Posted on 05 May 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

 

48 lede en gaste het met 'n luukse bus op 'n uitstappie gegaan. Dit was deel van die Landbou vergadering. Eerste stop was op Org de Rac, organiese wynplaas. Daar het ons op 'n trekkerrit gegaan om die bietjie wild wat onder die koelte geskuil het te besigtig. 'n Interessante praatjie oor hul organiese wynbouery en wurmplaas was baie leersaam. Dit is gevolg deur 'n kelderbesigtiging en wynproe. Ons kon selfs 'n flessie wurms koop om 'n eie wurmplaas te begin! Na al die opwinding en informasie het almal uitgespan met 'n ligte middagete terwyl ons die pragtige uitsig bewonder het. Van die stoep kan mens die hele Weskus omgewing vanuit 'n 180° oogpunt besigtig.
 

Daarna was 'n besoek aan die Piketberg Huismuseum en Sinagoge. Die kurator, Rochè du Toit, is ook 'n VLV lid van Piketberg tak.
 

Laaste, maar nie die minste nie, het Martie du Toit van Vroue van Môre ons toegespreek oor hul projek. Hul bemagtig vroue uit voorheen benadeelde gemeenskappe deur hul te leer kook, hekel, brei, telefoonetiket ens... Die dames het 'n kort opvoering gegee van wat hul doen en ons daarna vreeslik bederf met die smaaklikste sjokoladekoek en tee. Gina Smit (voorsitter) het Martie en elkeen in haar span bedank vir al hulle moeite en opoffering om ons te ontvang en bederf.  Wat 'n aansporing vir elkeen van ons!!! 
 

Op pad huis toe moes die busbestuurder eers stop by Dagbreek Padstal sodat varsgebakte brood, plaaswors, kardoeslekkers en dies meer by die wyn en wurm aankope gevoeg kon word.
 

Met ons volgende vergadering op 26 Mei 2011, gaan Yvette Weyers (eggenote van akteur Marius Weyers) 'n praatjie gee oor haar passies, beeldhouwerk en natuurbewaring. Gaste baie welkom! Tentoonstellings en verversings ingesluit teen R30 p/p. Kontak Althea Walters by 0835895165 vir besprekings.

 

Beriggewer: Vera Winterbach

 

Org de Rac uitstappie.

 

 

 

Trekkerrit. 

 

 

Piketberg sinagoge.

 

 


Vroue van môre.

 

Comments are closed

Categories