Beriggewer: Lorraine du Toit
VLV Bredasdorp vier op Saterdag, 23 Julie hulle 80ste verjaardag met ‘n swierige geleentheid op die plaas Nacht Wacht. Dames het van heinde en verre gekom om hierdie heuglike dag saam te vier – verskeie oud-lede het die dag bygewoon, sommige het van sover as Yzerfontein aan die Weskus gekom. Ons was ook bevoorreg om al die oorlewende oud-voorsitters by die geleentheid te hê.
Janie du Plessis, die gasspreker, het met haar eerlikheid diep in die harte van die gehoor geklim. Met die skets van haar lewensverhaal het sy by elkeen van die toehoorders iewers 'n sensitiewe raakpunt gekry en elkeen kon met 'n stadium in haar lewe identifiseer. Maar of jy nou die dogtertjie is wat soos in 'n droom met blink skoentjies in die rondte draai, en of jy die tiener met die gepunte haarstyl is, die televisie-aanbieder met die loslit-styl, die bruid wat in 'n vreemde land moet wortel skiet, die ma van twee seuntjies of 'n vrou met kanker is, Janie se raad was deurwinter: bly getrou aan jouself en behou die droom.
Die dag is gekenmerk met swier en styl en kon almal hulle verlustig in die pragtige saal, dekor, blomme en ook die smulkos wat voorgesit was. Verskeie gelukkige trekkings is ook die dag gedoen asook die trekking van die taklootjies waarmee lede so ywerig gewoeker het. Die eerste prys (‘n prima takbok geskenk deur John Albertyn) is gewen deur Piet Swart van Bredasdorp; die tweede prys (‘n naweek of mid-week by Valknes, Waenhuiskrans geskenk deur Ferdie & Marie Spamer) is gewen deur Graham Grebe van Goodwood; die derde prys (‘n naweek by Langrug Lodge geskenk deur Jenny Uys) is gewen deur Hilda Albertyn; en die vierde prys (‘n handgemaakte sement tuinpot geskenk deur Loui Burger) is gewen deur Mary-Ann Landers. Ons opregte dank aan ons donateurs wat dit moontlik gemaak het om hierdie pryse te kon oorhandig.
Die dag is afgesluit met ‘n lewendige vertoning van Bredasdorp se eie Idol, Luhann Groenewald. Hy het behoorlik die dames op hulle voete gehad. Sy innemende geaardheid het ook geen onderskeid getref tussen die jonges wat hom gewoonlik begroet en die ouer, meer volwasse gehoor by hierdie geleentheid nie. Hierdie jong man het ‘n spesiale talent en ons vertrou dat hy net van krag tot krag sal gaan.
Oor tien jaar maak ons beslis weer so!
.jpg)
Lorraine du Toit saam met Ere-lede, Magda Bellingan (voor) en Marie Spamer.
.jpg)
Lorraine du Toit (Voorsitter) en Hermien van Zyl (Overberg Sirkelpresident) klink ‘n glasie op Bredasdorp se 80 jaar.
.jpg)
Al die oud-voorsitters teenwoordig: vlnr Lorraine du Toit (huidige voorsitter), Ann Gunning, Ronel Swart, Cornelia van der Merwe en Marie Spamer.
.jpg)
Janie du Plessis, gasspreker en Luhann Groenewald, gaskunstenaar tydens die verjaardagviering op Nacht Wacht.