappe en het sy ons bietjie vertel wat sy alles doen.  Sy lewer ook ‘n demonstrasie hoe om jou kosbare kwilt te “sandwich” met die kwiltmasjien.


Ons besoek ook Sugarbush en hier word ons mooi vertel van al die verskillende stappe wat moet gebeur voor jy die pragtigste suikerstokkies by jou koffie kan geniet.  Die hele proses neem enige iets van 3 weke vir die wit- tot 3 maande vir die karamelstokkies.  Van hul grootste kliente is Pick & Pay en dan ook verskeie restaurante en koffiewinkels landswyd.


Na al die soet, kom ons toe by die bitter!  Napier Brouery, ‘n mikro-brouery, waar drie vriende besluit het om  bier op klein skaal te maak en hier word ons gewys waardeur die mout gaan voor ons dit in die bottel kry.  Ons kon proe van die Stout, Lager en Ale en wat tans in al die restaurante in Napier verkrygbaar is.


Na al die soet en bitter, het ons heerlike middagete geniet by Gunner’s Mess en kon die dames kuier met ‘n glasie in die hand voor ons weer vort is na All Sorts, waar Leon Visser ons sy militêre uitstalling gewys het.  Min dames was lus om die trappe af te daal na die kelder, maar toe hulle eers tussen al die ou medaljes, uniforms en ander items was, kon jy hulle weer nie daar wegkry nie!  Hy maak ook die mooiste skaakstelle.


Ons volgende stop was die loodglas-werkswinkel waar ons gewys is hoe hierdie pragstukke vorm aanneem.  Volgende op die program was Alletta se Kuierhuis, ‘n pragtige ou huis wat gerestoureer is en nou omskep is in die pragtigste gastehuis.  Ons het die dag afgesluit met ‘n besoek aan ‘n kwekery waar almal na hartelus kon koop.


‘n Groot dankie aan Riona Swart wat hierdie heerlike dag vir ons gereël het – ons het heerlik gekuier in jou kontrei!

 

 

 

Dragonfly Farm se bokkies

 

 

 Sugarbush se suikerstokkies

 

 

 Mia Landers en Barbara Mandy bier in die hand

 

 

Loodglaslampe

Comments are closed

Categories