Posted on 28 October 2010

Die inwoners van Huis Daneel in Britstown was baie opgewonde oor die VLV se besoek op 6 Oktober.  Die VLV lede het daar gaan vergadering hou en ‘n driegang pannekoek-ete voorgesit.  Die inwoners het konsert gehou vir die VLV lede.  Riana, Willa en die personeel het ontsettend baie moeite gedoen om iedere inwoner betrokke te maak. En was die lede verras met die aanbieding! 

 

Na die openingsgebed het Oom Jan Viljoen (80+) die vermaaklikhede afgeskop met ‘n nommertjie op sy mondfluitjie.  Die inwoners in die siekeboeg het ‘n item gelewer met die tema ‘Uit my jongdae’.  Tannie Gentle, in ‘n deftige pienk tabberd, was eerste aan die beurt oppad matriekafskeid toe.  Sy is gevolg deur ‘n lid van die Springbokspan, ‘n hippie, ‘n swanger tiener kompleet met kleintjie in die stootwaentjie, ‘n hupse tiener en ‘n skooldogter.

 

Daar was ook ‘n pragtige uitstalling van borduurstukke en medaljes wat sy verower het tydens VLV kompetisies in haar jongdae, deur tannie Agie van Zyl (75), voorheen van De Aar.  Tannie Suzy Swiegers het ‘n pragtige stuk,  ‘Wat dink Ouma?’ geskryf en voorgelees deur tannie Lonie Floyd en dit sonder ‘n bril! Tannie Ralie Schlemmer het ‘n rugbyspeler met mimiek voorgestel - met ‘n skop wat enige volstruis jaloers sal maak.  Tannie Grieta Louw verskaf die  ‘geseënde einde’, weer voorgelees deur tannie Lonie Floyd.

 

Te gou was die konsert verby, waarna die inwoners weggelê het aan pannekoek as voorgereg, hoofgereg en nagereg.  Nie net ‘n vergadering met ‘n verskil nie, maar voorwaar ‘n lekker dag vir oud en jonk!  

 

 

 

Marinda van der Merwe (links) en Wilma Strauss (regs)  tydens die bakkery.

 

 

 

Tannie Gentle, oppad Matriekafskeid toe.

 

 

 

Borduurwerk deur Tannie Agie van Zyl, voorheen van De Aar.

Comments are closed

Categories