Posted on
08 March 2011
Gasspreker: Omar Fourie - Maatskaplike werker, Orania
Omar is 'n opgeleide berader met addisionele opleiding in pastorale ondersteuning. Hy het onder andere vir 'n ruk lank in Londen, Verenigde Koninkryk, gewerk en is vanaf Desember 2009 werksaam en woonagtig in Orania.
Maatskaplike werk is oor die algemeen 'n uitdagende beroep as gevolg van die volgende:
- Lae besoldiging
- Hoë werklading
- Moontlike uitbuiting deur desperate mense
- Emosioneel en intellektueel uitputtend
- Weinig ondersteuning
Die probleme wat op Orania voorkom is maar dieselfde as in menige ander dorpies: alkoholmisbruik, tienerswangerskappe, dwelmverslawing en huweliksprobleme.
Die negatiewe aspekte oorweldig gelukkig nie die positiewe nie. Die wete dat 'n verskil gemaak is in 'n kind of bejaarde se lewe dra sy eie beloning. Omar ervaar die gevoel dat hy nie net deur die lewe beweeg as 'n verbruiker nie, maar as iemand wat aan die gemeenskap iets kan teruggee.
As maatskaplike werkers verder studeer en vir 'n langer tydsduur in 'n gemeenskap onder toesig praktiese ondervinding opdoen kan dit meebring dat besoldiging pariteite met die van sielkundiges kan bereik. Dit behoort 'n afname teweeg te bring in die huidige groot omset in poste van maatskaplike werkers en gemeenskap beraders. In veral kleiner dorpies is dit selde dat 'n persoon vir langer as 'n jaar in die pos bly.
VLV lid: Melanie Smith - Idees om geskenkpakkies te versier
- Moenie bang wees om kleure te meng nie: skreeu-pienk, swart en suur-groen maak 'n verbasende suksesvolle skakeringsgroep.
- 'n Vars blom lyk pragtig tussen strikkies en lintjies. Gebruik twee of selfs drie linte bo-oor mekaar. Moenie bang wees om patrone te meng nie soos bv strepies, kolletjies en blommetjies.
- Gebruik tweesydige kleeflint om geskenkpapier netjies en versteek vas te hou. Jy kan ook tweesydige gom "pop-ups" gebruik om 'n versiersel bietjie te laat wegstaan van die res van die agtergrond.
- Hou 'n ogie oop vir ietsies wat jy toevallig raakloop en wat jy later kan gebruik: 'n strikkie op 'n pakkie koekies, 'n kort stukkie potlood, stukkies lint, kant of materiaal, 'n blommetjie of versiersel op 'n groetekaartjie, 'n mooi veertjie of droë takkie. Versamel hulle almal in 'n laai of skoendoos sodat jy 'n verskeidenheid het om deur te vroetel wanneer jy daardie spesiale pakkie wil toedraai.