Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Hessie Kühl
VLV Porterville het tydens ‘n onlangse vergadering meer geleer oor die versorging van bejaardes.
Aletta Visagie is die voorsitter van die beheerraad van die plaaslike tehuis vir bejaardes, Huis Nerina. Die tehuis staan onder die beheer van die ACVV. Ouditering van die tehuis en die werk van die maatskaplike werker word maandeliks gedoen.
Die tehuis bied verskeie dienste, naamlik inrigting versorging, beperkte versorgingsdienste vir inwoners van woonstelle en lewensreg wooneenhede, ‘n sopkombuis in die gemeenskap waar behoeftige persone vyf maal per week etes ontvang en Community Base Service waar verswakte persone in die gemeenskap tuisversorging ontvang.
Aletta het breedvoerig verduidelik wat elk van hierdie dienste behels en noem dat die dienste afsonderlik bestuur word. Sy verduidelik hoe die opnamebeleid werk en hoe die staat dit kontroleer, aangesien die staat die losiesgelde van die inwoners finansieel subsidieer. Die daling in die subsidies van die staat is ‘n groot bron van kommer. Geen gestremde persone mag byvoorbeeld voortaan in die inrigting opgeneem word nie en persone moet bo die ouderdom van sestig wees, ongeag hul fisiese toestand.
Huis Nerina het drie gestremde inwoners wat al vir ‘n geruime tyd daar woon. Die staat het wel toestemming verleen dat hul nog gehuisves mag word, maar hul kry geen finansiële hulp van die staat nie. Aangesien al drie hierdie inwoners behoeftige persone is, moet die tehuis self hul losiesgelde dra en dit beloop meer as R41 000 per jaar.
Sy doen ‘n beroep op die kinders van die bejaardes om te aanvaar dat hul ouers oud en verswak raak. Opname in Huis Nerina beteken nie dat hul ouers nou “gesond” gaan word nie. Die grootste behoefte van die bejaarde is aanvaarding, vertroeteling en liefde.
Een van ons erelede, mev. Dorothy du Plessis, vier haar 90ste verjaardag op 11 Junie. Sy word op ‘n spesiale manier gelukgewens en ontvang ‘n mandjie blomme. Dorothy is steeds ‘n aktiewe lid wat getrou elke vergadering bywoon en omdat sy so pragtig blomme kan rangskik, word sy gereeld gevra om met die versiering van tafels te help. Sy is veral vir die jonger lede ‘n ware rolmodel, ‘n vrou met geestelike morele waardes, ‘n ware dame.

Aletta Visagie aan die woord oor bejaardesorg.

Dorothy du Plessis ontvang 'n ruiker met haar 90ste verjaardag.