Posted on
19 September 2010
Die Rooibosplant Aspalathus linearis vorm deel van die Kaapse Blommeryk, algemeen as fynbos bekend. Hierdie peulagtige plant is 'n lid van die Fabaceae-familie van meer as 200 spesies en dit groei inheems in die Sederberge rondom Clanwilliam.
Chris en Annette du Plessis het ons toegespreek. Hulle is die eienaars van die enigste Rooiboslandgoed in Suid-Afrika. Hierdie wildernisgebied met sy ruwe berge, vars lug en helder bergstrome bied die perfekte omgewing vir hierdie unieke plant met sy helende eienskappe.
Rooibos is net so spesiaal soos die bergagtige omgewing waarin dit groei - 'n gebied wat eens op 'n tyd met die stemme van die San-mense weerklink het. Die rotstekeninge wat die San reeds so ver terug as 6000 jaar gelede op grotwande in die omgewing gemaak het, vorm vandag deel van ons kultuurhistoriese erfenis.
Rooibos is baie meer as net 'n tee, en die mediese wetenskap het pas begin om die talle voordele daarvan te besef. Ontdekkings tot dusver dui daarop dat dit 'n teenmiddel vir die stres van ons daaglikse lewe is. Rooibos is 'n natuurlike produk wat ryk is aan antioksidante en wat geen kafeïen, bymiddels, preserveermiddels of kleurmiddels bevat nie. Daarby bied Rooibos talle ander voordele soos antispasmodiese, anti-karsinogeniese en anti-allergiese eienskappe.
Dit was veral baie interessant om te hoor hoe die saad geoes word en hoe die verbouing plaasvind.
.jpg)
Chris en Annette du Plessis van Clanwilliam

Chris en Annette het die rooibossap geborg. Die oulike koekies bo-op elke glasie het dit baie spesiaal gemaak. Die tafels was pragtig versier met die mooiste rangskikkings van orgideë, proteas en speldekussings wat Lente uitgebeeld het.

Die Landbou & tuinbougroep:
Voor: Elize Kleynhans (saamroeper) Bets Lourens, Hettie Hauptfleisch
Agter: Alice van Tubergh, Dottie Visagie, Christine Seale en Linka van Wyk

Die tafels was pragtig en vrolik gedek met die heerlikste koeke.