Posted on 21 October 2010

Tydens die Oktobervergadering van die VLV het dr. Vicky Nel van Loxton meer inligting oor die oewerkonyn verskaf en sal lede dit danksy haar goeie beeldmateriaal nou makliker kan uitken.
 

Die oewerkonyn is een van die mees bedreigde soogdiere in Suid-Afrika, veral weens die verlies aan habitat omdat boere meer en meer landerye op die spoelgronde van riviere vestig.  Hulle lewe in gate en tonnels wat in die sanderige oewergrond gegrawe word.  Die ingange van die tonnels word gekamoefleer en die binnewande met grassies en hare uitgevoer.
 

Die oewerkonyn word veral langs die riviere van die Klein en Groot Karoo en in die noordwestelike deel van die Oos-Kaap aangetref. Hulle word dikwels met hase verwar, het lang ore, ‘n wit kring om die oë en ‘n bruin stert.  Hulle is skugter nagdiere en hoogstens een of twee kleintjies word gebore. ‘n Wyfie met ‘n lewensverwagting van drie jaar het selde meer as vier kleintjies in haar leeftyd.  Anders as klein hasies is jong oewerkonyne hulpeloos, haarloos en blind by geboorte. Hulle moet ook langer as hasies gesoog word omdat hulle nie so gou self kan gaan kos soek nie.
 

Ten einde leerders te leer om verantwoordelikheid vir hulle omgewing te aanvaar, het dr. Nel ‘n oewerkonyn- ekoskool by Loxton gevestig.  Die leerders word na die natuur geneem om hulle van die waarde van die ekostelsel bewus te maak.  
 

Dr. Nel is ook betrokke by ‘n werkskeppingsprojek wat plantegroei op kaal gebiede wil hervestig.  Saailinge en steggies uit die inheemse kwekery word in gate op kaal kolle geplant, met riete en takkies beskerm en afgekamp en mag vir vyf jaar nie bewei word nie.

Comments are closed

Categories