Op Woensdag 16 Maart het NOK se VLV vroue in die plaaslike Hoërskoolsaal op Ugie bymekaar gekom vir die jaarlikse konferensie. Nie eens die koue en nattigheid kon die entoesiasme demp nie, en 60 kerse is aangesteek ter herdenking van Ugie tak se 60ste verjaardag!
Die Skriflesing is hanteer deur Ds Willie Schoeman van Ugie, en 2 items is gelewer deur die plaaslike Hoërskool se leerlinge. Dit was 'n keurspel van Afrikaanse liedjies deur die Gr 1-3-kleintjies, en 'n toneelstuk deur senior leerders, ingekleur met sang-en-dans. Die Dankie Sê-persoon (Nan Botha van Ugie) het 'n oorkonde en ruiker ontvang. Die wenner van die Mossie Grobler-beurs (vir 'n VLV lid se kind se studie) was Wilna Botha van Lady Grey. NOK se VLV is ook baie trots op Kira Quintin van Burgersdorp Hoërskool wat 'n finalis is in die landwye Tienerkok kompetisie!
Die hoofspreker was Mariëtte Smit, doktersvrou van Lady Grey, wat oor Moderne Binnenshuise versiering gepraat het, en die verskillende voorkomste bespreek het. Helen Noorman van Molteno het verduidelik hoe lag-terapie werk, en almal het al laggende meegedoen! Anien Smit van Ugie het gedemonstreer hoe om suikerdrade vir versiering te maak, en Marie Geyer het vertel hoe hofprosedures werk. Afgevaardigdes het ook geleentheid gekry om wenke uit te ruil.
Sirkel NOK het ook 'n boompie as geskenk aan die Ugie tak oorhandig. Die kompetisies (waaraan al sedert verlede jaar gewerk is!) is beoordeel deur 3 beoordelaars van Dewetsdorp, OVS, en die blomme deur Sara v/d Walt van Steynsburg.
Wenners het ingesluit:
Lynette v/d Berg (Barkly-Oos) - Blommering, en 'n Kruis van natuurlike materiaal.
Irma Davel (Molteno) - Fotografie
Erina de Bruin (Queenstown) - Gebak
Cecilia Scheepers (Barkly-Oos) - Handvlyt-kaartjies
Fransie van Zyl (Barkly-Oos) - Herwonne fotoraam, en Scrapbooking
Petro v/d Merwe (Sterkstroom) - Fudge
Mariëtte Smit (Lady Grey) - Naaldwerk
Gerrie Upton (Jamestown) - Hekelwerk
Marie Geyer (Molteno) - Rangskikking
Anna du Plessis (Lady Grey) - Naaldwerk-artikel met Borduurwerk
Antoinette van Pletzen (Jamestown) - Prosa
Die algehele wenner was die Lady Grey tak, met Jamestown 2de en Barkly-Oos 3de.
Tussendeur was daar ook tyd vir verversings en heerlik kuier. BAIE DANKIE aan Ugie-VLV se Gideonsbende vir 'n puik konferensie!

Verteenwoordigers van die takke wat algehele wenners van die kompetisies was, nl. Cecilia Steenkamp van Barkly-Oos (3de), Elise Cloete van Lady Grey (1ste), en Ilse van Vuuren van Jamestown (2de).

'n Suikerkuns-demonstrasie deur Anien Smit van Ugie

Mariëtte Smit van Lady Grey was die gasspreker oor Binnenshuise Versiering.

Interessant-versierde potplant as geskenk!