Posted on
23 February 2011
Vriendskap was die tema van die eerste vergadering van die jaar op De Aar. Van die opening tot by die afsluiting, was vriendskap die goue draadjie wat deur vergadering geloop het. Vriendskapsmunte is ook opgeneem.
Arthur Strydom was die gasspreker en het gesels oor die waarde van vriendskap. Hy het, onder andere, die woord VRIEND geneem en die letters gebruik:
V – Verdraagsaamheid: Ek moet verdraagsaam wees en nie maklik geïrriteerd raak nie.
R – Regverdigheid: Ek kan nie altyd reg wees nie, ek maak ook foute en ek moet vir my vriend ruimte gee om ook foute te maak.
I – Innemendheid en Ingelig: Ek moet belangstel en na haar luitster.
E – Ego: Die vriendskap moet nie net oor my gaan nie maar ook oor hom/haar.
D – Dankbaarheid: Ek moet onthou om dankbaar vir my vriend te wees en ook die Here vir hom/haar bedank.

Gerda Moolman, lid van die Provinsiale Wetgewer, het die dames kortliks ingelig hoekom dit so belangrik is om te registreer en te stem in die komende munisipale verkiesing.

Die laaste spreker van die middag was Annatjie Erasmus wat oor rekenaargeletterdheid gepraat het. Sy het gepraat met spesifieke verwysing na die verskillende maniere om met jou vriende in kontak te bly - e-pos, Facebook, Twitter, Skype, “chat” ens. Die moontlikhede is onbeperk. Daar word beoog om binne die afsienbare toekoms ‘n rekenaar werkswinkel aan te bied vir diegene wat meer wil uitvind en leer.
