Posted on
20 June 2011
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Teesakkievouwerk was maar 'n bra onbekende kunsvorm vir die lede van VLV Graafwater toe dit aangegee is as een van die kompetisie artikels vir 2010. Na ure se geswoeg is daar darem 'n paar voltooi.
Tydens 'n Kunste en Handvlyt vergadering is hierdie kaartjies vertoon en lede is 'n kans gegun om hul vernuf en vingers in te span om hierdie piepklein kaartjies te vou.
Die saamroeper, Marna, het ook gedurende die vergadering hulde gebring aan Lucas Maree en Bettie Cilliers-Barnardt.
Helen Visser, het gewys watter pragtige rangskikkings 'n mens kan optower met droë stompies, riete, selfs tarentaalvere en herfsblare, wat juis nou so volop is, veral as die blomme maar skaars is. As jy geïrriteerd raak met die nimmereindigende huiswerk, maak jou eie mooi rangskikking vir die huis, plaas dit waar jy dit heeldag kan bewonder en siedaar, jy kry sommer weer moed vir die skottelgoed en stoflap.
Hier demonstreer Helen van haar rangskikkings.

