Posted on
26 April 2011
Portefeulje: Leefstyl
Tydens April se Leefstyl vergadering op Colesberg het Emerentia Pretorius aan die lede gedemonstreer hoe om ‘n maklike en heerlike sjokoladekoek binne 6 minute in die mikrogolfoond te bak. Die droë bestanddele en vloeistof word eers apart gemeng en dan bymekaar gevoeg. Die mengsel moet dan net geroer word tot alles gemeng is en nie geklits word nie, anders word die bakpoeier te veel geaktiveer en die beslag mag oorkook in die oond. Die bakpoeier veral, moet baie akkuraat afgemeet word, anders is die beslag ook geneig om oor te kook. Die sterkte van die oond is ook belangrik. Hoe hoër die werkverrigting van die oond, in Watt gemeet, by hoe ‘n laer kragstelling (bv. “medium high” of “medium”) moet die koek gebak word - as dieselfde lengte tyd gebruik word. ‘n Sousie word oor die koek gegooi sodra dit uit die oond kom en die resultaat is ‘n heerlike, klam koek.
Marianna Behrens het tydens dieselfde vergadering ‘n demonstrasie op die borduurmasjien gelewer. Die masjien word geprogrammeer met behulp van ‘n rekenaar. Die artikel of materiaal word oor ‘n borduurraam gespan, die gare word ingeryg, ‘n paar knoppies word gedruk, en jy kan terugsit en kyk hoe die masjien op sy eie die borduurwerk voltooi. Wanneer ‘n nuwe kleur gare benodig word, laat die masjien jou weet en jy kan die nuwe tol gare insit. Op die skerm word gewys hoe groot die voltooide ontwerp sal wees, hoeveel steke gebruik gaan word en hoe lank dit sal neem om te voltooi.
Almal was dit eens dat dit ‘n baie interessante en leersame vergadering was. Hierdie naweek sal daar in menige VLV-huis in Colesberg sjokoladekoek op die tafel wees. Oor die borduurmasjien kan die meeste van ons net droom ...

Emerentia Pretorius

Marianna Behrens