Posted on 23 March 2011

08:00 die oggend van 16 Maart het sowat 40 Britstowners in hul voertuie saamgekom om die “Geskiedkundige Toer” mee te maak, gereël deur die VLV.  Elsa Human, ‘n VLV lid,  het gesorg dat elke detail van die toer sorgvuldig beplan is. Die toer het gestrek deur veldpaaie wat oor ‘n paar plase strek tot by die Smartt Sindikaat Dam.

 

Barry Raath, ‘n Britstowner, het by die eerste stop vir ons vertel van indrukke uit sy kinderdae  van die massiewe pan, Gelukspan.

 

Volgende stop was die opstal, Gelukspan.  Dys Taljaard het daar vir ons vertel dat vroeg in die 1900’s het dit ’n skool gehuisves waar menige plaaskinders hul skoolopleiding ontvang het. Later jare  het die eienaar dit gelykop gedeel tussen sy twee dogters.  ’n Landmeter moes kom om seker te maak dat die grond en huis presies in die helfte gedeel moes word. En vandaar loop die lyndraad presies deur die middel van die huis!

 

En toe kom ons by die Smartt Sindikaat Dam uit! Adrian Louw, die sekretaris van die Waterraad, is passievol oor die dam en het al ‘n studie van die geskiedenis van die dam gemaak en opgeteken. Thomas Smartt het reeds in 1888 die visie gehad om ‘n dam te bou in die Karoo.  Hy het gesê “Given water, anything can grow in the Karoo.”  In 1895 is toestemming deur Cecil John Rhodes gegee om voort te gaan met die bou van die dam.  Destyds was dit die grootste dam met ‘n grondwal in die Suidelike Halfrond.

 

Ons is ook gewys hoe die sluise werk, hoe die kanale aangewend word vir besproeiing, en hoe alles haarfyn beplan moet word om die water te bestuur.

 

Die toer eindig met ‘n middagete by Dillys Trollip.  Vir ons jongeres was dit ‘n aktuele geskiedenis les wat ons trots maak om Britstowners te wees, vir die seniors in ons groep was dit ‘n vuur van herinnering waarlangs hul kon vertoef.


 

Britstowners wat die toer meemaak.

 

 

 

Diep indrukke is gelaat by die Smartt Dam.

 

 

 

Ou Grasieue huis van Gelukspan.

Comments are closed

Categories