Posted on 22 August 2011

Portefeulje: Handvlyt
Beriggewer: Sue

 

VLV lid Celéste van Niekerk het gedemonstreer hoe om knie- en gooikomberse van snoesmateriaal ("fleece") te maak. Snoesmateriaal, wat ietwat wollerig vertoon, gee 'n beter resultaat as die wat heeltemal glad vertoon. 

 

Besluit op die mate van die kombers; voeg dan 24cm by aan albei sye - byvoorbeeld as jy op 1m by 1m besluit het, werk dan met 1.24m by 1.24m. Kies twee kleure materiaal wat goed saampas of 'n interessante kontras bied. 

 

Lê die twee stukke materiaal bo-op mekaar, met regte kante na buite. Steek die twee stukke materiaal opmekaar vas met spelde. Meet 12 x 12cm op elke hoek en knip die vier hoeke uit. Elke sy het nou 'n 12cm breë strook wat in vingers van ongeveer 3cm breedte, al langs die kant af gesny word. Sny deur albei stukke materiaal. Knoop elke paar vingers, een van elke kleur, aanmekaar vas. Probeer verskillende maniere om die knoop te maak, sodat byvoorbeeld óf die knoop self, óf die vingers die ander kleur vertoon. In plaas van knope maak kan jy 'n 1.5 tot 2cm gleufie langs die middel van elke paar vingers knip of sny, in lyn met waar die kombersgedeelte begin. Trek dan beide vingerpunte reg deur die gleufie en vou om vir 'n alternatiewe kleureffek.

Comments are closed

Categories