Posted on
23 February 2011
Petrusville vier die maand van die liefde met 'n bydrae van die Kunste studierigting.
Magdaleen Venter praat oor die Romantiese tydperk in die kunste, veral die klassieke musiek vanaf 1816-1914. Geklee in die kleredrag van daardie tydperk, tree van ons lede op en lewer items uit die Romantiese tydperk. Daar is 'n klavier duet van Franz Schubert, 'n kitaar trio wat 'n komposisie van Frederic Chopin lewer, 'n sang trio sing die bekende wiegelied van Johannes Brahms en 'n paar manne sing die bekende Vilja lied uit die "Vrolike Weduwee" van Franz Lehar.
Daarna lees Antoinette Havinga die ou Afrikaanse gedig, "Klaas Geswind en syn perd" uit die tydperk voor, asook 'n kort uittreksel uit "Die Profeet" van Kahlil Gibran wat handel oor die liefde en huwelik.
Ina van der Walt (Sameroeper Kunste en Handvlyt) lewer 'n huldeblyk aan Fanus Rautenbach en noem sy groot bydrae tot die Afrikaanse taal, letterkunde en musiek.
Mev. Louise Loock van Luckhoff lewer 'n praatjie oor tuinbou en praat oor tuinmaak in die algemeen met spesiale verwysing na vetplante en plante in potte.
Hanneke Potgieter (sameroeper Opvoeding en Kultuur) gee wenke oor hoe om weer die vonk in jou huwelik te sit. Lede trek wenke uit 'n koevert en lees dit dan hardop voor aan die vergadering. Daar was gemengde reaksie oor sommige wenke!
Daarna verdaag ons vir heerlike vrugteslaai, roomys en vrugtesap wat voorgesit is deur ons gasvroue vir die middag, Marise de Villiers en Marissa vd Merwe.