Afgevaardigdes en waarnemers van al agt VLV takke van Sirkel Overberg het onlangs die jaarlikse Konferensie in die N.G. Gemeentesentrum van Onrustrivier bygewoon.
Hermanus se VLV tak onder voorsitterskap van me Lydia Geldenhuys, erepresident van Sirkel Overberg, was die gasvrou-tak vir 120 konferensiegangers en gaste uit die Overberg. Pragtige rangskikkings met ‘n seetema en baie aandag aan detail soos piepklein-perlemoenskulpies as servethouers, kollewyntjies met meerminnetjies op en handdoekies met walvisse op, het die gaste uit die Overberg welkom laat voel in die Overstrand. Onder die eregaste was die Burgemeester van die Overstrand, raadslid Nicolette Botha-Guthrie en me Erika Lubbe, VLVK President, wat beide groeteboodskappe oorgedra het, asook me Erna Visser en mnr Jeff Milne, bekende Overbergse blommekunstenaars aan wie die VLV eretoekennings oorhandig het vir hulle volgehoue toewyding aan die ontwikkeling van die blommekuns.
Die gasspreker was me Mariël le Roux van Hermanus wat verlede jaar die 2de plek verower het vir haar boek “Die Naamlose” in die Sanlam Romanwedstryd. Sy het haar praatjie oor die VLVK tema “Aanhouer Wen”, toegelig met voorbeelde uit bg boek asook ‘n vorige treffer, “Wilhelmina, Kampkind in Java”. Hermien van Zyl, Sirkelpresident van die Overberg, het in haar Presidentsrede ook die lede aan die hand van die VLVK tema “Aanhouer Wen”, aangemoedig om vol te hou met die VLVK projek “Raak Rekenaarvaardig” en nuwe tegnologie onder die knie te kry. VLV lede is vasbyters wat weer en weer probeer tot hulle ‘n vaardigheid bemeester soos die uitstekende handwerk kan getuig. Die handwerk kompetisies se tema was “Die Bruid” en is pragtig toegelig met ‘n trousseau-uitstalling deur Hermanus Fabriekswinkel. Me Lubbe het die trofeë uitgedeel en Bredasdorp het die trofee verower vir die meeste punte met Hermanus 2de, Kleinmond 3de en Villiersdorp 4de. Caledon se Rapportryers het ‘n splinternuwe trofee geskenk vir die Wisselafdeling waar elke jaar aandag gegee word aan ‘n ander handvaardigheid van kultuurhistoriese belang wat die gevaar loop om uit te sterf. Dit is ook deur Bredasdorp verower sowel as die Presidentstrofee vir takprestasie in 2010. Lorraine du Toit van Bredasdorp is as nuwe visesirkelpresident verkies.
Tussen besprekings, verslae en toesprake deur, kon konferensiegangers luister na die koor van die nuwe Curro-Privaatskool in Onrustrivier en voel na voete stamp saam met die energieke passies van die “Dancers of Rhythm in Line”. Kleinmond tak het ‘n modeparade aangebied met die tema “Winter” en deur die hele spektrum gewerk vanaf die 30’er jare se pelse tot by die snoesige kappie-truie en getailleerde jeans van 2011 se winter.
Die einde van Konferensie het bewys dat VLV lede letterlik deur die vuur sal gaan vir hulle vereniging toe hewige veldbrande die Kleinmonders by Gordonsbaai laat draai het en die Gansbaaiers die ander vlamme moes trotseer om huis te haal.

Jeff Milne en Erna Visser wat vereer is vir hul jarelange bydrae tot die bevordering van Blommekuns in die Overberg.

Erika Lubbe oorhandig die trofee vir die Mees Uitstaande Artikel aan Lettie De Bruin van Bredasdorp vir haar borduurwerk.

Hermien van Zyl (President), Ninnie du Toit (uittredende Visepresident), Lorraine du Toit (nuwe Visepresident) en Annatjie Liebenberg (Sekretaresse/Tesourier).

Mariël le Roux, gasspreker van die dag.