Posted on 22 March 2011

Vroeg in 1929 is ‘n Nywerheidskou op Maclear gehou. Die beoordeling is deur Mej. Honey gedoen en sy het die dames van die VLV Huisvlyt takke vertel. Mev. Bettie Hart het Mej. Honey gevra om na Umnga te kom om so ‘n tak te stig. Die tak is Umnga VLV genoem. 
 

Die mans het eenmaal per maand op ‘n Saterdag teiken geskiet in Umnga.  ‘n Blikhuisie is opgerig vir die dames en hulle het dan hul VLV vergaderings gehou terwyl die mans skiet.

 

Net voor die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het sommige lede van die Umnga tak besluit om ‘n tak op Ugie te stig. Teen daardie tyd was die Skietklub tot niet. Die Ugie lede het egter moeilikheid gekry, maar die Umnga tak het met hul bedrywighede voortgegaan.

 

Op 17 Desember 1949 is ‘n VLV tak op die plaas Wilgers in die Ugie distrik gestig.  Hul eerste voorsitter was Mev. Nelie Vorster en die eerste sekretaresse was Mev. Kay Hart. Hierdie tak is Eendrag tak genoem. Twee jaar later, op 23 Maart 1951, het die lede hul eerste vergadering op Ugie gehou. Die naam is verander na die Ugie VLV tak.

 

Deur die jare was die tak besonder vooruitstrewend en het tans 14 aktiewe lede wat maandeliks in Clarendon Gastehuis vergader en baie interessante en leersame vergaderings aanbied. Die Tak is ook goed bekend in die gemeenskappe van Ugie en Maclear vir die spyseniering wat hulle doen.

 

Die jaarlikse NOK Sirkelkonferensie is vanjaar op 16 Maart op Ugie gehou en die Tak het tydens hierdie geleentheid ook hul sestigste verjaardag gevier. Die volgende takke was verteenwoordig:  Barkly-Oos, Dordrecht, Jamestown, Lady Grey, Molteno, Queenstown, Sterkstroom en Ugie. Ugie het gasvrou gespeel vir 50 dames – afgevaardigdes, besoekers en beoordelaars. 

Dit was ‘n voorreg om hierdie dames in ons dorpie te ontvang en te trakteer.

 

Baie dankie aan die volgende borge wat gehelp het om die kostes te dek: Ugie Spar vir al die kruideniersware, Fanie Vorster vir aartappels wat aan die gaste as geskenk gegee is, Anina de Klerk vir drukwerk, Piet Britz vir vleis, Shorten Motors vir Sthil penne en notaboekies, Ben Britz vir sjerrie en wyn, Marilyn Bezuidenhout vir melk,  Elandre van Zyl  van  FNB Maclear, vir lêers, Lenhardt Bezuidenhout vir skryfpapier,  Hoërskool Ugie vir die gebruik van die Skoolsaal.


 

Die Sirkelbestuuur met Ugie se 60 verjaarsdagkerse in die agtergrond.


 

Nan Botha van Ugie, wat in die middel staan, is Sirkel NOK se Dankie-Persoon. Links van haar is Sirkelpres. Irma Davel en regs staan Linie Gouws, voorsitter van Ugie asook sirkelbestuurslid.

Comments are closed

Categories