Posted on
07 June 2011
Portefeulje: Vele
“‘n Mens is nooit te oud om te leer nie.” Dit het die lede van Citrusdal tak weereens besef toe ons ook die stap na rekenaargeletterdheid geneem het. Die grootste gedeelte van die lede is wel rekenaarvaardig, maar ‘n klein groepie moes nou ook “bykom”. Elkeen wat nog nooit voorheen op ‘n rekenaar gewerk het nie, het selfs aan die einde van die “klas” ‘n kort briefie getik en daarna ‘n speletjie gespeel. Ons dank aan Hoërskool Citrusdal wat hierdie geleentheid vir ons moontlik gemaak het.
Die tak het ook onlangs klem gelê op Volkskultuur. Daar is aan ons vertel van vroeëre jare se Volkspele- en sanggroep wat bestaan het. Citrusdal se groep het ongelukkig ontbind en is daar baie min van hierdie groepies nog aktief. Die nuwe generasie stel nie in hierdie kultuurerfenis van ons volk belang nie. Daar is rokke en geborduurde onderbaadjies vertoon asook ‘n video van Suid-Afrikaanse groep wat Holland en België besoek het. Ons groep het ‘n kring gevorm en op samesang van volksliedjies is 3 variasies van volkspele gedoen. Twee lede het belowe om die VLV te leer rieldans! Die VLV hou die kultuurerfenisse in ons land lewendig.
Die afgelope 80 jaar was daar wonderlike tye, harde werk met fondsinsamelings en baie vriendskappe wat in die vereniging gesluit is. Ons vier ons 80 jarige bestaan van Citrusdal Tak met ‘n “high tea”. Ons gasspreker Louwna Hoving, sirkelpresident van VLV Weskus, het gesê dat dit ‘n voorreg is om 80 jaar te word. Sy het beklemtoon dat ons elkeen met ‘n Godgegewe talent gebore is wat ons met ons medelede kan deel met ‘n gesindheid van leergierigheid. Erkenning aan mekaar, betrokkenheid, om jouself uit te leef in ideale en begeertes - maar tog jou eie identiteit te behou en bereidwilligheid was van die hoofpunte in haar toespraak. ‘n Heerlike voorgereg, Tuna Timbale, is deur Magdaleen Pellegrom gedemonstreer. Die verjaardag is gevier met ‘n glasie vonkelwyn en die middag is afgesluit met ‘n pragtige teetafel vol heerlike eetgoed.
Beriggewer: Minette du Toit

Leergierige VLV lede voor die rekenaars.

Volkspele kry herlewing met Citrusdal VLV lede.

Marianne van der Merwe oorhandig blomme aan Mev Louwna Hoving.

Ons tak se pragtige en heerlike verjaardagkoek.