Posted on 15 November 2010

Vir die afsluiting is besluit om ons buurdorp Burgersdorp te gaan verken. Eerstens is by HB en Belinda Kruger se plaas aangegaan om na hul leerlooiery vir die verwerking van skaapvelle te gaan kyk. Van 'n nederige begin in klein badjies het sy haar projek tot 'n besigheid met 'n stewige omset ontwikkel. Behalwe groot bestellings vir ondernemings, maak hulle ook die gewilde wol pantoffels, motor sitplekoortreksels, musse en vele meer wat ook op kunsmarkte verkoop word. Geen wonder Belinda was benoem as een van die top 6 vroue entrepreneurs in die land vir 2007 nie!

 

Die Kultuurhistoriese museum in die dorp se hoofgebou was eers 'n pastorie, toe 'n tehuis vir bejaardes en nou is dit 'n museum.  Die buitegeboue van die eertydse pastorie het die eerste Teologiese Skool vir die Gereformeerde Kerk gehuisves (11 Nov. 1869 geopen), voordat dit aan die einde van 1904 na Potchefstroom verskuif het. Die tipiese De Bruin- en Coetzee-huise, asook 'n waenhuis en stalle is op dieselfde perseel te sien.

 

Op die Markplein is die Victoriaanse Jubileumfontein (1 van slegs 2 in die land), asook die Taal- en Burgermonumente te besigtig. Die geskiedkundige NG Kerk en Gereformeerde Kerk is ook bewonder. Ten slotte is by 'n kwekery aangedoen om plantjies te koop.

 

Middagete is by 'n karaktervolle restaurant genuttig, waar sirkelpresident Irma Davel by die groep aangesluit en die prysuitdeling ook plaasgevind het. Philna van Pletzen het die trofee as Vonkelvrou ontvang. Lucia Lieberum was die wenner van die trofee vir die meeste punte deur die jaar verower. 4 Lede het beloning ontvang vir teenwoordigheid, nl. Christell Venter (16 jaar nooit afwesig!), Antoinette van Pletzen (7 jaar), Philna van Pletzen (6 jaar), en Ilse van Vuuren (5 jaar). Voorsitter Hilda v/d Walt het 'n geskenkbewys ontvang as dank vir haar besondere leiding.

 

Beriggewer: Antionette van Pletzen

 

'n Deel van die goed ingerigte fabriek, met HB Kruger op die inlas.

 

 

 

 

Christell Venter, Veronica van Vuuren, Gerrie Upton, Handri van Zyl, San Wagenaar en Lucia Lieberum. by Dalene Bredenkamp (heel regs) van die Burgersdorp Museum.

 

 

 

 

Philna van Pletzen, Vonkelvrou 2010, by sirkelpresident Irma Davel.

 

Comments are closed

Categories