Posted on
15 March 2011
Die lede van Kuruman het ‘n Gholfdag gereël om fondse in te samel vir Sirkel Kalahari se resepteboek.
72 gholfspelers het ingeskryf vir American Scramble en is behoorlik op die hande gedra en bederf met kospakkies, verrassingspakkies en ‘n heerlike steakbraai die aand. Na al die reën van die afgelope tyd was die gholfbaan grasgroen. Gholfers van die omliggende dorpe Kathu, Lykso en Vryburg het ook die effens bewolkte dag kom geniet en vra alreeds ‘n datum vir volgende jaar.
Dit was ook die ideale geleentheid om die manne bietjie te leer wat die VLV-dames nou eintlik doen. Groot pryse vir die eerste 4 plekke en ‘n Koedoe vir naaste aan die pen was die hoogtepunte tydens die aand se prysuitdeling. ‘n Skaap is ook weggegee en vet gelukstrekkingspryse!
Vir my was dit ‘n opvoedingsdag, want na dese verstaan ek Gholf so ‘n bietjie beter!
Beriggewer: Petro Spangenberg

Agter Laetitia Hollander, Sonette Strydom, Melani J van Rensburg, Elsabe Hennig, Petro Spangenberg, Francis van der Merwe, Wendy Marais.
Voor: Tonna Delaney, Franciska Einkamerer, Tilly TerBlanche, Bessie Kriek
Ander lede nie op die foto maar wat ook gehelp het is Janet West, Lelani van Straten, Annetjie Nel, Marianne Vorster en Marinda Stander.

By die inskrywingstafel kry elke speler n noodhulppakkie met sjokolade, pille en pleisters, asook n botteltjie water. Franciska Einkamerer, Tonna Delaney en Tilly TerBlanche wys daar is meer as net water beskikbaar!

Lelani en haar man Gideon van Straten het die natgat behartig met 'n borg van Barloworld, en die pragtige Kameeldoringbome vorm die agtergrondgordyn.