Posted on 14 March 2011

Campbell tak het met hul gebruiklike gasvryheid die dames van ons sirkel vir die 79ste konferensie met ‘n heerlike ontbyt verwelkom.  In ons sirkel ry almal vêr en die vroegoggend kuier op die pad is al klaar deel van Konferensiedag.
 

Ons het met hartseer van mev. Gio van Eck afskeid geneem.  Dit was die laaste Konferensie wat mnr. Hendrik en mev. Gio van Eck,  voormalige takvoorsitter en sirkelbestuurslid vir 23 jaar,  op hul plaas Wildspan aangebied het.  Mev. Van Eck is as erelid van Griekwaland-Wes vereer vir haar bydrae in die sirkel sowel as op takvlak.  Die egpaar tree gedurende dié maand af en verhuis na Kimberley.
 

Mevv.  Gio van Eck en Christel Steenkamp, nuwe Sirkelpresident. 

  
 

 

Volop het almal verras deur as die tak met die meeste punte aangewys te word na ‘n jare lange oorheersing deur Olifantshoek! Mev. Maretha Nowers, voorsitter van Volop, met die trofee vir die meeste punte op konferensie.


 
 
 
Mev. Cielie Pretorius van Postmasburg is as sterlid van die sirkel aangewys.  Cielie is reeds vir 57 jaar lid van Postmasburg tak.  Sy is ‘n baasbakster en kry steeds jaarliks plekke op konferensie.  Sy dien op die takbestuur as saamroeper van al die studierigtings behalwe gesondheid en  takvoorsitter.  Op sirkelvlak dien sy op die bestuur as saamroeper vir Volkere en Welsyn,  nou Openbare Sake,  en daarna as addisionele lid.  Sy is ook ‘n gekwalifiseerde beoordelaar.

 

Van links mevv. Jorietha Kirsten, voorsitter Postmasburg,  Cielie Pretorius,  sterlid en Vonesse Gerber, voorsitter Niekerkshoop en nuutverkose visesirkelpresident.


 

Interessante aanbiedings deur sirkel saamroepers, ‘n inspirerende praatjie deur die hoofspreker en Campbell se heerlike plaasatmosfeer het Konferensie 2011 van Griekwaland-Wes weereens as die hoogtepunt van ons VLV-jaar laat uitstaan.

Comments are closed

Categories