Posted on
14 April 2011
Diè tyd van die jaar, Paasfees, is ons baie bewus van die gebeure rondom die kruisiging van ons Verlosser en wie kan dit dan nou beter vir ons voorstel, as die wêreldbekende rangskikker Pieter Coetzee van die Paarl.
Hy het begin by die laaste Avondmaal en geëindig by die hemelvaart van Jesus. Met elke stadium van die laaste paar dae van Jesus is ‘n paar gepaste teksverse gelees en dan het die mooiste musiek gevolg wat ons gemoedere in die regte stemming gebring het, terwyl Pieter met die blomme en loof doenig was. Hy het na elke rangskikking vir ons verduidelik wat hy beoog het en ook die verskillende soorte blomme en loof uitgewys. By die laaste Avondmaal was die rangskikking, met pottebakkerswerk en vrugte, ‘n pragtige stillewe. Die opstanding se rangskikking het die somberheid van diè een van die kruisiging, vervang met uitbundige kleure, sowel as ‘n vrolike rangskikking met paaseiertjies wat spesiaal vir kinders was. Die hemelvaart se blomme en loof was op ‘n baie hoë staander en ‘n bitterlike dun glasvaas, so mooi, so treffend dat ons almal stil was terwyl hy besig was.
Vir ons wat teenwoordig was sal Paasfees voortaan nog ‘n dimensie hê, want ons sal met ‘n ander oog kyk na blomme en wat dit vir ons kan voorstel. Ons ogies was maar nat gewees, ons harte geroer en die knoppe in die kele kon met heerlike tee afgesluk word.

Die kruisiging.

Voorstelling van die oop graf na die opstanding van Jesus.