Op Dinsdag, 1 Februarie 2011, het die eerste vergadering van Bredasdorp afgeskop. Amanda Beyers (Sameroepster van Gesondheid) en haar gasvroue het die saal omskep in ‘n vrolike Valentynsgeleentheid. Roné Visser en Ilanie van Schalkwyk was ons kelners vir die ligte ete wat voorgesit is en hulle het almal baie professioneel tevrede gehou.
Sommer vroeg is daar ‘n lootjie getrek en een van ons gaste al die pad vanaf Engeland was die gelukkige wenner van ‘n ete by ‘n bekende restaurant op die dorp.
Karin Dickason van Suideroord Tehuis vir Bejaardes was eerste aan die woord. Gesonde eetgewoontes vir die hele gesin is noodsaaklik. Dieselfde reël geld ook as jy iets aan iemand of ‘n organisasie, ens wil skenk. ‘n Tjek word aan haar oorhandig nadat VLV lede skenkings gemaak het tydens die afsluitingsvergadering in 2010.
Jerry Louw van Kindersorg het ons vertel van al die verskillende vorme van mishandeling en molestering. Respek vir mekaar hou jou staande aan die einde van die dag. Mense moet die hand van liefde uitsteek na die gemeenskap.
Elizabeth Dyers van die Kliniek het vertel van al die dienste wat by hulle gelewer word. Gesondheidsdienste word gelewer aan almal, behalwe aan mense wat aan ‘n mediese fonds behoort.
Bradley Lawrence en Adele Dreyer van die Dansskool was verantwoordelik vir die items en het die Ramba en die “liefdesdans”, die Tango, gedans.
Tydens die vergadering is daar ook ‘n diensknopie aan Tertia de Villiers oorhandig vir 20 jaar lidmaatskap. Ons het ook ‘n nuwe bestuurslid, Marlene le Roux, verwelkom in die plek van Riona Swart.
Verskeie pryse is uitgeloot en heelwat lede kon breed glimlag na hulle ‘n pakkie ontvang het.
Die volgende vergadering vind plaas op Dinsdag, 1 Maart 2011, om 14:30, in die Overberg Agri Opleidingslokaal. Lede word herinner dat die konferensie handwerk artikels ingeskryf moet word.
BERIGGEWER: Lorraine du Toit
Bradley Lawrence en Adele Dreyer dans die Tango.

‘n Tjek word aan Karin Dickason (Suideroord) oorhandig.

‘n Kenteken vir 20 jaar lidmaatskap word aan Tertia de Villiers oorhandig.

(LNR) Lorraine du Toit (Voorsitter), Jerry Louw (Kindersorg), Sophia Olivier en Elizabeth Dyers (Kliniek) en Amanda Beyers (Sameroepster : Gesondheid)
