Posted on
30 June 2011
Portefeulje: Kuns & Handvlyt
Sowat twintig VLV lede van Orania tak het 'n praktiese kursus, aangebied deur Uysie Kirsten, bygewoon. Tydens die kursus het Uysie gedemonstreer hoe om geleentheidskaartjies te maak deur die beoefening van reliëfwerk. Sy het in Singapore haar opleiding ontvang en het haar kennis vryelik met ons gedeel.
Verskillende ponse word gebruik om blom- en blaardele uit gewone papier te pons. Elke geponste stukkie papier word individueel verwerk om uiteindelik deel te word van 'n volledige blom of takkie. Die geponste blomblaartjie word met 'n reliëfpen gepoleer - eers op 'n leerblad en daarna op 'n stewige sponsblad. Dit veroorsaak dat die papier krul en vorm aanneem. Die verskillende blaartjies word dan met gom aanmekaar vasgeplak, soms sommer vyf of ses bo-op mekaar, om een blom te vorm.
Die blomme word dan met silikoon op 'n voorbereide kaartjie in 'n mooi rangskikking vasgeplak, en met lintjies en blinkertjies getooi vir die finale afwerking.

