Posted on 06 October 2010

Bredasdorp se vergadering op 5 Oktober het behoort aan Openbare Sake en sterftes is bespreek.

 

Mnr Henry Lotz van AVBOB het ons kom vertel wat ons te doen staan wanneer ‘n geliefde sterf. ‘n Begrafnisondernemer se werk begin wanneer die dood intree. Hy het ons verseker dat hulle alles baie professioneel hanteer wanneer daar met ‘n geliefde gewerk word om hulle voor te berei vir die begrafnis. Begrafnisse is vandag baie duur en kan ongeveer R8 000.00 kos. Verskeie wenke is gegee van die verskillende stappe wat ons moet volg wanneer ‘n geliefde sterf, onder andere is ons gewaarsku om tog nooit dadelik na die bank te hardloop en te verkondig dat jou man/vrou nou gesterf het nie – die gevolg is dat die rekeninge dan summier gevries word en dikwels sit die agtergeblewene dan heel waarskynlik sonder enige fondse tot beskikking. Ons word gemaan om gereeld ons polisse na te gaan en op te gradeer.

 

Mev. Marguerite Badenhorst, boedelberedderaar by Luttig & Seun, het ons daarna vertel hoe belangrik ‘n testament vandag is. Daardie briefie wat dikwels langs ‘n sterfbed vinnig per hand geskryf word, veroorsaak baie keer ongelukkigheid, want die persoon wat dit skryf of as getuie onderteken, mag onder geen omstandighede bevoordeel word nie. Die veiligste is om jaarliks jou testament na te gaan en om dit ook gereeld op te gradeer. As daar enige waardevolle items is wat jy graag aan ‘n spesifieke persoon wil nalaat, beskryf dit in jou testament, of deel dit uit terwyl jy nog leef. Die dood bring dikwels die lelike uit in mense en daar is al heelwat gevalle opgeteken waar die familie hewig baklei oor die erfenis.  ‘n Eksekuteur van die boedel is baie belangrik en jy moet iemand aanstel wat jy vertrou. Volgens wet mag die eksekuteurs-kommissie nie meer as 3,5% van die waarde van die boedel beloop nie. Onderhandel dus hieroor terwyl jy nog leef.

 

Jossie Swart en haar groepie gasvroue het voorwaar ‘n insiggewende vergadering gereël en het almal heerlik saamgekuier rondom ‘n koppie tee na afloop van die middag.

 

Beriggewer: Lorraine du Toit

 

 

 

Marguerite Badenhorst (Luttig & Seun), Jossie Swart (Sameroepster : Openbare Sake), Henry Lotz (AVBOB), en Lorraine du Toit (Voorsitter)

Comments are closed

Categories