Posted on 07 May 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

 

Tydens Brackenfell tak se Mei vergadering was Dr S T Potgieter ons gasspreker. Dr Potgieter is 'n bekende sielkundige met wye ervaring. Hy het sy meestersgraad in Kliniese Sielkunde gedoen, maar sy belangstelling in ander aspekte van die sielkunde inspireer hom om 'n internskap in Opvoedkundige Sielkunde te deurloop. Hy tree gereeld op in radioprogramme en is bekend vir sy bydraes en insette in koerante en 'n verskeidenheid van tydskrifte. Hy het sy eie praktyk in Bellville, en word dikwels gevra om as spreker by funksies op te tree om die boodskap van hoop en inspirasie oor te dra.

 

Sy inspirasie om die boek, "Staan op vir jouself" te skryf, het hy uit talle sessies en waarnemings met mense in sy praktyk gekry. In die praktyk ondervind en hoor hy dikwels hoedat mense se eiewaarde en drome vertrap word deur die aanmerkings, kritiek en minagting van ander. Mense wie se sterre in hul oë mettertyd vervaag met 'n hart waaruit drome verdwyn as gevolg van omstandighede. Die letsels en seerkry van die lewe sny soms diep. Dikwels verloor jy koers en bevraagteken die betekenis van jou bestaan. Ons lewe inderdaad in tye waar wanhoop, depressie en moedeloosheid dikwels die oorhand kry. Met die boek wil hy vir elkeen weer hoop bring, die vonk aansteek en as rigsnoer dien om vir jouself op te staan en jou potensiaal uit te leef.

 

Ons wil almal uit die ashope van die lewe opstaan. Ons droom daarvan om seerkry en ellende agter ons te sit, vorentoe te kyk en ons potensiaal te ontgin. Die vrees vir mislukking en kritiek weerhou egter soveel mense om voluit te lewe. Mense leef dikwels in die put van wanhoop en vernedering maar weet nie hoe om daaruit te ontsnap nie. Dit het tyd geword om die juk van swak selfbeeld en verlore drome af te skud. Moenie toelaat dat jou eiewaarde verder in die stof vertrap word deur ander se aanmerkings en verwerping van jou idees nie. Die tyd het aangebreek vir die ontwaking van jou siel, liggaam en gees.

 

Dit was voorwaar 'n heerlike oggend saam met Dr Potgieter. Ek nooi elke lid uit om aan te teken op sy webwerf www.pitkos.co.za om weekliks 'n gratis inspirerende boodskap per epos te ontvang.

 

Beriggewer: Annemarie Taljaard

  

Comments are closed

Categories