Posted on 07 May 2011

Portefulje: Vele

 

'n Wye verskeidenheid onderwerpe het Petrusville se April vergadering gekenmerk.
 

Elizabeth Fourie het haar 50-jaar kenteken ontvang wat op Konferensie gegee is. Sy is een van ons staatmaker lede wat baie jare in die bestuur gedien het en vele pryse ontvang het op konferensie en kongres vir haar brei- en hekelwerk.
 

Met ons Gesondheid studierigting het Charmaine Pelser, 'n apteker, ons kom inlig oor supplemente in die dieet. Die belangrikste supplemente is kalsium, magnesium, multivitamiene en antioksidante en dan iets vir weerstand teen siektes. Sy het ook gesê dat daar supplemente op die mark is wat elke sak pas en dat jy vir jou 'n produk moet aanskaf vir jou omstandighede. Jou apteker kan ook vir jou waardevolle raad gee.
 

 

Daarna het Inspekteur Frans Stottelaar van die SAPD op Vanderkloof gepraat oor beveiliging op plase sowel as in die dorp. Beveiliging van eiendom is elkeen se eie verantwoordelikheid. Dis belangrik om 'n goeie verhouding met die plaaslike polisie op te bou sodat daar wedersydse vertroue kan wees. Hy het ook inligting gegee oor die korrekte radio-prosedures op plase en die voor- en nadele van radio's. 
 

 

Hanneke Potgieter, sameroeper van Opvoeding en Kultuur het 'n praatjie gelewer oor die waarde van spel. Speletjies is baie belangrik vir die ontwikkeling van kleiner kinders. Daardeur leer hulle om te sosialiseer en om selfvertroue te ontwikkel. Hulle fisiese ontwikkeling word ook deur speletjies gestimuleer. Kinders kan nie heeldag voor 'n rekenaar of televisie gesit word, of met gerekenariseerde speelgoed ten volle ontwikkel nie. Spel is ook baie waardevol vir ouer mense omdat dit die brein en liggaam in stand hou, sowel as om eensaamheid teen te werk. Sy het ook verwys na die waarde van spelterapie waar getraumatiseerde kinders d.m.v. speletjies behandel word.
 

 

In ons Landbou en Tuinbou studierigting, het die sameroeper, Annatjie Rademeyer, gepraat oor die waarde van tuin- en waterterapie en die rol wat diere speel by getraumatiseerde kinders. In 'n tuin kan mens al jou sintuie "dokter" as jy sleg voel: stap deur jou tuin en kou 'n stukkie pietersielie, kyk na al die verskillende kleure, luister na die geluide in jou tuin, ruik aan die verskillende kruie en blomme en steek jou hande bietjie in die grond, sand of water en jy sal sommer beter voel. 'n Tuin het 'n baie kalmerende invloed op mens se gemoed. Waterterapie is besig om baie veld te wen en word al hoe meer gebruik in die behandeling van stresgevalle. Die waarde van diere by kinders met probleme is ongelooflik. Sy het verwys na die outistiese seuntjie wat so verbeter het toe hy 'n hond gekry het.
 

 

Beriggewer: Corne Stottelaar

Comments are closed

Categories