Posted on 21 June 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Rina Coreejes

 

Dinsdag 14 Junie was Naaldwerkmiddag by die VLV  se maandelikse byeenkoms.

 

Hildegard van Zyl, Ivonne Fourie en Alma van den Berg het die dames met ‘n WOW!! die saal laat binne stap met die pragtige kwiltwerk wat hulle uitgestal het. Ure en ure se harde werk kon deur die lede bewonder word.  Hulle het die dames meer oor die stokperdjie vertel soos byvoorbeeld dat die lap altyd in duime gemeet word en nie in sentimeters  nie. Van die werk wat hulle uitgestal het was baie ingewikkeld en mens kan dit net baasraak na jare van oefen. Ander handwerk is ook uitgestal onder andere pragtige komberse wat deur Anna van Zyl gehekel en gebrei is. Erida van den Berg het die lede ‘n paar teemussies en patrone daarvoor, gewys sodat die dames geïnspireer kon word om een te brei vir die kompetisie hierdie jaar.

 

Issie van der Merwe het aan die lede “die loom” gedemonstreer (sien foto).  Dit werk soos ‘n reuse “tolletjie brei”, uit ons kinderdae, in verskillende groters en daar is selfs ‘n reghoekige een.  Sy het verskillende produkte wat daarmee vervaardig is vir die dames gewys soos byvoorbeeld ‘n pragtige kombers, serpe en kussingoortreksels. Issie sê dat dit nogal erg is as die gogga jou gebyt het, want al wat jy wil doen is “tolletjie” brei.


Laastens het die lede bietjie na die geskiedenis van weef gekyk. Dit is ‘n handwerkvorm wat stadig maar seker besig is om al minder gedoen te word… Spin en weef is so oud soos die mens self en dit is dus moeilik om te sê hoe die vaardigheid “uitgevind’ is. Dit word algemeen aanvaar dat die weefkuns uit die vlegkuns ontwikkel het. Prehistoriese mense het stokke in die grond gedruk en takke en grasse daardeur gevleg om ‘n stewige muur of heining te maak, om hulle teen wilde diere en die elemente te beskerm. Dalk het iemand op ‘n dag ontdek dat ‘n digte “mat” van dun riete of takkies ineengevleg met gras, ‘n kombers of mantel kan wees.

 

Hildegard van Zyl en Ivonne Fourie.

 

 

Die Looms waarmee grootmense tolletjie brei.

 

 

Lede is baie geinteresseerd in die produkte wat Issie van der Merwe, middel, met haar Loom gemaak het.

 

 

Lede bewonder die kwiltwerk.

 

 

Comments are closed

Categories